
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Gaan KI werknemeruitbranding laat toeneem?
Deur Essie Bester
Maatskappye is gretig om kunsmatige intelligensie en generatiewe KI te implementeer, maar die gevaar bestaan dat werknemers kan uitbrand as daar te vinnig beweeg word, waarsku ʼn CNBC-artikel. Werkers wat oorweldig voel deur die toenemende druk om hul vaardighede op te gradeer en by KI-instrumente en die digitale wêreld aan te pas, loop ʼn groter gevaar vir stres en uitbranding.
Die meeste werknemers is nie meer bang vir KI omdat hulle voel dit gaan hulle vervang nie. Hulle vrees nou maatskappye se uitsprake oor hoe KI doeltreffendheid en uitsette sal verbeter, sê Heather O’Neill, ʼn loopbaankenner by Resume Now, wat loopbaan- en CV-dienste verskaf.
Die grootste probleem is hierdie voortdurende mededingende vereiste van maatskappye om meer met minder gedoen te kry, terwyl niemand dit regtig oorweeg of navors of die stelsels en die tegnologie wat hulle bekendstel tot ʼn nuttige uitkoms lei nie.
Terwyl maatskappye verwag dat KI werknemerproduktiwiteit tot hoër hoogtes sal neem, kla personeel dat hul take inderwaarheid twee keer soveel tyd in beslag neem omdat daar nou van hulle verwag word om KI-gereedskap te gebruik.
Waar die doel van die bekendstelling van KI aan besighede was om mense se werkvloei te vereenvoudig, wil dit voorkom of dit nou werknemers se werk vermeerder en hulle gestres en uitgebrand laat.
Hulpbronbeperkings is die groot bekommernis hier. Die meeste KI-gebruiksgevalle vereis toegewyde hulpbronne om te bou, ontwerp en evalueer, en dit verdubbel dus die taak van werknemers – wat die reeds beperkte mensehulpbronne onder druk plaas.
Die meeste werknemers kry nie bykomende hulpbronne om KI vir sy potensiële voordeel te evalueer nie, wat ʼn herprioritisering van werknemers se tyd beteken, of beteken dat ander projekte op die agtergrond geplaas word.
Werknemers se vrese oor die groter wordende volume werk wat hulle gedoen moet kry, is ook nie die enigste kwessie wat KI-verwante uitbranding kan veroorsaak nie. Bekommernis oor wat dit sal verg om met hierdie nuwe werklandskap tred te hou, is senutergend.
Die voortdurende opleiding kan intimiderend en uitputtend wees, terwyl werkers oorweldig kan voel deur die druk om hul vaardighede op te gradeer en by KI-gereedskap aan te pas.
In ʼn studie deur die werkbestuursplatform Asana is bevind dat onder diegene wat 6 tot 15 verskillende toepassings in die werkplek gebruik, 15% sê dat hulle weens die hoeveelheid gereedskap nie boodskappe en kennisgewings raaksien nie. Onder diegene wat 16 of meer toepassings gebruik, sê 23% dat hulle minder doeltreffend is en hul aandagspan is minder omdat hulle voortdurend van toepassing moet wissel.
Dit alles kan tot bestaande gevoelens van stres en uitbranding bydra. Die uitbranding wat werknemers nou ervaar gaan egter oor meer as dit. Dit gaan ook hoe werknemers oor die werk voel en wat hulle daaruit kry,” meen Leah Steel, ʼn mentor vir korporatiewe professionele persone wat met uitbranding sukkel. Jy kan gestres voel omdat jy in ʼn omgewing van hoë volume en lae beheer beland het, terwyl om persoonlik met kliënte te kommunikeer en te voel jy maak ʼn verskil ál was wat jy oorspronklik wou doen.
Die risiko om jou werk te verloor, asook die vrees om vervang te word omdat jy nie meer die werk geniet nie omdat dit so tegnologies gedrewe geword het, kan verdere spanning onder werknemers veroorsaak.
Gelukkig kan maatskappye stappe doen om KI-inisiatiewe uit te brei sonder om werknemers te laat uitbrand. Een so ʼn stap is om KI geleidelik bekend te stel.
- • Berei jou werkers voor op ʼn geleidelike verskuiwing na KI-gebruik in die werkplek en verbind jouself tot duidelike kommunikasie oor KI-gebruik, hoe die opleiding sal lyk en hoe prestasieverwagtinge sal verander.
- • Mensehulpbronafdelings moet oop wees vir werknemerterugvoer oor hoe KI hulle kan help om meer doeltreffend te werk. Enige bekommernisse wat werknemers mag hê oor die gebruik van gereedskap, moet ook hanteer word.
- • Werknemers moet weet hoe KI in hul individuele rol geïnkorporeer sal word en hoe dit hul daaglikse werk gaan verander. “Maatskappye moet ook ʼn tydlyn vir die aanvaarding daarvan gee,” sê O’Neill.
- • Om aan die begin realistiese verwagtinge te stel, verseker dat spanne besigheidsdoelwitte verstaan en nie slapelose nagte het oor hoe om hul oorspronklike verantwoordelikhede te te bly nakom terwyl hulle KI-inisiatiewe lewer nie.
- • Waar moontlik moet maatskappye werkers daaraan herinner dat KI nie hier is om hulle te vervang nie, maar meestal bedoel is om hulle te help om die meer herhalende en alledaagse take wat met hul werk verband hou, te voltooi. Op dié manier kan hulle op hoërvlakprojekte fokus.
- • Besighede kan ook opleiding aanbied om werknemers met die oorgang te help. Elke rol sal KI effens anders inkorporeer. Dit is dus van kritieke belang om oor te dra dat opleiding werkers sal help om te leer hoe om die instrument vir hul spesifieke behoeftes te gebruik. Maatskappye kan dit ook oorweeg om ʼn toegewyde KI-ondersteuningspan te skep om op werkers se vrae te reageer terwyl hulle aanpas by hierdie nuwe manier van werk.
Daar is nog ʼn groot hoeveelheid sortering en leer wat moet plaasvind voordat KI-gereedskap selfs kan begin om produktiewe elemente in ons lewens te word. Indien jy as werkgewer dit nie korrek benader nie, het dit die potensiaal om jou werksmag te laat uitbrand.
Voorkom dit deur vandag nog in te skryf vir Solidariteit se kursus waarin holisties gekyk word na werknemers se welstand. Hierdie kursus is gratis vir lede. Nog nie ʼn lid nie? Sluit aan en help bou aan ʼn volhoubare toekoms.