loading
Artikels
3 maande gelede
hier-is-die-vyf-finaliste-van-die-jouyster-kompetisie-2024

Foto Krediet: OkayDeer

Hier is die vyf finaliste van die #JouYster-kompetisie 2024

Deur Nico Strydom

Die vyf finaliste vir vanjaar se gesogte #JouYster-toekenning is uiteindelik aangewys. Dié inisiatief van Solidariteit gee erkenning aan ambagslui se talent, ywer en passie vir en toewyding aan die ambagsberoep.

Vanjaar se finaliste is Joggie van der Westhuizen, Floris Kruger, Andries van Deventer, Stephen Bothma en Wentzel Schuster. Hulle passie vir en toewyding aan hul beroep én hul harde werk word raakgesien, en dié nominasie gee erkenning daaraan.

Die finaliste is ná ʼn proses van uitskakeling en stemme as die topvyf aangewys en een van hulle sal binnekort as die wenner van #JouYster 2024 aangewys word.

Die beoordeling vind op 9 Julie 2024 plaas en die finaliste sal voor ʼn beoordelaarspaneel verskyn. Hierdie paneel bestaan uit lede van die Solidariteit Ambagnetwerk se adviesraad wat vooraanstaande ambagslui is, elkeen met ʼn gevestigde reputasie in die ambagwêreld.

“Die hoofrede vir die #JouYster-kompetisie is om erkenning aan ambagslui te gee,” sê Dirk Smit, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Ambagnetwerk. “Hulle werk baie hard en doen baie vir die gemeenskap. Hulle bou aan ons stede en kry nie altyd die erkenning daarvoor nie. Ambagslui het ongelooflike vermoëns en dit is tyd om erkenning aan uitmuntende ambagswerk te gee, asook aan die mense wat ons land uitbou. Hulle is die ware ysters wat die ratte van die samelewing laat draai.” 

Hardwerkend, ywerig en innoverend is alles eienskappe van ʼn uitmuntende ambagspersoon wat nie terugdeins vir harde werk nie, maar eerder sy/haar moue oprol en uitdagings met albei hande aanpak.

Die doel van die #JouYster-kompetisie is nie net om uitnemendheid in die wêreld van die ambagte te erken nie, maar ook om aan die gemeenskap terug te gee. Die wenner van die #JouYster-kompetisie kry die geleentheid om, in samewerking met die Solidariteit Ambagnetwerk, ʼn beurslening wat na hom of haar vernoem word, aan ʼn behoeftige voornemende student toe te ken. Hierdie lening stel die ontvanger in staat om vir die ambag van sy/haar keuse aan Sol-Tech te studeer en om uiteindelik ʼn rooiseëlkwalifikasie in die ambagwêreld te verwerf.

Die Solidariteit Ambagnetwerk fokus daarop om die beroep te beskerm en te versterk. Dié beroepsnetwerk tree nie net as waghond in die beroep op nie, maar streef ook daarna om die gehalte van ambagslui en die bedryf as geheel te bevorder.

Hou ons jongste nuus dop vir die aankondiging van die wenner van vanjaar se #JouYster-kompetisie.

By Solidariteit bou ons ʼn toekoms vir ons gemeenskap in die land, sodat ons ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms kan verseker. #JyHoortHier en daarom vier ons die ambagslui wat ywerig die land en toekoms vir ons bou!

Die die top 5 #JouYster-finaliste

Andries van Deventer

Floris Kruger

Joggie van der Westhuizen

Stephen Bothma

Wentzel Schuster

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel