Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Formidabele Polisievrou Reneé Fick Se Verstommende Pad Na Geregtigheid
Deur Robin-Lee Maré en Pieter Jordaan
Vir nagenoeg vier dekades was Reneé Fick ʼn baken van stabiliteit in die Wes-Kaapse polisiediens. Sy was ook ʼn toonaangewende figuur.
As adjunk- provinsiale kommissaris verantwoordelik vir batebestuur, was sy ʼn gerespekteerde rentmeester van ʼn nasionale hulpbron en het sy respek afgedwing as iemand by wie, so sê hulle, nie eers “ʼn pie en ʼn Coke” op polisie-onkoste sou verbyglip nie.
Tog, wanneer afgetrede genl.maj. Reneé Fick ʼn vertrek binnestap, dra sy haarself met ʼn stille en beskeie waardigheid. Netjies geklee, haar woorde sorgvuldig gekies en haar gedrag onberispelik.
In haar uniform, vertel sy later, het dit altyd gevoel asof sy selfs nóg regopper geloop het.
Vandag is sy afgetree ná 42 jaar in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), maar haar verhaal leef voort as een van beginselvastheid, moed en volharding.
Dit is wat dit gekos het nadat sy enkele jare voor haar aftrede op ʼn kwaadwillige wyse afgedank is omdat sy nie bereid was om haar blind te hou vir ʼn hooggeplaaste beampte se magsmisbruik nie.
Solidariteit het onlangs met Reneé in Bellville ontmoet om haar storie te hoor. Sy praat kalm en sonder bitterheid, maar met die selfvertroue van iemand wat weet wie sy is, waarvoor sy gestaan het, en waarvoor sy steeds staan.
“Ek het in ʼn polisiehuis grootgeword,” vertel sy. “Ek wou nog altyd ʼn polisievrou wees. In daardie dae was daar nie eintlik plek vir vroue in die polisie nie, maar ek het geweet dis wat ek wou doen.”
Sy het op slegs 17-jarige ouderdom by die polisiediens aangesluit.
“Jy kry mense wat gebore is vir polisiëring en om mense só te dien. As jy nie daarvan hou om mense te help nie, gaan dit nie uitwerk nie. Ek het nog altyd daarvan gehou om mense te help.”
Ná haar polisiekollege-dae, is sy na die Wynberg-polisiestasie gestuur. In dieselfde jaar is sy tot sersant bevorder voordat haar loopbaan haar later na Muizenberg en uiteindelik verskeie senior bestuursposisies sou neem.
Vir 38 van haar 42 diensjare het sy bestuursposisies beklee. Oral waar sy gewerk het, is sy vir haar dissipline, betroubaarheid en noukeurige finansiële bestuur geloof. Met haar uiteindelike aanstelling in ʼn senior finansiële posisie in die Wes-Kaapse polisie het sy gereeld erkenning van die nasionale hoofkantoor ontvang vir die hoë standaarde wat sy gehandhaaf het.
“Ek was nog altyd trots op my beroep,” sê sy. “Dit is ʼn edele beroep wat respek verdien.”
Maar die laaste hoofstuk van haar loopbaan sou haar deur een van die moeilikste tye van haar lewe neem, toe haar integriteit bevraagteken is en polisie-integriteit klaarblyklik in vryval was.
Toe die wolke begin saampak
Volgens Reneé het sy veral in 2016 opgemerk hoe die kultuur binne sekere dele van die SAPD onder nuwe leierskap begin verander.
“In my laaste jare het dit vir my gevoel asof daar mense was wat die SAPD bestuur het asof dit hul eie maatskappy was. Daar is lojaliteit teenoor individue eerder as teenoor die gemeenskap verwag.”
Sy het gedrag opgemerk wat na interne magspeletjies begin lyk het. Sy het ook waargeneem hoe daar meer na binne gekyk en op kollegas gespioeneer is as wat daar na buite gekyk is om die publiek te dien, soos dit hoort.
In November 2017 het sy onverwags twee kennisgewings ontvang oor die verplasing van bekwame senior beamptes wat aan haar gerapporteer het. Die dokumente is eenvoudig op haar lessenaar neergesit.
Verskeie aspekte van die verplasing het haar onmiddellik gepla: Die voorgestelde verplasings is nooit met haar bespreek nie; ervare beamptes is uit sleutelposte verwyder; die nuwe poste het nie by die beamptes se kwalifikasies gepas nie; en gevestigde prosedures vir verplasings is eenvoudig geïgnoreer.
Die oënskynlike regverdiging was ʼn begeerte om die kantoor te “transformeer”.
As verantwoordelike bestuurder het sy hierdie bekommernisse onder die aandag van haar provinsiale hoof gebring.
“Ek het gedoen wat enige bestuurder behoort te doen en versoek dat die verplasings heroorweeg word.”
Daardie besluit sou egter verreikende gevolge hê.
Kort daarna is sy van wangedrag beskuldig weens haar versuim om ʼn opdrag uit te voer. Sy het ʼn waarskuwing ontvang wat sy moes onderteken.
“Ek het gesê ek sou teken vir ontvangs, maar ek kon nie skuld beken op iets wat ek nie gedoen het nie.”
