loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
korrektiewe-beampte-ontvang-meer-as-n-miljoen-na-salarisskaal-16-jaar-later-aangepas-word

Foto Krediet: ChatGPT

Korrektiewe beampte ontvang meer as ʼn miljoen ná salarisskaal 16 jaar later aangepas word

Deur Robin-Lee Maré

Vir die meeste mense kan 16 jaar soos ʼn leeftyd voel. Vir een Solidariteit-lid was dít die wagtydperk voordat geregtigheid uiteindelik geseëvier het.

Wat begin het as ʼn geskil oor ʼn salarisskaal, het tot ʼn uitgerekte regstryd ontwikkel wat deur verskeie forums en die arbeidshof beweeg het vóór dit uiteindelik in die hoogste hof in die land gaan draai het.

Vandag staan die saak as ʼn bewys van wat moontlik is wanneer ʼn werknemer weier om moed op te gee en wanneer ʼn vakbond vasbeslote bly om die stryd enduit namens sy lid te voer.

Die lid, *Johan van Dijk, was sedert 1999 in diens van die departement van korrektiewe dienste (DKD) as ʼn saakbestuurder. Hoewel hy die werk van ʼn werknemer op CB3-vlak verrig het, is hy vir jare op die laer CB1-vlak vergoed.

In 2009 het die DKD en vakbonde ʼn kollektiewe ooreenkoms gesluit ingevolge die Beroepspesifieke Bedeling (BSB). Die doel was om die salarisse van sentrum- en nie-sentrumgebaseerde werknemers reg te stel en in lyn te bring. Die ooreenkoms het ook terugwerkend gegeld.

Ten spyte hiervan het die DKD versuim om Van Dijk van CB1 na CB3 oor te plaas.

Solidariteit het die saak namens Van Dijk na die bedingingsraad verwys, waar bevind is die DKD se optrede kom neer op ʼn onbillike arbeidspraktyk. Die bedingingsraad het die departement gelas om Van Dijk se salarisskaal na CB3 reg te stel en terugwerkende betaling vanaf 1 Januarie 2008 te maak.

Die bedrag wat uiteindelik aan Van Dijk verskuldig was, het meer as R1 miljoen beloop.

Maar die stryd was nog lank nie verby nie.

Die DKD het geweier om die fout te erken en het die uitspraak op hersiening geneem. Daarna het die DKD ook aansoek gedoen om verlof tot appèl, wat die saak verder uitgerek het. Die departement was egter onsuksesvol hierin. Die saak het uiteindelik sy weg na die Konstitusionele Hof gevind.

Volgens Nicolette Ras, arbeidshoflitigant verbonde aan Solidariteit, het Solidariteit die lid deurentyd bygestaan.

“Hierdie saak wys hoe belangrik dit is om nie moed op te gee wanneer ʼn werkgewer versuim om ʼn werknemer se regte te erken en te handhaaf nie. Soms maak ʼn werkgewer daarop staat dat ʼn werknemer die handdoek sal ingooi.

“Ons lid het jare lank op geregtigheid in hierdie saak gewag, maar Solidariteit het hom deur elke stadium van die proses ondersteun en verteenwoordig.”

Aan die einde van 2025 het die Konstitusionele Hof die arbitrale toekenning opnuut bekragtig. Uiteindelik, ná jare se litigasie, moes die DKD die uitspraak nakom.

Solidariteit het daarna ʼn aktuaris aangestel om die korrekte berekeninge te doen. Die uitstaande bedrag is aan Van Dijk betaal en sy posvlak is amptelik na CB3 herstel.

“Hierdie oorwinning gaan oor veel meer as net geld,” sê Ras.

“Dit gaan oor erkenning vir werk wat reeds verrig is, billike behandeling en die beginsel dat werknemers nie vir jare benadeel behoort te word wanneer poste opgegradeer of herstruktureer word nie.”

Volgens Ras skep die uitspraak ook belangrike regsekerheid vir ander werknemers wat hulself in soortgelyke omstandighede bevind.

“Die beslissing versterk werknemers se reg op erkenning wanneer poste amptelik opgegradeer word. Dit stuur ook ʼn duidelike boodskap aan werkgewers dat onbillike arbeidspraktyke nie ongesiens verbygaan nie.”

Vir Van Dijk was die grootste oorwinning egter nie net die finansiële vergoeding nie, maar die wete dat hy nooit alleen gestaan het nie.

Deur elke hofaansoek, elke appèl en elke nuwe uitdaging het Solidariteit aangehou veg. Ná 16 jaar het geregtigheid uiteindelik geskied as ʼn kragtige herinnering dat volharding, ondersteun deur toegewyde regsverteenwoordiging, selfs oor die mees uitgerekte regstryde kan seëvier.

*Skuilnaam

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel