loading
avatar
Artikels
20 uur gelede
nuwe-definisie-maar-werkloosheid-in-sa-bly-n-groot-krisis

Foto Krediet: Pexels

Nuwe definisie, maar werkloosheid in SA bly ʼn groot krisis

Leré Nel

Statistieke SA (StatsSA) het onlangs die jongste werkloosheidsyfers uitgereik. Die amptelike koers het vir die eerste keer vanjaar in die huidige kwartaal gedaal – van 33,2% in die tweede kwartaal tot 31,9% in die derde kwartaal van 2025. Baie mense is egter skepties oor hierdie “daling” in werkloosheid.

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê dat hierdie nuwe manier om werkloosheid te meet nie ʼn wesenlike verandering is nie, en dat die daling in die amptelike syfer eerder as ʼn regstelling in die statistiek gesien moet word. Dit is egter nog steeds glad nie ʼn aanduiding van ekonomiese herstel nie.

“Die klassifikasiemetode het nie regtig soveel verander nie,” verduidelik Du Buisson. “StatsSA het slegs die vereistes vir mense in die informele sektor effens aangepas om ʼn meer akkurate prentjie te skets. Wat kommerwekkend is, is dat werkloosheid steeds, ten spyte van hierdie aanpassing, so hoog is.”

Die verandering spruit uit ʼn hersiening van hoe die informele sektor in die kwartaallikse arbeidsmagopname (QLFS) bereken word. In plaas daarvan om sekere kleinskaalse of ongeregistreerde aktiwiteite uit te sluit, word hierdie mense nou as werkend erken.

Du Buisson meen dat so ʼn klassifikasie wel regverdig is. “Iemand wat vetkoeke verkoop of deeltyds gras sny, is tog nie werkloos nie.”

Hy voeg by dat hy nie glo die aanpassing is bedoel om die werkloosheidsyfer beter te laat lyk nie, maar eerder om die werklikheid van oorlewingsekonomieë in lande soos Suid-Afrika te weerspieël. “In baie gemeenskappe is die informele sektor aansienlik groter as die formele sektor, dus maak dit nie sin om dit in statistieke buite rekening te laat nie.”

Die nuwe metodologie sluit ook die “potensiële arbeidsmag” in die werksmag in – mense wat nie tans werk het nie, maar wat beskikbaar is om te werk, selfs al het hulle nie onlangs aktief werk gesoek nie. Hierdie groep is voorheen uit die berekening van die arbeidsmag uitgesluit. Du Buisson verduidelik dat hierdie klassifikasie eintlik die amptelike werkloosheidsyfer sal verhoog, omdat die insluiting van hierdie mense die arbeidsmag in wese vergroot.

Met ander woorde: Al toon die jongste verslag ʼn effense daling in werkloosheid, wys die nuwe kategorieë eintlik hoe groot die groep mense is wat kán werk, maar nie geleenthede kry nie.

ʼn Mens kan ongelukkig nie ʼn daling van 1,3% as ʼn teken van herstel beskou nie. “ʼn kwartaallikse daling van 1,3% in werkloosheid is in elk geval nie buite die normale skommelings nie, so ek glo nie enigiemand sal dit regtig herstel noem nie. Herstel sou wees as ons aansienlike verbeterings in jeugwerkloosheid sien,” sê Du Buisson.

Hy beaam ook dat die sleutel tot ʼn werklike verlaging in werkloosheid altyd in ekonomiese groei sal lê.

Du Buisson sê ook dat hy redelik positief is: “Ons het in die mediumtermynbegrotingsrede gesien dat die skip stadigaan besig is om te draai. Eskom is aan die herstel en elektrisiteitsvoorsiening is stabiel. Transnet is ook aan die herstel. Nou moet die privatisering van spoorvervoer net harder gedryf word – dan kan ons uitsien na beter werkskepping.” Daar is natuurlik baie wat nog moet gebeur, maar al die bogenoemde is goeie tekens!

Ten spyte van die tegniese aanpassings en die paar tekens van ekonomiese vooruitgang wat ons kan sien, is die werklikheid dat miljoene Suid-Afrikaners steeds sukkel om werk te kry – veral jong mense. Jong mense tussen 15 en 24 het steeds die hoogste werkloosheidskoers teen 58,5%, terwyl dié tussen 25 en 34 op 38,4% staan – die hoogste in meer as ʼn dekade.

As jy minder as die gemiddelde persoon wil sukkel om werk te kry, skep vandag jou gratis profiel op Solidariteit Werk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel