Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Gautengse skole in gevaar: Dit is tyd om ons skole en onderwysers te beskerm!
Deur Robin-Lee Maré
ʼn Nuwe verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het lig gewerp op ʼn krisis wat besig is om Gauteng se onderwysstelsel te verswelg. Sien volledige verslag hier.
Volgens die verslag is die staatsubsidie per leerder by kwintiel 5-skole met sowat 65% gesny – ongeveer R900 tot slegs R315. Hierdie drakoniese besluit beïnvloed meer as 750 skole en dreig om die gehalte van onderrig ernstig te verswak. Dit het ook ʼn reuse-impak op die werklading van onderwysers.
Eens selfstandige en goed funksionerende skole word nou gedwing om met bykans geen hulp van die staat te oorleef.
Sommige skole meld reeds aan dat hulle sukkel om basiese dienste soos water en elektrisiteit te betaal. Boonop word onderwysposte nou by baie van hierdie skole afgeskaf, wat veroorsaak dat klasgroottes tot oor die 40-leerdersmerk gestyg het.
Die gevolge is reeds sigbaar in agteruitgaande infrastruktuur, oorwerkte onderwysers, en ʼn stelsel wat nie meer sy eie administrasie kan vertrou nie.
Die probleem gaan egter dieper as net begrotingsyfers. Hierdie besnoeiings wys hoe kwesbaar skole geraak het in ʼn stelsel waar politieke besluite belangriker as die welstand van kinders weeg.
Hierdie “strafmaatreëls” geld vir skole waar die skoolfonds reeds gehef word en wat dikwels Afrikaanse skole is. Dit gebeur ook omdat die onderwysdepartement se finansiële bronne uitgeput is.
Wanneer die staat skielik sy hand onttrek, word gemeenskappe gelaat om self die laste te dra – sonder die beloofde middele of ondersteuning.
Tyd vir staatsbestandheid
Die SNI-verslag is ʼn duidelike wekroep: Ons skole moet teen die staat beskerm word.
Suid-Afrika het staatsbestande skole nodig – skole wat op hul eie bene kan staan, deur ouers, gemeenskappe en organisasies ondersteun word, en wat sterk kan bly staan wanneer beleide misluk en begrotings inmekaar tuimel.
Sulke skole bied nie net stabiliteit nie, maar gee onderwysers en leerders ʼn veilige omgewing waar hoëgehalte-onderrig en volhoubaarheid eerste prioriteit geniet.
Onderwys is te kosbaar om aan politieke willekeur oorgelaat te word. As ons nie nou optree nie, sal ʼn hele generasie kinders die prys betaal vir besluite wat nie in hul belang geneem is nie.
Jy kan help om skole teen die staat te beskerm en ʼn volhoubare toekoms vir onderwys te verseker.
Klik hier om skole te beskerm.