loading
Artikels
2 jaar gelede
goeie-leierskap-in-krisistye

Goeie leierskap in krisistye

Deur Essie Bester

Dis maklik om ʼn goeie leier te wees wanneer alles goed gaan. Jou leiersvermoë word egter eers werklik getoets wanneer daar ʼn ware krisis is. Krisisbestuur is ongelooflik onvoorspelbaar omdat mens nooit weet wanneer of watter soort krisis sal toeslaan nie.

Wat wel seker is, is dat leiers in krisistye nie nét met hul koppe behoort te lei nie maar ook met hul harte. Hulle moet eienskappe soos ʼn passie vir hul werk, deernis vir die mense wat hulle dien en empatie vir hul medewerknemers toon. Boonop moet hulle die moed hê om dapper besluite te neem. Dis geensins maklik nie en ook nie ʼn swakheid nie. Om die kwaliteite van jou hart te ontwikkel, verg aansienlike moeite en baie ervaring.

Stap 1

Ontwikkel ʼn selfbewussyn deur refleksie en terugvoer. Alle positiewe veranderinge begin met ʼn eerlike beoordeling van wie ons is, waar ons is en hoekom ons hier is. Dit sal jou meer empaties maak. Krisisleierskap behels nie net empatie vir diegene wat geraak word nie, maar ook die vermoë om die bron van probleme vas te stel deur die regte vrae op die regte tyd aan die regte mense te stel.

Die ware uitdaging is egter hoe om empaties te wees terwyl jy verseker dat spandoelwitte steeds bereik word.

Balanseer só jou empatiese kant met jou bestuurskant:

  • Bou ʼn sterk kultuur van erkenning. Betekenisvolle erkenning, dit maak nie saak hoe gering nie, kan ʼn ongelooflike impak op jou werknemers se moreel hê − veral in krisistye.
  • Skeduleer weekliks een-tot-een-tyd met jou werknemers waarin elkeen sy week se hoogte- en laagtepunte (die persoonlike sowel as die professionele aspekte) kan bespreek. Só kan jy ʼn volledige prentjie van elkeen se geestesgesondheid kry. Sorg dat jy ʼn werknemerbystandsprogram of ʼn geestesgesondheidsplan gereed het.
  • Skep realistiese doelwitte en produktiwiteitstandaarde. Dis jou taak om in krisistye ʼn positiewe en opbouende atmosfeer te skep waar werknemers voel hulle hoef nie uit te brand om iets te bereik nie. Begin met ʼn doelwitstellingsproses deur die SMART-doelwitraamwerk (spesifiek, meetbaar, aanwysbaar, realisties en tydig) te gebruik om jou span te help verstaan watter doelwitte werklik haalbaar is.

Stap 2

Oefen om jou waardes uit te leef. Wanneer Christelike en sekulêre waardes bots, word Christene dikwels onder druk geplaas om kompromieë aan te gaan. Duidelikheid oor jou waardes sal jou help om jou leierskap met integriteit te behou en nie van koers af geruk te word nie. Meer hieroor by: https://begrondinstituut.co.za/wat-is-my-talent-werd/

Stap 3

Wees ʼn afrigter. Sorg dat elkeen in jou span die rol vervul waarin hy hoogs gemotiveerd sal bly en sy sterkpunte kan benut. Solidariteit wil jou aanmoedig om jongmense te help om ʼn sukses van hul loopbane te maak terwyl jy jou beroep bevorder en ʼn positiewe verskil in die wêreld help maak. #DieWegTotSukses #ToekomsVanHoop #NetwerkVanWerk. Besoek www.mentorskap.co.za en registreer as mentor.

Vier verdere leierskapwenke wat by bogenoemde aansluit:

  1. Erken die probleem maar bly positief

Leiers weier soms om ʼn krisis te erken en versuim om hul mense in te lig oor die werklike situasie, maak oordeelsfoute, en word gevolglik ondoeltreffende krisisleiers. Behandel jou werknemers met respek en kommunikeer die realiteit van die situasie op ʼn deursigtige manier sonder om negatiwiteit te bevorder deur daarop te fokus. Gaan sit saam met jou span en praat oor die stappe en die risiko’s verbonde aan die aksieplan en wat dadelik gedoen kan word om die probleem te versag.

