
Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Bidvest: Jy’s uitgesluit, want jy’s nie die ‘regte’ velkleur nie
Deur Charné Mostert
Oor die jare heen het dit die norm geword vir groot maatskappye wêreldwyd om beurse aan behoeftige studente en skoliere te bied. Hierdie tipe ondersteuning is nie net ’n belegging in talent nie, maar ook ’n daad van maatskaplike verantwoordelikheid – ’n poging om ongelykhede te help regstel en sodoende ’n beter toekoms te bou. In Suid-Afrika is dit ook die geval, maar met ’n voorbehoud: as jy wit is, is jy nie welkom nie.
Bidvest, die mees onlangse voorbeeld hiervan, het dít duidelik gemaak in hulle aansoekproses vir die 2026-beursprogram. Die aansoeke vir hierdie beursprogram is slegs oop vir studente van werknemers by Bidvest wat as swart, bruin of Indiër geklassifiseer kan word. Wit Bidvest-werknemers – ongeag hoe arm of verdienstelik – se kinders word eenvoudig uitgesluit.
Almal ervaar dieselfde ekonomiese druk
In praktyk beteken dit dat ’n wit werknemer wat minder as R15 300 per maand verdien, nie vir sy kind ’n beurs mag aanvra nie, al het hy presies dieselfde ekonomiese uitdagings as ander ouers met ʼn ander velkleur as wit. Finansies vir gehalte onderrig bly een van die grootste uitgawes vir enige gesin, en terselfdertyd is dit die sleutel tot opwaartse mobiliteit. Maar in hierdie geval is velkleur die verskil tussen hoop en uitsluiting.
Wat Bidvest vir swart kinders doen, is bewonderenswaardig. Maar wat hulle aan wit kinders doen, is rassisties. Daar is geen regverdiging vir die uitsluiting van kinders op grond van hul ras nie. Veral nie in ’n program wat juis armoede wil verlig nie.
Dis nie net onregverdig nie – dit is ook onwettig
Hierdie tipe uitsluiting staan in stryd met Suid-Afrikaanse wetgewing sowel as internasionale menseregte beleid.
- 1. Suid-Afrikaanse Grondwet: Artikel 9 van die Grondwet waarborg gelykheid en verbied onregverdige iskriminasie op grond van ras. Geen wet, ook nie die Wet op Gelyke Indiensneming of die Arbeidswet nie, laat toe dat werknemervoordele uitsluitlik op grond van ras toegeken word nie.
- 2. Verenigde Nasies se Konvensie oor die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie (CERD): Dié verdrag, wat deur Suid-Afrika onderteken is, verbied enige uitsluiting, beperking of voorkeur op grond van ras, ook in verband met toegang tot onderwys. Hoewel regstellende aksie toegelaat word, stel die VN dit duidelik: sodanige aksie mag nie nuwe vorme van uitsluiting of diskriminasie skep nie.
- 3. Aanbevelings van die VN: Die VN moedig aan dat regstellendeaksieprogramme op grond van klas- of behoefte moet geskied, en nie op rigiede rassekriteria nie. As ’n maatskappy reeds ’n inkomsteperk stel (soos Bidvest gedoen het), is daar geen regverdiging om verder met ras te diskrimineer nie.
Wanneer regstelling skade doen
Hierdie beleid deur Bidvest is nie net teenstrydig met die reg nie, dit is ook moreel en sosiaal gevaarlik. Dit skep nie versoening nie en breek vertroue af. Dit herstel nie onreg nie, maar skep net nuwe onreg. Dit bevorder nie inklusiwiteit nie en verhard skeidslyne. En dit vertel wit kinders uit arm huishoudings: “Julle swaarkry tel nie.”
Daar is ’n beter manier
Suid-Afrika het regstelling nodig. Niemand betwyfel dit nie. Maar regstelling mag nie blind wees vir menswaardigheid nie. Beurse behoort aan kinders wat dit regtig nodig het, nie aan kinders van ’n sekere velkleur nie. As ’n kind se ouer onder die minimum inkomstegrens val dan verdien hy of sy dieselfde kans, ongeag sy of haar velkleur.
Solidariteit het reeds formele stappe geneem om hierdie onreg teen te staan. Ons doen dit nie omdat ons teen regstelling is nie, maar omdat ons glo dat egte regstelling op geregtigheid berus, nie op rassisme wat as regstelling verbloem word nie.