Foto Krediet: ChatGPT | G20
Gekopieër
‘Vat SA vas oor ras,’ sê Solidariteit deur sy G20-massabesoek aan ambassades
Suid-Afrika moet as gasheerland van die G20-beraad verantwoordelik gehou word vir sy oortredings van internasionale konvensies oor rassediskriminasie, konvensies waartoe die land openlik verbind is.
Dit is die boodskap wat individuele verteenwoordigers van Solidariteit vandag aan elkeen van die G20-lidlande oorgedra het toe ʼn memorandum oor rassewette in Suid-Afrika by die ambassades van hierdie lande in Pretoria ingedien is.
Hierdie memorandum is ook aan die Europese Unie (EU) se afvaardiging na Suid-Afrika en die Afrika-Unie (AU) se kantoor in Suider-Afrika gestuur.
Elkeen van hierdie ambassades waarby besoek afgelê is, het deur die memorandum die versoek ontvang dat hul afgevaardigdes tydens die komende G20-besoek aan Suid-Afrika in November lig op dié rassewet-kwessie sal werp.
ʼn Beroep word op elkeen van hierdie invloedryke lande gedoen om hul eie verbintenis tot die Internasionale Konvensie oor die Uitskakeling van Alle Vorme van Rassediskriminasie (ICERD) te eerbiedig deur Suid-Afrika, as mede-ondertekenaar, vir sy verontagsaming van dié konvensie verantwoordelik te hou.
“As gasheer van die G20-beraad staan Suid-Afrika in die wêreldkollig. Ons glo nie G20-lidlande kan daarmee gemaklik wees dat Suid-Afrika deur sy regeringsbeleide ʼn oortreder van VN-konvensies is wat die ander lidlande onderteken het nie.
“Dit is presies wat Suid-Afrika deur sy meer as 140 rassewette doen. Die regering gebruik en verskerp beleid wat op grond van ras, eerder as klas, diskrimineer, sonder dat daar enige aanduiding van ʼn einddatum daarvoor is, óf dat die wetgewing enigiets regstel,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Hermann sê die G20-beraad is ook ʼn geleentheid waartydens ekonomiese samewerking, en die struikelblokke in die pad daarvan, in diepte bespreek kan word. In dié verband is Suid-Afrika se rasprogramme ʼn sogenaamde nie-tariefstruikelblok vir internasionale maatskappye wat hier wil sake doen.
Solidariteit hoop hierdie struikelblokke kan ook op die G20-agenda geplaas word.
Druk is dus nodig sodat hierdie rassebedeling tot ʼn einde kan kom om sodoende internasionale handel met Suid-Afrika te bevorder, maar ook om die lewens van alle Suid-Afrikaners te verbeter. Die gevolge van rassewette raak tans mense teen wie daar as lede van minderheidsgroepe in veral die arbeidsmark gediskrimineer word, maar ook ander landsburgers wie se lewensgehalte dramaties onder ʼn toenemend gebroke ekonomie ly.
Die ambassades waarby besoek afgelê is, is dié van Argentinië, Australië, Brasilië, China, Duitsland, Frankryk, Indië, Indonesië, Italië, Japan, Kanada, Mexiko, Rusland, Saoedi-Arabië, Suid-Korea, Turkye, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State van Amerika.
Sien die inhoud van die memorandum hier.