Foto Krediet: Verskaf: Voortrekkermonument
Gekopieër
ʼn Boeremark by die Voortrekkermonument: Kom vier jou erfenis!
Deur Kyla-Ann du Toit
Wat kry jy as jy die Voortrekkermonument, honderde Afrikaners en die lekkerste boerekos op een plek bymekaarbring? Ja, jy het reg geraai! ʼn Splinternuwe boeremark skop Saterdag 25 April by die Voortrekkermonument af.
Dié boeremark dien nie net as ʼn kuiergeleentheid nie, maar ook as ʼn viering van erfenis en die landbougemeenskap. Dit is ʼn inisiatief van die Kultuurtuiste en Saai en beloof om besoekers nader aan hul kos én hul kultuur te bring. Hier gaan jy nie net vars produkte kry nie, maar ook die stories daaragter.
Volgens Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder van Saai, lê die waarde van die mark juis in die direkte skakel tussen die boer en die verbruiker.
“Ons wil hê boere, wat tans onder geweldige druk verkeer, moet meer vir hul produkte kry, terwyl verbruikers minder betaal. Deur die middelman uit te skakel, plaas ons die menslikheid terug in kos,” sê hy. “Die koper kry die geleentheid om die boer in die oë te kyk, hul storie te hoor, en ʼn gesig aan ʼn produk te koppel. Só word verhoudings gebou waarin almal as wenners wegstap.”
Die tydsberekening van dié mark is geen toeval nie. Boere staar tans talle uitdagings in die gesig soos stygende insetkoste, markonsekerheid en ʼn bek-en-klouseer-uitbreking. Hierdie boeremark bied dus ʼn heerlike oggend vir die gemeenskap en is ʼn broodnodige afsetpunt vir produsente.
Vir dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, gaan dit oor veel meer as net handel. “Boere is nie net die lewensaar van ons ekonomie nie, maar ʼn onlosmaaklike deel van ons erfenisverhaal. Met ʼn boeremark by die Voortrekkermonument vier ons geskiedenis én kultuur. Bowenal vier ons die vrug van elke boer wat in die ongenaakbare Afrika-son swoeg om kos op ons tafels te plaas.”
Die belangstelling in die mark spreek reeds boekdele, met bykans 100 stalletjies wat vooraf bespreek is. Besoekers kan uitsien na alles van heerlike tuisgebak en vars produkte tot klere, vellies en plante – alles in ʼn unieke atmosfeer onder die ikoniese amfidakke van die Voortrekkermonument.

Die grootste trekpleister is egter dalk die gevoel van gemeenskap. Die organiseerders wil die mark vestig as ʼn familievriendelike kuierplek waar oud en jonk kan saamkom, stories kan deel en die eenvoudige plesier van goeie kos en geselskap kan geniet.
En dit is net die begin! Die langtermyndroom is om die mark uit te brei tot 300 stalletjies en dit in ʼn volwaardige gemeenskapsfees te omskep.
As dit jou nie opgewonde maak nie, weet ek nie wat sal nie!
Moet dus nie hierdie geleentheid misloop nie! Kom kuier Saterdag 25 April 2026 vanaf 06:00 saam by die Voortrekkermonument se heel eerste boeremark en ervaar sélf die begin van iets besonders.