loading
avatar
Artikels
20 uur gelede
ge-sing-hoor-my-lied-kom-vir-oulaas-pretoria-toe

Foto Krediet: Verskaf

Gé Sing: Hoor My Lied! kom vir oulaas Pretoria toe

Deur Leré Nel

Musiekliefhebbers en gesinne wat op soek is na ʼn dag vol kultuur en vermaak kan uitsien na ʼn besondere geleentheid wanneer Gé Sing: Hoor My Lied! op 27 Junie 2026 by die Voortrekkermonument in Pretoria aangebied word.

Dié unieke produksie, geskep deur Frans Swart, bring hulde aan die lewe en nalatenskap van Gé Korsten, een van Suid-Afrika se mees geliefde kunstenaars. Meer as 25 jaar ná sy afsterwe leef Gé se musiek steeds voort, en hierdie spesiale huldeblyk bied gehore die geleentheid om sy lewe en liedere op ʼn nuwe manier te beleef.

ʼn Huldeblyk aan ʼn legende

Die dag se verrigtinge begin om 11:00, wanneer die hekke oopmaak vir ʼn kultuur- en kosmark wat beloof om iets vir die hele gesin te bied. Jonger besoekers kan uitsien na optredes deur Liewe Heksie, terwyl kunstenaars soos Ruan Josh, Mari Bosman en Pieter Smith deur die dag vermaak sal verskaf.

Die hoogtepunt van die dag begin om 15:00, wanneer die grootskaalse produksie Gé Sing: Hoor My Lied! op die monument se beroemde trappe aangebied sal word. Met die majestueuse Voortrekkermonument as agtergrond en Pretoria se winterson wat stadig sak, word die verhoog die perfekte ruimte om hulde te bring aan ʼn kunstenaar wat diep spore in die Afrikaanse musiekbedryf getrap het.

Die produksie bevat oudiovisuele argiefbeeldmateriaal wat op ʼn reuseskerm vertoon word om gehore ʼn blik te gee op Korsten se buitengewone loopbaan, sy lewe en sy invloed op die plaaslike kunste. Sy bekende liedere word op vars wyse deur vier van Suid-Afrika se voorste kunstenaars vertolk:

  • • André Schwartz
  • • Arina de Witt
  • • Jannie Moolman
  • • Stephanie Baartman

Hulle word begelei deur ʼn volledige orkes onder leiding van musiekregisseur Chanie Jonker, terwyl die teks en regie deur Frans Swart behartig word.

Volgens Swart lê hierdie produksie hom na aan die hart.

“As daar ooit ʼn superster in Suid-Afrika was, dan was dit Gé. Hy was nie net ʼn sanger nie, maar ook ʼn mentor, gesinsman, akteur, administrateur en ʼn ware legende van die Suid-Afrikaanse kunste,” sê Swart.

Die geleentheid bied ʼn gesellige markatmosfeer met kosstalletjies, uitstallers en ʼn verskeidenheid aktiwiteite, wat dit die ideale uitstappie vir familie en vriende maak.

Program vir die dag

10:30 – 11:00 Hekke open

11:00 – 14:30 Kultuur- en kosmark

11:00 – 14:30 Liewe Heksie, Ruan Josh, Mari Bosman en Pieter Smith

15:00 – 17:00 Gé Sing: Hoor My Lied!

Belangrike inligting

ʼn Verpligte erfenisheffing van R20 per voertuig is by die hek betaalbaar. Hierdie heffing sluit parkering in, maar vorm nie deel van die kaartjieprys nie.

Besoekers moet daarop let dat die vertoning op die monument se trappe plaasvind. Aangesien stoele nie op die trappe geplaas kan word nie, word gaste aangemoedig om ʼn sitkussing of klein kombers saam te bring vir ekstra gemak.

Moenie hierdie laaste Pretoria-vertoning van Gé Sing: Hoor My Lied! misloop nie. Dit beloof om ʼn dag van musiek, herinneringe en Suid-Afrikaanse kultuur te wees wat nog lank onthou sal word.

Is jy ʼn vriend van Solidariteit?

Jy kry 20%-afslag op kaartjies! Gebruik die kode SOL20 wanneer jy jou kaartjies koop om toegang tot hierdie afslag te kry. Hierdie afslag is geldig tot 26 Junie 2026.

Koop jou kaartjies hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel