Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Het jy geweet? Rastellende aksie is ongrondwetlik
Deur Heléne Mocke
Ek is ʼn tweedejaarregstudent. Hoe weet jy dit? Want ek sê dit vir jou. Gewapen met hierdie soort selfvertroue woon ek nou die dag ʼn klas by waar ons die kernaspekte van die Suid-Afrikaanse Grondwet bespreek.
Hiér sê ek eers niks nie. Ek luister.
Die huidige Grondwet van Suid-Afrika, so leer ek toe, het in 1996 in werking getree en het ten doel om gelykheid en die beskerming van menseregte te verseker. Suid-Afrika het ʼn unieke Grondwet, want hoofstuk twee van die Grondwet, “die Handves van Regte”, is ʼn unieke toevoeging tot die Grondwet.
Die dosent verduidelik toe ʼn spesifieke artikel in die Handves van Regte wat ʼn beperking op sekere regte toelaat. Sy verduidelik verder dat so ʼn beperking van regte beleide soos regstellende aksie moontlik maak.
Artikel 36 van die Grondwet maak voorsiening vir sekere beperkinge op regte as dit onder spesifieke omstandighede geregverdig geag kan word.
Dit staan ook bekend as die “beperkingsklousule” en skep ʼn raamwerk vir die regverdiging van beperkings op regte. Dit stel ook sekere vereistes vir die toepassing van billike differensiasie – ʼn konsep wat bedoel is om sosiale ongelykhede te verminder deur redelike en tydelike verskille tussen die regte van groepe toe te laat.
Regstellende aksie – of rastellende aksie soos ons deesdae verkies om daarna te verwys – word as ʼn voorbeeld van hierdie differensiasie voorgehou. Tog is daar toenemende kritiek op hierdie beskouing, en werk hierdie klousule nie meer tot die voordeel van die land en al sy mense nie.
Alhoewel artikel 36 toelaat dat sekere groepe se regte beperk word om uiteindelik gelykheid te bevorder, moet elke beperking steeds aan spesifieke kriteria voldoen om regmatig te kan wees. Dit beteken dat die beperking slegs toegelaat kan word indien dit:
- ʼn duidelike en wettige doel dien wat in ooreenstemming met die Grondwet se waardes is;
- redelik en regverdigbaar in ʼn oop en demokratiese samelewing is; en
- as ʼn tydelike oplossing dien vir spesifieke ongelykhede wat aangepas moet word.
Daar is oor die jare heen gesien hoe rastellende aksie uitdagings in die land se ekonomiese en maatskaplike omgewings veroorsaak – selfs al was dit dalk met goeie bedoelings ingestel. Ek hoor daagliks van mense wat nie werksaansoeke mag voltooi nie aangesien die blokkie waarin hul velkleur aangedui moet word hulle verhoed om voort te gaan met die aansoekproses.
Rastellende aksie het groot bykomende finansiële druk op die reeds sukkelende ekonomie geplaas – selfs die minister van finansies, Enoch Godongwana, het dit in sy 2024-begrotingsrede erken.
In baie sektore word voorkeur gegee aan mense op grond van hul ras eerder as hul vaardighede en kwalifikasies. Dit is iets wat produktiwiteit en groei negatief beïnvloed. Selfs die rykste en een van die mees invloedryke mense ter wêreld, Elon Musk, word deur Suid-Afrika se beleid van rastellende aksie geknou, aangesien sy Amerikaanse Starlink-satelliet-internetdiens nie aan Suid-Afrika se SEB-teikens voldoen nie.
Hierdie benadering kan ook, en het ook beleggers ontmoedig en die impak van vaardigheidstekorte verhoog. Dit is iets wat die land miljoene rand kos. Dit is nie regverdig of billik soos deur die Grondwet voorgeskryf nie, want artikel 36 dui tog daarop dat enige beperking op regte nie nadelig vir die samelewing moet wees nie – ʼn toets wat rastellende aksie ten volle dop.
Artikel 36 vereis dat beperkings op regte regverdig moet wees en nie tot onbillike nadeel mag lei nie. In die geval van rastellende aksie word gekwalifiseerde mense, wat nie aan die bepaalde kategorie voldoen nie, dikwels van werksgeleenthede uitgesluit, ongeag hulle vermoë en ervaring om die pos te kan beklee. Hierdie uitsluiting belemmer die bevordering van werklike meriete en skep ʼn kultuur waar talent nie die hoofmaatstaf is nie. Hierdie neiging minag dus die Grondwet se kernwaardes van gelykheid en meriete.
Rastellende aksie was oorspronklik bedoel om ʼn tydelike meganisme te wees om die ongelykhede van die verlede uit te skakel. Tog, ná meer as drie dekades waarin dit toegepas is, lyk die sogenaamde gelykheidmaatreëls al meer ongelyk en selfs rassisties.
Artikel 36 sê spesifiek hoe die tydsduur van differensiasie beperk moet wees tot dit wat nodig is om ʼn spesifieke ongelykheid reg te stel. Dit is die permanente aard van rastellende aksie in Suid-Afrika wat dit veel eerder na rassisme laat lyk.
Die aanvanklike doel van rastellende aksie was om ʼn regverdige en billike samelewing te bevorder, maar die werklikheid is dat dit in sy huidige gestalte al hoe meer as onregverdig beskou word. Suid-Afrika se sakeondernemings ly erg onder hierdie donker SEB-wolk.
As ʼn jong mens is ek gelukkig om wel werk te hê. Soveel kennisse – ook familie en vriende – kry eenvoudig nie werk nie, en dit is dikwels omdat hul velkleur nie met die bogenoemde beleid strook nie.
Rastellende aksie moet afgeskaf en vervang word deur programme wat werklik fokus op die ontwikkeling van vaardighede, toegang tot opleiding en die bevordering van ware grondwetlike meriete.