Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Ná maande sonder salaris wen Solidariteit-lid saak oor onbillike ontslag teen Vrystaatse Onderwysdepartement
Deur Robin-Lee Maré
Geregtigheid het geseëvier vir ʼn voormalige werknemer van die Vrystaatse Departement van Onderwys wie se dienste op ʼn totaal onregverdige wyse beëindig is.
Op 21 Oktober 2025 het die Openbare Diens Sektorale Bedingingsraad in Bloemfontein beslis die departement se behandeling van me. Leanne Coetsee, ʼn administratiewe klerk by Unicom Primêr, onbillik en onregmatig was.
Dit is ʼn groot uitspraak vir Coetsee én vir Solidariteit, wie se litigant, mnr. Johan Barnes, lank reeds onderneem het om nie te rus voordat die saak nie afgehandel is nie.
Die uitspraak volg nadat Solidariteit namens Coetsee arbitrasie gevoer het oor haar onbillike ontslag, nadat die departement haar beveel het om huis toe te gaan oor ʼn beweerde “moratorium” op haar pos. Die raad het bevind dat geen bewyse van só ʼn moratorium bestaan nie, en het gelas dat Coetsee weer in haar pos aangestel moet word, asook R170 000 aan agterstallige salaris moet ontvang.
ʼn Lang stryd vir geregtigheid
Die saak het oor bykans twee jaar gestrek. Hoewel Coetsee amptelik deur die departement aangestel is, is sy kort daarna meegedeel dat sy nie mag werk nie weens ʼn sogenaamde moratorium op die pos. Sy het egter steeds vir maande by die skool gewerk sonder om enige vergoeding van die departement te ontvang. Die departement kon nooit dokumentasie of bewyse van die beweerde moratorium voorlê nie.
Volgens die arbitrasie-uitspraak was haar aanstelling geldig en regmatig, en het die departement deur sy optrede die diensverhouding beëindig sonder enige regverdigbare rede of behoorlike prosedure. Die kommissaris het bevind dat die departement se optrede op ʼn onbillike ontslag neerkom, en dat herindiensneming en vergoeding gepas is.
“Ek kon nie rus totdat reg geskied het nie”
Johan Barnes, litigant verbonde aan Solidariteit wat in die bresse vir die lid getree het, sê hierdie saak het hom persoonlik diep geraak.
“Me. Coetsee was sedert Februarie 2024 sonder ʼn salaris nadat die skool haar nie meer kon betaal nie. Ek het eenvoudig gevoel dat ek nie kan rus voordat daar nie reg geskied nie,” vertel Barnes.
Hy sê die proses was vol uitdagings en met min samewerking van die departement se kant.
“Wanneer jy maande lank aan ʼn saak soos hierdie werk en daar is geen terugvoer van die departement nie, voel jy soms moedeloos. Maar toe ek die blydskap in die lid se stem hoor toe sy hoor die saak was suksesvol, het ek net weer besef waarom ons doen wat ons doen.”
Oorwinning vir geregtigheid
Barnes beskryf die uitspraak as “ʼn oorwinning vir geregtigheid”.
“Die departement kon geen bewyse lewer van die sogenaamde moratorium op die pos nie, en die kommissaris het bevestig dat haar afdanking onregverdig was. Sy word nou weer in haar pos geplaas en kry vergoeding vir die tyd wat sy sonder ʼn salaris was.”
Hy sê hierdie uitkoms is nie net ʼn oorwinning vir een lid nie, maar vir elke werknemer wat glo hul regte tel.
“Vir ons as Solidariteit is dit nie net ʼn oorwinning op papier nie; dit is ʼn bevestiging van hoe belangrik dit is om ʼn mens se regte te beskerm. Wanneer ʼn lid onregverdig behandel word, staan ons saam totdat reg geskied.”
Solidariteit gee nie moed op nie
Die saak beklemtoon Solidariteit se toewyding om lede tot die einde toe by te staan, selfs wanneer sake jare duur en teenkanting groot is.
“Ons werk is nie altyd maklik nie,” sê Barnes. “Daar is lang dae, frustrasies en soms min samewerking van staatsinstellings. Ons het herhaaldelik probeer om terugvoer van die departement te kry, maar het telkens niks ontvang nie. Tog het ons volhard en die saak tot die einde gevoer.”
Hy voeg by hoe hierdie saak weereens wys hoekom Solidariteit se werk so noodsaaklik is.
“Dis in sulke oomblikke waar ek besef hoe belangrik dit is vir mense om by Solidariteit aan te sluit. Wanneer jy ʼn vakbond het wat agter jou staan, is jy nooit alleen nie. Solidariteit bly daartoe verbind om elke lid by te staan totdat geregtigheid geskied.”
Barnes sê hierdie uitspraak is nog ʼn bewys van hoe vasberadenheid, regverdigheid en volharding steeds seëvier teen burokratiese onreg.