loading
Artikels
1 dag gelede
die-internasionale-skild-hoop-wat-suid-afrika-op-koers-hou

Foto Krediet: Solidariteit

Die internasionale skild: Hoop wat Suid-Afrika op koers hou

Deur Ané Janse van Rensburg

Internasionale verhoudinge is nie meer ’n bonus vir ʼn land om te floreer nie – dis ’n fondasie vir groei, geleenthede en sekerheid. Wanneer dié basis begin krake wys, staan Solidariteit sy man met planne en strategieë in plek wat weer hoop in die oë van Suid-Afrika se kinders sit!

Ons weet hoop lê nie net in self doen nie, maar ook in saam doen, in samewerking met internasionale vennote wat glo in regverdigheid en meriete.

Solidariteit se internasionale skild is een van die vier skilde in Solidariteit se Beskermingsplan wat lede help om hul werk, inkomste en toekoms te beskerm; nie net teen plaaslike onreg nie, maar ook teen die gevolge van ’n buitelandse beleid wat besig is om te verbrokkel. Hierdie skild is ’n strategie van invloed, skakeling en volgehoue druk – en dis alreeds in plek.

Die Suid-Afrikaanse regering se beleid word al hoe meer ideologies, met sektorale teikens, rasfondse en streng demografiese kwotas wat maatskappye dwing om sekere persone aan te stel of af te dank op grond van hulle ras. Volgens Solidariteit se navorsing gaan sowat 70 000 wit mans en meer as 110 000 vroue van alle rasse hul werk verloor indien die teikens in werking tree.

Hierdie beleid is nie net teen die gees van die Grondwet nie. Dit is ’n aanslag op werklike ekonomiese groei. Dit het reeds tot groter armoede, hoër werkloosheid en toenemende ongelykheid gelei, selfs onder dié wat dit veronderstel is om te bevoordeel. Dit is nou duidelik: hierdie beleid werk nie en daarom moet dit stopgesit word.

Solidariteit wil nie net die regering plaaslik tot verantwoording roep nie, maar wil ook internasionale gemeenskappe mobiliseer ten gunste van regverdigheid en meriete in Suid-Afrika.

1. Klagtes by internasionale liggame

Solidariteit het klagtes by die Verenigde Nasies en die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) ingedien. Dié klagtes vra vir spesiale ondersoeke, rapporteurs en mediasie – sodat die wêreld se lig helder op Suid-Afrika se rassewetgewing kan val. In 2025 het Solidariteit verdere klagtes ingedien na die regering hofbevele blatant geïgnoreer het.

2. Diplomatieke skakeling

Solidariteit voer gesprekke met G20-lande, Europese regerings en die VSA, met die doel dat hulle druk op Suid-Afrika kan plaas en om bilaterale ooreenkomste te sluit. ’n Opvolgtoer na die VSA in September 2025 bou op vroeëre sukses om die behoud van Agoa-voordele vir Suid-Afrika te help verseker – voordele wat tienduisende werksgeleenthede dra.

3. Bande met Afrika

In November 2025 loods Solidariteit ’n skakeltoer na Afrika-lande. Afrika is besig om te groei en daardie groei het vaardighede nodig. Solidariteit bou verbindings wat Afrikaners toegang gee tot werk, sakegeleenthede en vennootskappe in lande wat nie vasgevang is in ideologiese verdeeldheid nie, maar wat glo in ontwikkeling.

4. Deelname aan die G20-beraad

Suid-Afrika se binnelandse en buitelandse beleid plaas die land op ’n gevaarlike pad. Tydens die G20-beraad tree Solidariteit na vore om die wêreld te wys watter impak Suid-Afrika se beleid op ekonomiese groei en menseregte het. Ons vra vir internasionale druk om eiendomsreg te beskerm, minderheidsregte te verseker en rassewette uit te faseer.

Suid-Afrikaners kan nie langer bekostig om die wêreld as vyand te hê nie. Solidariteit se internasionale skild sorg dat, selfs al versuur diplomatieke verhoudinge op regeringsvlak, die regte stemme steeds gehoor word. Dit bring hoop: hoop vir ons lede, vir werksgeleenthede, en vir ’n Suid-Afrika wat weer op koers kom.

Hierdie skild is nie ’n akademiese poging nie. Dis praktyk in aksie! Dis hoop wat sigbaar word – in gesprekke, in klagtes, in diplomasie, en uiteindelik in die beskerming van ons mense se werk. Hierdie internasionale skild sê aan ons lede: Jy staan nie alleen nie.

Saam, nasionaal én internasionaal, bou ons ’n toekoms.

Die internasionale skild is deel van Solidariteit se groter Beskermingsplan; een wat veg teen onreg, bou aan instellings, en mense beskerm teen risiko’s wat hulle nie alleen kan dra nie.

Wanneer die regering met ons toekoms speel, staan ons saam met vennote wat weet: meriete, vryheid en regverdigheid is universele waardes. Die storm mag woed, maar met dié skild hou ons koers.

Sluit aan en wees deel van ’n beweging wat plaaslik én internasionaal hoop skep!

Lees die volledige Beskermingsplan hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel