
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Help! Hoe kies ek ʼn hoërskool?
Deur Reon Janse van Rensburg
Jou laerskooldae is byna iets van die verlede. Baie dinge het oor die afgelope sewe jaar verander. Jy is nou ʼn tiener (al dink jou ma jy is nog haar kleine skattebol) wat ʼn nuwe fase van jou lewe binnegaan. Hoewel dit opwindend is, kan ons maar eerlik wees – dit is net so senutergend ook! Al hierdie veranderinge skep baie vrae en onsekerhede. Jy wil graag jou vriende behou en jy hoop hulle kies dieselfde hoërskool as jy. Dalk wonder jy oor sportsoorte of kultuuraktiwiteite, of selfs of die skool van jou keuse vakke aanbied waarby jy sal baat en waarvan jy gaan hou. Hierdie vrae is normaal en ons kan jou verseker dat alles oukei gaan wees, selfs al voel dit nie nou so nie.
As ʼn tiener wat voorberei om die hoërskool te betree, staan jy op die drumpel van ʼn pad met ongelooflike moontlikhede en uitdagings. Maar een van die grootste besluite wat jy tot dusver moes maak, is watter hoërskool om te kies. Hier is ʼn blik op my persoonlike ervaring en ʼn paar wenke vir jou wat voor hierdie moeilike besluit te staan kom.
1. Identifiseer jou prioriteite
Die eerste stap in hierdie opwindende proses is om jou prioriteite te identifiseer. Wat is vir jou belangrik in ʼn hoërskool? Dit kan wees dat jy ʼn spesifieke belangstelling in die kunste of wetenskap het, en dus ʼn hoërskool wil kies wat hierdie programme aanbied. Of dalk is sport jou passie? Dan gaan jy in ʼn hoërskool wil wees wat ʼn sterker sportkultuur het. Wat ook al jou prioriteite is, dit is belangrik om hulle duidelik te maak. Dit is wys om hierdie dinge met jou ouers te bespreek omdat dit ook ʼn invloed op hulle het en hulle ook graag die beste vir jou wil hê.
2. Doen navorsing
Een van die belangrikste dinge wat ek gedoen het, is om navorsing te doen. Ek het begin deur inligting oor verskeie hoërskole in my area in te win. Ek het webwerwe besoek, met mense in my gemeenskap gepraat en selfs skoolbesoeke gereël. Elke skool hou ook ʼn opedag waar ek na die skool kon gaan kyk, met die leerders en onderwysers kon gesels en ʼn algemene gevoel kon kry oor die skool. Dit het my gehelp om ʼn duideliker prentjie van elke skool te kry en om my vrae te beantwoord.
3. Gesels met mense
Die beste manier om ʼn gevoel van ʼn hoërskool te kry, is deur met mense te praat wat dit reeds bygewoon het of tans bywoon. Ek het met ouer leerders gepraat, asook met onderwysers en ouers. Hierdie gesprekke het my ʼn insig gegee in die daaglikse lewe van die skool, die akademiese standaarde en die algemene atmosfeer.
4. Oorweeg praktiese aspekte
Daar is ʼn paar praktiese aspekte wat ook ʼn groot rol gespeel het in my besluit. Dit sluit dinge in soos die afstand van die skool tot my huis, vervoeropsies en kostes. Dit is belangrik om ʼn realistiese prentjie van hierdie aspekte te hê, want dit kan ʼn groot impak op jou daaglikse roetine hê.
5. Vertrou jou sesde sintuig
Dit is belangrik om na jou sesde sintuig te luister (daai gevoel wat vir jou ʼn versekerde ja of nee sê). Soms kan jy op papier die perfekte skool vind, maar as jy nie ʼn goeie gevoel daaroor het nie, kan dit ʼn swaar las wees. Ek het besef dat ek ʼn spesiale band met ʼn sekere skool gehad het, en dit het my besluit uiteindelik beïnvloed. Jou besluit moet ook een wees wat jy self neem sonder dat dit deur vriende beïnvloed word.
Die uiteindelike besluit
Na weke van deeglike oorweging, gesprekke met mense en innerlike selfondersoek, het ek uiteindelik ʼn besluit geneem. Ek het ʼn skool gekies wat ooreenstem met my belangstellings en doelwitte. Dit was nie ʼn maklike besluit nie, maar ek glo dat dit die regte een vir my was.
Raak opgewonde om aan hierdie nuwe hoofstuk van jou lewe te begin werk, en wees dankbaar vir die geleentheid om ʼn positiewe impak op jou eie toekoms te maak. Dit mag moeilik wees, maar ek wil elke tiener wat dieselfde reis aanpak, aanmoedig om met oorgawe en entoesiasme jou besluit te neem. Jou hoërskool-ervaring is wat jy daarvan maak, en dit kan ʼn wonderlike kans wees om te groei, leer en jouself te ontdek.
Solidariteit Jeug is ʼn netwerk van jong mense wat ʼn passie vir Afrikaans deel en wat vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika wil skoolgaan en studeer. #OnsBou aan ʼn beter samelewing. Raak vandag betrokke! Besoek die skakel vir meer inligting in die verband.