Die saak het toe tot ʼn tugverhoor geëskaleer.
Wat gevolg het, verbyster haar steeds.
“Tydens getuienis het almal getuig ek doen my werk. Tog is daar uiteindelik besluit ek is onrehabiliteerbaar en moet ontslaan word.”
Op 11 Mei 2018 is genl.maj. Fick ná byna vier dekades diens uit die SAPD ontslaan.
“Ek het in al my jare nog nooit ʼn waarskuwing of dissiplinêre aanklag ontvang nie.”
Die nuus het boonop landswyd in koerante verskyn.
“Dit het ʼn geweldige emosionele impak op my en my gesin gehad. My kind was op hoërskool en die mense hier rond weet wie ek is. En natuurlik, met al die polisieskandale op koerantvoorblaaie, was mense vinnig om te dink: sy is toe óók so.
“Ek moes my motor verkoop. Finansieel was dit ʼn groot slag. Skielik het ons nie meer mediese dekking gehad nie en in daardie einste jaar het my man ook ʼn hartaanval gehad.”
As hoofbroodwinner in die huishouding moes sy verskeie moeilike besluite neem.
Solidariteit stap saam
Dit was in hierdie donker tyd wat Solidariteit by Reneé se saak betrokke geraak het.
Wanneer sy oor die ondersteuning praat wat sy van Solidariteit ontvang het, verander haar stemtoon merkbaar om klem op ʼn diepe waardering te plaas.
“Die mense van Solidariteit was ongelooflik toegewyd en kundig,” sê Reneé en verwys veral na Ronel Stander asook Ettienne Pio, onderskeidelik ʼn organiseerder en ʼn litigant verbonde aan Solidariteit.
“Ettienne is baie goed in wat hy doen. Toe die arbitrasie begin het, het ek weer soos ʼn mens begin voel.”
Volgens haar het die professionele wyse waarop die saak deur Solidariteit voorberei en aangebied is, die verloop van die verrigtinge merkbaar beïnvloed. Dit was in skrille kontras met die gebrek aan diepte in die SAPD-verteenwoordigers se argumente.
“Die manier waarop hy vrae gevra het, het die SAPD se kaartehuis sommer dadelik laat ineenstort. Niks is onaangeraak gelaat nie.”
Vir Reneé het die ondersteuning veel verder as regsverteenwoordiging gestrek en sy sonder dit spesifiek uit.
“Die geestelike aspek was vir my baie belangrik. Hulle het saam met my gebid. Hulle het my geglo. Daardie vertroue het my deur baie moeilike tye gedra,” sê sy.
Geregtigheid herstel meer as net ʼn loopbaan
In Maart 2019 het die bedingingsraad vir die veiligheid- en sekuriteitsektor in genl.maj. Fick se guns beslis. Haar ontslag is onbillik verklaar. Die SAPD is gelas om haar onmiddellik weer in haar pos aan te stel. Sy is ook terugwerkend vergoed vir die byna jaar lange tydperk wat sy sonder werk was – ʼn aansienlike eenmalige bedrag wat volgens Reneé broodnodig was om van die skade wat in daardie tyd veroorsaak is, te herstel.
Vir baie mense was dit die einde van die verhaal, maar vir Reneé het dit iets meer beteken.
“Baie mense het gesê ek sou nooit teruggaan werk toe nie, omdat ek te trots is, maar vir my beteken trots iets anders.
“Ek wou mense in die oë kyk. Ek wou wys ʼn mens hoef nie jou kop te laat sak as jy niks verkeerd gedoen het nie,” sê sy.
Haar terugkeer werk toe het, volgens haar, ʼn boodskap aan talle ander SAPD-lede gestuur.
“Dit het gewys so iets kan met enigeen gebeur. Dit het ook gewys niemand is onaantasbaar nie. Ek het dus besef dit was nodig dat ek moes terugveg namens diegene wat agtergebly het.”
ʼn Lewe van diens
Vandag geniet Reneé haar aftrede. Die uniforms, vergaderings en bestuursverslae lê agter haar.
Wat egter bly staan, is haar reputasie as ʼn vrou wat haar hele loopbaan lank aan dissipline, integriteit en diens aan die gemeenskap geglo het.
Haar besluit om nie in ʼn hoekie te gaan wegkruip toe haar naam deur die modder gesleep is nie, het voortgespruit uit haar jarelange verbintenis tot integriteit.
Dit is beslis nie iets wat as vanselfsprekend aanvaar moet word nie, sê Reneé, en ons gesels vlugtig oor die skokkende getuienis wat voor die Madlanga-kommissie na vore gekom het tydens ʼn ondersoek na inmenging en korrupsie binne die polisiediens.
Haar terugkeer was ʼn doring in die vlees van diegene wat vir haar ontslag verantwoordelik was. Maar sy het vas bly staan.
“Ek kon my kop omhoog hou,” sê sy eenvoudig. “Ek het geweet ek gaan nie wegkrimp nie.”
Miskien is dit juis waarom haar verhaal steeds aanklank vind.
Nie omdat sy ʼn generaal was nie.
Maar omdat sy, toe dit die meeste saak gemaak het, eenvoudig geweier het om op te hou glo in wat reg is.