loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
dankie-julle-is-die-hartklop-van-solidariteit

Foto Krediet: Solidariteit

Dankie! Julle is die hartklop van Solidariteit

Deur Leré Nel

Aan die einde van hierdie besige jaar wil Solidariteit ʼn oomblik neem om dankie te sê. Dankie aan elke lid, elke ondersteuner, elke gesin en elke werknemer wat hierdie gemeenskap se hart in 2025 laat klop het.

Wanneer ons terugkyk, sien ons meer as projekte of hofsake. Ons sien mense wat nie net kla nie, maar wat dóén. Mense wat saam bou, beskerm en veg vir hul kinders, hul beroepe en hul toekoms. Elke oorwinning wat Solidariteit behaal, elke instelling wat gebou word, en elke werk wat beskerm word, is moontlik gemaak deur jóú ondersteuning.

Solidariteit se hart klop nie in kantore of geboue nie – dit klop in ons mense. In die ambagsman wat met trots sy werk voltooi, die onderwyser wat leerders inspireer, die student wat ingeligte vrae vra, die ouer wat hoop vir sy of haar kind se toekoms, en die prokureur wat geregtigheid met ywer nastreef. Julle is die rede waarom ons elke dag met oortuiging kan sê: “Ons sal self.”

Saam het ons die volgende in 2025 bereik:

  1. 1. Internasionale druk en bewusmaking oor rassebeleid in Suid-Afrika

Solidariteit het nie een keer nie, maar twee keer die VSA besoek om die ANC se wanbeleid, rassewette en onteieningswette onder die internasionale kollig te plaas. Daar is geskakel met belangrike amptenare wat deel van die Trump-administrasie vorm om ʼn alternatiewe oplossing te probeer vind vir president Trump se invoertariewe wat ingestel is op Suid-Afrika.

  • • Die stryd teen rassediskriminasie

Soos altyd duur die stryd teen rassewette voort, en Solidariteit het in 2025 groot oorwinnings op hierdie front behaal. ʼn Voorbeeld is die saak van Alwyn Erasmus, ʼn Eskom-werknemer, wat nie vir ʼn bestuurspos oorweeg is nie bloot omdat hy blank is. Die hof het beslis dat Erasmus se regte deur Eskom se rassebeleid geskend is, en Eskom moes hom 18 maande se salaris as vergoeding betaal.

  • • Beskerming teen afleggings

Solidariteit het die huidige bloedbad van afleggings al van vêr af sien aankom en het proaktief opgetree deur ʼn grootskaalse werkbeskermingsplan te loods wat sy lede se werk en inkomste beskerm. Hierdie plan beskerm lede op vier fronte:

  • Beskerming teen diskriminasie (insluitend SEB en ander rasgebaseerde wetgewing wat werksgeleenthede bedreig)
  • Beskerming van opleiding: Die plan prioritiseer die behoud en uitbreiding van Afrikaanse opleiding, beroepsontwikkeling en voortgesette leer.
  • Beskerming van inkomste: Deur middel van regsaksies, die vestiging van eie instellings en strukture, en bystand waar lede se vermoë om inkomste te verdien bedreig word, help Solidariteit sy lede om hul inkomste teen drakoniese regeringsbeleid te beskerm.
  • • Solidariteit werk aktief daaraan om bande met internasionale vennote te versterk en druk op die regering uit te oefen om regverdige handel en gesonde beleid te bevorder. 

Solidariteit span saam met werkgewers en organisasies om sy lede van aflegging te beskerm. ʼn Groot oorwinning op hierdie front is behaal toe Solidariteit saam met Booysens Bore ʼn ooreenkoms kon bereik wat 65 werknemers van ʼn aflegging kon red ná die sluiting van die Beeshoek-myn.

  • • Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en Bela

Solidariteit het reeds in Mei 2024 hofstukke teen die NGV ingedien en die stryd teen hierdie onuitvoerbare wetgewing duur aktief voort. Alhoewel die Bela-wet nou van krag is, het Solidariteit druk op die regering uitgeoefen om riglyne uit te reik wat verseker dat daar limiete op die implementering van dié wet is en wat Afrikaans as onderrigmedium in skole beskerm.

  • • Die G20-massabesoek

Solidariteit het by 18 G20-lande se ambassades ʼn memorandum ingehandig om hulle te vra om druk op die ANC-regering te plaas om rassewette uiteindelik stop te sit. Al hierdie lande het die Verenigde Nasies se Konvensie 111 onderteken, wat hulle tot nie-rassigheid verbind.

Dankie dat jy saambou

Sonder elke lid en ondersteuner wat vierkantig agter ons staan, sou dit nie vir Solidariteit moontlik gewees het om hierdie jaar sy stem dik te maak in die howe, in werkplekke en selfs op die internasionale verhoog nie.

Daar is iets besonders aan ’n gemeenskap wat nie uit plig nie, maar uit oortuiging saamstaan. Saamstaan teen onreg. Teen moedeloosheid. Teen beleide wat nie net Afrikaners se werkgeleenthede nóú beïnvloed nie, maar ons kinders se toekoms in Suid-Afrika.

Dankie dat jy saamstaan. Dankie dat jy saambou. Solidariteit is dankbaar vir jóú.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel