Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Geregtigheid ná vyf jaar: Solidariteit verhaal meer as R5,3 miljoen namens SAPD-lede
Deur Kyla-Ann du Toit
Solidariteit het ʼn beduidende oorwinning behaal toe drie SAPD-lede, Zuzette Spang, kaptein André Simpson en kaptein Rudolph Smith in hul poste herstel is, bykans vyf jaar ná hul onregmatige ontslag weens beweerde wangedrag.
Dié drie SAPD-lede is in 2021 ná interne dissiplinêre prosesse wat verband hou met beweerde wangedrag, ontslaan. Hulle het egter deurgaans volgehou dat hul ontslag onregverdig en prosedureel foutief was.
Gevolglik moes hierdie lede jare se swaarkry verduur alvorens geregtigheid – wat die terugbetaling van jare se salarisse ingesluit het – uiteindelik geskied het.
Die saak is deur Solidariteit by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) aanhangig gemaak, waar Andries Herbst, organiseerder van Solidariteit se openbare sektor, namens die lede opgetree het. Solidariteit het aangevoer dat die dissiplinêre proses gebrekkig was, dat prosedures nie korrek gevolg is nie, en dat die SAPD se besluit onbillik was, omdat die bewyse nie die ontslag geregverdig het nie.
Tydens die KVBA-verrigtinge het dit duidelik geblyk dat daar geen bewyse bestaan het dat die drie lede skuldig was aan enige van die klagtes nie. Die SAPD se eie getuie het bevestig dat die lede nooit vir enige van die bewerings ondersoek is nie en dat die klagtes teen hulle “geen water dra nie”.
Die getuie het erken dat die klagtes foutief en verkeerdelik aanhangig gemaak is, en dat die voorsitter van die dissiplinêre verhoor bevooroordeeld was, aangesien hy self onder dissiplinêre ondersoek gestaan het, maar tog voortgegaan het om die verhoor te lei.
Volgens die getuie moes die drie lede nooit afgedank gewees het nie – ʼn erkenning wat die kern van Solidariteit se argument versterk het.
Ná ʼn lang regsproses het kommissaris Stapelberg van die KVBA in Pretoria uiteindelik ʼn uitspraak ten gunste van Solidariteit en die drie lede gelewer. Die kommissaris het bevind dat die SAPD onregverdig opgetree het, dat die ontslag prosedureel en substantief onbillik was, en dat die drie lede met onmiddellike effek heraangestel moet word.
Verder het die KVBA bepaal dat die SAPD ʼn volledige terugwerkende salaris aan elk van die lede moet uitbetaal, wat gesamentlik meer as R5,3 miljoen beloop.
Volgens Renate Pieterse, koördineerder van die openbare sektor by Solidariteit, is hierdie uitspraak ʼn kragtige bewys dat volgehoue en toegewyde vakbondverteenwoordiging ʼn tasbare verskil maak.
“Die waarde van hul goeie name wat in ere herstel is, en die feit dat hulle weer vir hul gesinne kan sorg en hul geliefdes sonder skaamte in die oë kan kyk, is van onskatbare waarde,” sê sy. “Hierdie uitspraak gee my hoop en nuwe betekenis aan ons werk by Solidariteit.”
Herbst sê hierdie saak lê hom persoonlik na aan die hart, omdat hy oor twee jaar saam met die drie lede gewerk het tydens hul stryd om geregtigheid.
“ʼn Mens dink die effek van onregverdige ontslag is beperk tot die persoon self, maar die rimpeleffek is enorm,” sê hy. “Hulle het hul menswaardigheid verloor, is gebrandmerk en moes elke dag met daardie stigma saamleef, terwyl hulle onskuldig was. Ek het dikwels self in die aande wakker gelê en dink oor wat hulle moes deurgaan en is net dankbaar dat die kommissaris die onreg kon insien wat hierdie mense in hierdie hele proses aangedoen is.”
Hy voeg by dat die lede die geld as ʼn bysaak beskou en dat hul grootste oorwinning die herstel van hul reputasie en waardigheid is. Die uitspraak is ʼn finansiële én morele oorwinning.
Solidariteit beskryf die beslissing as ʼn oorwinning vir geregtigheid, meriete en billikheid binne die openbare sektor, en ʼn bewys dat die organisasie nie huiwer om vir sy lede op te staan waar prosedurele onreg plaasvind nie.
Klik hier om vandag nog by Solidariteit aan te sluit en word in jou werkplek beskerm!