
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Opleiding – die skild waarmee Solidariteit jou werk beskerm
Deur Leré Nel
Terwyl nuusopskrifte vol politieke en ekonomiese onsekerheid is, kyk ons verder na die blink liggies in ons kinders se oë. Wat regtig saak maak, is dat elke kind toegang het tot gehalte onderrig in Afrikaans, sodat hulle kan leer, droom en uiteindelik ʼn lewe bou waar hulle hul plek in ons land kan volstaan.
As deel van die groter Solidariteit Beskermingsplan, lê die opleidingskild ʼn fondasie vir die beskerming van opleiding in Afrikaans. Wanneer ons Afrikaanse skole, leerplatforms en ondersteuningsnetwerke bou, lê ons baksteen vir baksteen ʼn pad na volhoubare, kwaliteit onderrig en ʼn uiteindelike voorspoedige toekoms van werk.
Hoekom fokus ons op opleiding?
Opleiding en voortgesette leer is nie net hóé jy ʼn werk kry nie, dit is die sleutel om jou werk te behou, en om bevorder te word en verhogings te kry. Ons weet ook almal dat moedertaalonderrig ideaal is.
Hoe lyk Solidariteit se opleidingskild?
- 1. ʼn Nuwe Afrikaanse skool in Pretoria
Die bouplanne vir fase 1 van Pretoria Gimnasium word op 1 Julie 2025 ingehandig – en dan begin ons bou! Hierdie gaan ʼn wêreldklas onderwysinstelling wees waar kinders in hul moedertaal kan leer en groei.
- 2. Sol-Tech se kapasiteit sal vergroot word
Sol-Tech se werkwinkelkapasiteit gaan vergroot word, en daar gaan ook ʼn vaktoetssentrum, koshuise en sportgronde vir Sol-Tech gebou word.
- 3. Bo-Karoo Opleiding
ʼn Nuwe kampus, nuwe werkwinkels, en nuwe studentebehuising is alles in die nabye toekoms vir BKO. Die proefplaas vir landboustudente word ook verder uitgebrei. Hierdie is opleiding wat grond vat – letterlik!
- 4. Helpende Hand se eerste voljaar-opleiding vir tuisversorgers
In 2026 begin Helpende Hand se opleidingsinstituut sy eerste volwaardige versorgers oplei – mense wat met deernis en kundigheid ons gemeenskappe versterk.
- 5. Akademia se kampusse blom
Op Akademia se Pretoria-kampus word die grond nou gebreek, terwyl die Paarl-kampus ook binnekort sy deure oopmaak. Hierdie is tersiêre onderrig op wêreldvlak – in jou taal, vir jou toekoms.
- 6. Wolkskool
Solidariteit werk nou saam met die Wolkskool om kwaliteit moedertaalonderrig en ekstra hulpbronne vir almal toeganklik te maak.
Opleiding is ons grootste sekuriteit vir die toekoms
Opleiding is waar ʼn suksesvolle loopbaan begin. En Solidariteit sê: ons los dit nie vir iemand anders om ons kinders op te lei nie. Ons bou sélf Afrikaanse skole, universiteite en opleidingsinstellings.
Wanneer jy by Solidariteit aansluit, sluit jy aan by ʼn gemeenskap wat weet dat kennis mag is – en dat dié mag jou toekoms beskerm.
Of jy nou self wil leer, jou kind wil help leer, of bloot in ʼn gemeenskap wil leef waar daar werklik groei en vooruitgang is – Solidariteit se opleidingsinisiatiewe is daar vir jou.
Die storm is op pad, maar ons bou skuilings tussen die skoolbanke en tussen die mure van BKO, Akademia en Sol-Tech. Jou lidmaatskap help nie net om jou werk te beskerm nie – dit help om toekomstige generasies se toekoms hier op Afrika se bodem te verseker. Sluit hier aan en raak betrokke by die bouplan van hoop!
Lees die volledige Beskermingsplan hier.