  1. Bevorder selfleierskap en kreatiwiteit

Om beslissend te lei, is die belangrikste ding wat jy nou kan doen. Vestig ʼn voorste linie van besluitnemers wat jou kan bystaan ​​om die plan te bespoedig, te implementeer en aan die res van die interne spanne te kommunikeer.

Omskep jou werknemers in organisatoriese kampioene deur hulle ʼn missie, ʼn rol en ʼn gevoel van eienaarskap in hul werk te gee. Bemagtig hulle om waar dit moontlik is die inisiatief te neem en om duidelik te definieer wat geëskaleer moet word, wanneer en aan wie.

Hou die volgende in gedagte wanneer jy deur ʼn krisis gekonfronteer word:

  • ʼn Visie help jou mense om gegrond te bly en te fokus op wat belangrik is.
  • Werknemers in gespesialiseerde rolle kan meer outonoom wees en aktief tot oplossings, idees en kundigheid bydra.
  • ʼn Gevoel van eienaarskap lei tot trots in jou werk, wat deurslaggewend kan wees vir werknemers om gemotiveerd te bly.
  1. Verminder wrywingspunte en wees buigsaam

Beperk die aantal wrywingspunte − enigiets wat verhoed dat vinnige besluite geneem word. Kies ʼn klein groepie spanleiers om besluitneming te bespoedig.

Tydens die doeltreffende bestuur van ʼn krisis kom dit alles op die volgende neer:

  • Die opstel van ʼn prioriteitslys. Dokumenteer jou prioriteite vroeg in die krisis, kry jou hele span eensgesind en laat beweegruimte toe vir enige veranderinge aan die plan soos julle vorentoe beweeg.
  • Gee volledige outonomie aan jou voorste besluitnemers. Dis ʼn goeie idee om eerste die besluite te pak wat nie veel van ʼn impak sal maak nie − die neem van die verkeerde besluit, veral wanneer onder uiterste druk, is baie algemeen. Só verseker jy dat jou werknemers ʼn realistiese begrip het van wat op die spel is, terwyl hulle ook selfvertroue inboesem vir besluite met ʼn groter impak.
  1. Sorg vir ʼn effektiewe, aanpasbare kommunikasiestrategie

ʼn Volwaardige krisisreaksie noodsaak aansienlike ondersteuning en deelname van verskeie interne spanne binne die organisasie. Om ʼn omvattende, veelvlakkige plan doeltreffend ten uitvoer te bring, moet jou interne spanne bewus wees van wat, wanneer en hoe daar van hulle verwag word om hul onderskeie rolle uit te voer. ʼn Stewige kommunikasieplan en kommunikasieopleiding vooraf vir almal is noodsaaklik. Kommunikasie tydens ʼn krisis is baie anders as byvoorbeeld tydens die bekendstelling van ʼn projek.

Net so verskil die leierseienskappe wat tydens ʼn krisis vereis word, baie van dié wat in normale omstandighede nodig is. Berei voor vir ʼn toekomstige krisis met Solidariteit Leer, wat jou met ekstra bestuursvaardighede kan bemagtig. Netwerklede kwalifiseer vir tot 40% afslag op alle programme. Gaan loer gerus na kursusse in die S-leer winkel by www.s-leer.co.za

Bronne

https://incafrica.com/library/marcel-schwantes-3-skills-that-will-instantly-point-to-someone-with-good-leadership

https://www.indeed.com/career-advice/resumes-cover-letters/leadership-skills

https://begrondinstituut.co.za/wat-is-my-talent-werd/

https://www.forbes.com/sites/allbusiness/2022/06/22/5-ways-to-be-a-better-leader-during-a-crisis/?sh=6ead4a9e1d89

 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel