loading
Artikels
1 dag gelede
die-gemeenskap-se-ons-sal-self

Foto Krediet: OkayDeer

Die gemeenskap sê: ‘Ons sal self’

Deur Kyla-Ann du Toit

In onsekere tye is daar een ding wat werklik ʼn blywende verskil maak: ʼn gemeenskap wat nie wag vir hulp nie, maar wat sélf iets doen. Dít is presies wat Solidariteit se Beskermingsplan beoog: om mense toe te rus om self te bou – vir hulself, hul families en hul nageslag!

Hoop en beskerming in onsekere tye

Dit is geen geheim nie – die toekoms van ons land en sy mense is onseker. Werk is skaars, die staat is nie meer ʼn betroubare bron van hoop nie en die ekonomiese omgewing raak al hoe moeiliker. Máár, hier is die goeie nuus: ons sit nie hande gevou nie – ons bou!

Solidariteit het ʼn plan van aksie bekendgestel om sy lede te beskerm – die Beskermingsplan. Hierdie program is op drie pilare ontwikkel: veg, bou en beskerm. Dit het ten doel om honderde duisende poste te beskerm en ʼn veilige hawe te bied vir mense wat deur regeringsbeleid benadeel word.

Dit is nie ʼn droom op papier nie. Dit is ʼn tasbare plan wat by jóú begin. Dit is ontwerp om mense te bemagtig en ʼn netwerk van ondersteuning te skep wat groei selfs wanneer alles rondom ons wankel.

Beskerming van inkomste: Jou werk is jou toekoms

Afrikaners is ʼn unieke en hardwerkende gemeenskap, maar ʼn kwesbare minderheid in Suid-Afrika. Met slegs sowat 5% van die totale bevolking, het ons spesiale beskerming en strukture nodig om tot die welvaart van ons gemeenskappe én die land by te dra. Solidariteit gaan nie wag dat die regering sy pligte nakom nie – ons gaan self ons kultuur beskerm.

In ʼn land waar ekonomiese groei wankel, die belastinglas ondraaglik raak, en staatsdienslewering daagliks verswak, is die beskerming van jou inkomste van kardinale belang. Solidariteit se Beskermingsplan bevat vier sleutels waarvan inkomstebeskerming een is. Hier is hoe die dit gaan werk:

  • ʼn Arbeidsregskletsbot: Solidariteit is besig om ʼn gevorderde arbeidsregskletsbot met behulp van kunsmatige intelligensie (KI) te ontwikkel. Dit is daarop gemik om lede met vinnige en veilige arbeidsregsadvies te bedien met die rugsteun van een van die grootste en beste arbeidsregsafdelings.
  • Solidariteit se beroepsnetwerke: Ons beroepsnetwerke help jou om werk te kry, jou beroep te beskerm en saam met ander te groei. Met die bekendstelling van Solidariteit se nuwe sosialemediaplatform sal hierdie netwerke jou nog makliker en vinniger met geleenthede verbind – plaaslik én internasionaal.
  • Grootskaalse werkfasilitering: Daar word geen rasvereistes vir poste op Solidariteit se werkfasiliteringsplatform geduld nie – slegs meriete tel. Teen die einde van 2025 gaan meer as 3 500 werkgewers op Solidariteit geregistreer wees. Internasionale werkgeleenthede sal ook aktief gefasiliteer word.
  • Belastinghervorming en -verligting: Ons veg dat burgers belastingaftrekkings kan eis wanneer hulle self instaan vir staatsfunksies. Solidariteit se Belastinggids kan jou help om jou belasting wettiglik te verminder – en sodoende jou inkomste te beskerm.
  • Waardevergelyking: Wat kry jy vir jou belasting? Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) werk aan ʼn verslag wat wys hoe min waarde Suid-Afrikaners uit hulle belasting ontvang. Hierdie verslag gaan wys hoe afhanklik die staat is van ʼn klein groep belastingbetalers en hoe min ons werklik terugkry.
  • ʼn Gemeenskapsekonomie wat mekaar versterk: Die uitbreiding van Solidariteit se platform tot ʼn volwaardige gemeenskapsekonomie gaan Afrikaners help om direk met mekaar handel te dryf, kleinsakeondernemings te groei en werk binne die gemeenskap te skep.
  • Beleggingsgeleenthede deur Kanton: Kanton gaan die publiek toelaat om in projekte soos die Akademia-kampus (ʼn R3,2 miljard-projek) en onafhanklike skole te belê. Hierdie projekte bied kulturele én finansiële opbrengste – dit is hoe ons ons toekoms self bou én beskerm.
  • Afrikanerdemografie-verslag: Die SNI stel in die laaste kwartaal van 2025 ʼn verslag oor die Afrikanerdemografie bekend. Deur te weet waar Afrikaners saamgetrek is, kan ons slim beplan – vir skole, veiligheid, hulpbronne en gemeenskapsontwikkeling. Dit is hoe ons uiteindelik doeltreffend kan groei.

Ons bou sélf ʼn hoopvolle toekoms

Dit is van kardinale belang dat ons as gemeenskap self ʼn toekoms vir ons en ons nageslag verseker sodat ons vry, veilig en voorspoedig kan voortleef. Hierdie beskermingsplan is ʼn plan vir jou kinders en húlle kinders. Dit is ʼn manier om te sê: Ons wag nie op die staat nie – ons bou self vir ons ʼn toekoms.

Solidariteit se Beskermingsplan is nie net ʼn teenvoeter vir verval nie – dit is ʼn toekomsplan vir hoop. Sluit vandag nog aan en bou saam aan díe toekoms!

Lees die volledige Beskermingsplan hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel