Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
14 uur gelede
solidariteit-en-dkd-vandag-in-arbeidshof-oor-mangaung-werkers

Fotokrediet: OkayDeer

Solidariteit en DKD vandag in arbeidshof oor Mangaung-werkers

Solidariteit is vandag in die arbeidshof vir ʼn dringende aansoek teen die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) om die bestaande hofbevel oor die werknemers van die Mangaung- korrektiewe sentrum af te dwing, terwyl talle werknemers steeds op erkenning van hul diens, vergoeding en voordele wag.

“Hierdie werknemers wag reeds maande op sekerheid en inkomste. Hulle kan nie aanhou om die prys vir uitgerekte prosesse en versuimde optrede te betaal nie. Ons nader die hof vandag met ʼn dringende aansoek omdat ʼn werkbare oplossing eenvoudig nie gerealiseer het nie,” sê Theunis van Staden, koördineerder van die openbare sektor by Solidariteit.

Die arbeidshof het reeds op 30 April 2026 beslis die oorname van die Mangaung- korrektiewe sentrum bring ʼn oordrag ingevolge artikel 197 van die Wet op Arbeidsverhoudinge mee. Die DKD se poging om die uitvoering van dié bevel te laat opskort, het misluk. Op 17 Augustus het die hof ook die DKD se aansoek om kondonasie en verlof tot appèl van die hand gewys. Die DKD volg nou ʼn verdere appèlstap oor die weiering van kondonasie, waarvan die uitwerking een van die kwessies voor die hof is.

“Intussen wag talle werknemers wat op 1 Julie vir diens aangemeld het steeds op erkenning van hul diens, gereelde vergoeding en voordele. Die gevolge hiervan is nie bloot administratief nie. Gesinne het dringend hulp met kos en ander basiese behoeftes nodig, terwyl die onderbreking van mediese dekking vir sommige werknemers ernstige risiko’s inhou,” sê Van Staden.

Solidariteit het herhaaldelik probeer om ʼn praktiese oplossing te bereik. Die vakbond het die minister van korrektiewe dienste, dr. Pieter Groenewald, reeds op 28 Julie oor die geraakte werknemers genader. Op 25 Augustus het Solidariteit die minister en die nasionale kommissaris skriftelik om antwoorde op ses spesifieke vrae en ʼn vergadering met gemagtigde amptenare versoek. Geen inhoudelike antwoorde of vergadering het gevolg nie.

Solidariteit se prokureurs het die DKD op 4 September formeel aangemaan en tot 8 September tyd gegee om hom tot implementering te verbind. Die DKD het ontvangs erken, maar nie aan die eis voldoen nie. Solidariteit het gevolglik op 9 September sy dringende hofaansoek ingedien.

Die DKD het aangedui hy sal die aansoek teenstaan, maar het versuim om sy antwoordende eedsverklaring teen die vasgestelde sperdatum in te dien. Eers op 17 September het sy prokureurs ʼn uitnodiging tot onderhandeling gestuur, sonder ʼn vasgestelde vergaderdatum of konkrete onderneming oor die erkenning en betaling van Solidariteit se lede.

Solidariteit het op 20 September sy bereidwilligheid bevestig om met gemagtigde verteenwoordigers oor die praktiese uitvoering van die bevel te vergader. Daar kan egter nie langer van die werknemers verwag word om nóg langer onbepaald te wag nie.

Volgens inligting wat Solidariteit se regspan ontvang het, is die DKD se omvangryke antwoordende stukke eers omstreeks middernag aan hulle verskaf – enkele ure voor vandag se dringende verhoor. Die DKD vra ook die hof om die laat indiening van sy antwoord toe te laat. Die hof sal oor die prosedurele gevolge hiervan beslis.

“ʼn Staatsdepartement wat maande lank nie die werknemers se posisie oplos of op ʼn konkrete implementeringseis reageer nie, en dan sy hofstukke enkele ure voor ʼn dringende verhoor verskaf, behandel hierdie mense en die hofproses met ʼn kommerwekkende gebrek aan erns,” sê Van Staden.

“Die DKD se optrede wek ernstige vrae oor sy benadering tot die hofbevel en die nood van die werknemers. Hierdie optrede getuig van minagting vir hofbevele, hofprosesse en die oppergesag van die reg in die geheel. ʼn Staatsorgaan behoort die voorbeeld te stel met die nakoming van hofbevele en openhartige optrede teenoor die mense wat daardeur geraak word.”

Solidariteit vra die arbeidshof vandag om die praktiese uitvoering van die bestaande bevel te verseker en gepaste regshulp ten opsigte van diensvoortsetting, vergoeding en voordele te verleen. Solidariteit sal die hof se hantering van die laat indiening van die hofstukke en die daaropvolgende verrigtinge respekteer.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel