loading
Artikels
2 weke gelede
hennopspark-onderwyser-deur-solidariteit-bekroon

Foto Krediet: Solidariteit

Hennopspark-onderwyser deur Solidariteit bekroon

Deur Heléne Mocke

Solidariteit se Sterre in die Gemeenskap-glansgeleentheid het buitengewone mense in hul beroep op ʼn besonderse wyse vereer.

Hierdie toekennings, waardeur werknemers vir hulle unieke bydrae aan gemeenskappe bekroon is, het Donderdagaand 5 Desember in Pretoria, plaasgevind.

Adriaan Pretorius van Laerskool Hennopspark is onlangs aangewys as Solidariteit se Laerskoolonderwyser van die Jaar. Danksy 14 jaar se ondervinding en sy passie vir die bevordering van veral Wiskundeonderrig in Afrikaans, is hy ʼn ware inspirasie vir sy kollegas en leerders.

Pretorius maak vindingryk gebruik van tegnologie in sy klaskamer. Deur platforms soos die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Wolkskool en Microsoft PowerPoint, het hy maniere ontwikkel om komplekse konsepte toeganklik te maak. Gedurende die uitdagings van die Covid-19-pandemie het hy vinnig besef hoe belangrik tegnologiese hulpbronne is, en hy het aanlyn Wiskundeklasse ontwerp om sowel leerders as onderwysers te ondersteun.

Sy toewyding strek egter verder as die klaskamer. Adriaan bly voortdurend op die hoogte van die nuutste onderwysontwikkelings deur aanlyn opleiding van die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO). Hy word hoog aangeslaan vir sy deeglike administrasie en lesbeplanning. Verder is hy aktief betrokke by buitemuurse aktiwiteite soos sport, kultuur en IT-ondersteuning, wat sy veelsydigheid en toewyding beklemtoon.

Volgens Anlia Archer, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Onderwysernetwerk, gee Pretorius se toekenning nie net erkenning aan Adriaan se uitmuntendheid as opvoeder nie, maar ook aan sy onbaatsugtige bydrae tot die onderwysberoep. “Hy is ʼn bewys daarvan dat passie en innovasie hand aan hand gaan in die strewe na onderrig van wêreldgehalte,” sê Archer.

Die Sterre in die Gemeenskap-toekenningsgeleentheid is al vir die afgelope paar jaar ʼn hoogtepunt in die gemeenskap. Elke individu wat vir ʼn toekenning benoem is, word nie net in sy of haar eie hoedanigheid vereer nie, maar verteenwoordig die honderde ander wat hul gemeenskap met dieselfde onbaatsugtige diens dien en vir wie Solidariteit nie kon vereer nie omdat baie van die dade eenvoudig ongesiens plaasvind.

Die onderskeie wenners is deur ʼn nominasie- en stemproses aangewys. Die Kantoorpraktisynsnetwerk se #Kantoorkampioenwenner vir 2024 is Berné Grobler; die Solidariteit Ambagnetwerk se drie wenners is die #JouYster-wenner Stephen Bothma; en die #JouYster-studiebeurswenner is Brandon Crous. Die #JongYster is Daru Pretorius en die #JongReus vir 2024 is T.J. van Eeden.

In die onderskeie kategorieë in die Onderwysernetwerk se Onderwyser van die Jaar-kompetisie is die wenners soos volg: Kleuterskoolonderwyser van die Jaar is Lerine Roberts; Laerskoolonderwyser van die Jaar is Adriaan Pretorius. Johan Nolte is as die wenner in die kategorie, Hoërskoolonderwyser van die Jaar, aangewys.

Besonderse uitblinkers is met eretoekennings vereer: dr. Angelique Coetzee vanuit die Solidariteit Doktersnetwerk; dr. Alida du Plessis-Faurie vanuit die Solidariteit Verpleegnetwerk; Ruan Wepener vanuit die Solidariteit Regsnetwerk; en Durandt Serfontein vanuit die Solidariteit Finansiesnetwerk.

Dit was ook ʼn aand waartydens daar aan toekomsdrome gewerk is. ʼn Skenking van meer as R19  miljoen is aan die Helpende Hand Studietrust oorhandig om toegewyde jong mense se studiedrome deur middel van rentevrye studiebeurslenings te bewaarheid.

Nog ʼn skenking van meer as R30 miljoen is aan Solidariteit se opleidinginstellings oorhandig om op dié manier nóg Afrikaanse leef- en leerruimtes vir jong mense te bou.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel