Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
‘RACE to the bottom’: Nuwe dokumentêr ontbloot Suid-Afrika se rasbedeling
ʼn Nuwe dokumentêr, RACE to the bottom, wat deur Solidariteit vrygestel is, ontbloot Suid-Afrika se rasbedeling.
Dit wys hoe Suid-Afrika die prys betaal vir ʼn rasse-ideologie wat nét die elite met politieke verbintenisse en vriendskappe bevoordeel.
Hierdie dokumentêr is deel van ʼn groot veldtog tydens die G20-beraad in Suid-Afrika, waardeur Solidariteit die land as die mees rasgereguleerde land ter wêreld ontbloot. Memorandums hieroor is reeds aan al die ambassades van die G20-lande oorhandig en reklameborde daaroor gaan op die roete na die G20-beraad in Johannesburg vertoon word.
Die dokumentêr vertel die waarheid oor die gebruik van raswette en hoe ʼn regering se obsessie daarmee Suid-Afrika lamlê.
Hierdie dokumentêr is vandag, 10 November, in ʼn rolprentteater in die Menlyn Park-winkelsentrum in Pretoria, bekendgestel en sal voortaan gratis op YouTube beskikbaar wees.
In onderhoude met ʼn paneel kenners, volg die dokumentêr die spoor vanaf 1994 toe ʼn post-apartheid Suid-Afrika met sy transformasieprojek en ʼn Grondwet wat nie-rassigheid beklemtoon, die wêreld aan sy voete gehad het. Ons sien dan hoe die rassepolitiek en -ideologie mettertyd sterk na vore tree, en hoe dit ingeskryf word in rigiede raswetgewing wat juis die idee van hierdie nie-rassigheid verraai.
Hiermee word ʼn ander storie vertel as dít wat die afgelope 30 jaar eensydig deur die ANC en sy mondstukke aan die wêreld vertel is.
Noudat die verteller van die verhaal nie meer net die regerende party is nie, kom die ware kleure van die transformasieprojek te voorskyn. RACE to the bottom vertel hoe rigiede raswette en -beleid versier is met mooi woorde soos gelykheid, regstelling of bemagtiging.
Dit wys hoe hierdie raswette verander het in voertuie vir korrupsie en gelei het tot totale wanorde en verval wat Suid-Afrika so leeggetap het dat hierdie beleide geen morele geloofwaardigheid of regverdiging meer oor het nie.
Kenners bespreek ook die ekonomiese prys wat Suid-Afrika betaal, en verduidelik die verband tussen kaderontplooiing, die verval van instellings en selfs staatskaping.
Uiteindelik is die dokumentêr ʼn tydige verskerping van Solidariteit se voortdurende stryd teen raswette in Suid-Afrika.
ʼn Produksiespan met jare se ervaring in die vervaardiging van dokumentêre het daarin geslaag om die produksie binne ʼn paar maande te voltooi – net betyds vir die G20-beraad, waarvan Suid-Afrika die gasheerland is.
Die wêreld se oë is op Suid-Afrika en sy regering gerig, en daar kan nie toegelaat word dat net die ANC-weergawe weereens vertel word nie. RACE to the bottom sal ná afloop van sy bekendstelling plaaslik en internasionaal so wyd as moontlik versprei word.