loading
Artikels
2 weke gelede
jong-ambagsman-maak-potchefstroom-trots

Foto Krediet: Solidariteit

Jong ambagsman maak Potchefstroom trots

Deur Heléne Mocke

Solidariteit se Sterre in die Gemeenskap-glansgeleentheid het buitengewone mense in hul beroep op ʼn besonderse wyse vereer.

Hierdie toekennings, waardeur werknemers vir hulle unieke bydrae aan gemeenskappe bekroon is, het Donderdagaand 5 Desember in Pretoria plaasgevind.

Daru Pretorius, ʼn 21-jarige jongman van Potchefstroom, is die wenner van Solidariteit se #JongYster-toekenning vir 2024. Hierdie prestasie erken sy uitnemendheid, toewyding en passie in die ambagbedryf.

Daru werk tans by Lektratek in Potchefstroom, waar hy betrokke is by die vervaardiging van presisie-meganiese komponente. Nadat hy vir ʼn jaar waardevolle werkservaring opgedoen het, is hy deur Lektratek na Sol-Tech gestuur om ʼn kursus in Pas-en-draai te studeer. Hier het hy nie net sy studie suksesvol voltooi nie, maar ook die eer ontvang om as die topstudent genomineer te word.

Nadat hy sy kwalifikasie in Pas-en-draai verwerf het, het Daru na Lektratek teruggekeer om sy praktiese tydperk te voltooi. Hy beskou die #JongYster-toekenning as ʼn erkenning van sy harde werk en vasberadenheid. “Om ʼn #JongYster te wees, weerspieël my bereidheid om nuwe vaardighede aan te leer, uitdagings aan te pak en oplossings te vind,” sê Daru.

Hierdie toekenning dien nie net as ʼn motivering vir homself nie, maar ook as ʼn inspirasie vir ander jong mense in dié tegniese bedryf. “Dit moedig my aan om aan te hou groei en ʼn positiewe verskil in my werk en gemeenskap te maak,” voeg hy by.

Die Sterre in die Gemeenskap-toekenningsgeleentheid is al vir die afgelope paar jaar ʼn hoogtepunt in die gemeenskap. Elke individu wat vir ʼn toekenning benoem is, word nie net in sy of haar eie hoedanigheid vereer nie, maar verteenwoordig die honderde ander wat hul gemeenskap met dieselfde onbaatsugtige diens dien en vir wie Solidariteit nie kon vereer nie omdat baie van die dade eenvoudig ongesiens plaasvind.

Die onderskeie wenners is deur ʼn nominasie- en stemproses aangewys. Die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk se #Kantoorkampioen-wenner vir 2024 is Berné Grobler; die Solidariteit Ambagnetwerk se ander wenners is die #JouYster-wenner Stephen Bothma; die #JouYster-studiebeurswenner is Brandon Crous en die #JongReus vir 2024 is T.J. van Eeden.

In die onderskeie kategorieë in die Solidariteit Onderwysernetwerk se Onderwyser van die Jaar-kompetisie is die wenners soos volg: Kleuterskoolonderwyser van die Jaar is Lerine Roberts; Laerskoolonderwyser van die Jaar is Adriaan Pretorius; en Johan Nolte is as die Hoërskoolonderwyser van die Jaar aangewys.

Besonderse uitblinkers is met eretoekennings vereer: Dr. Angelique Coetzee vanuit die Solidariteit Doktersnetwerk; dr. Alida du Plessis-Faurie vanuit die Solidariteit Verpleegnetwerk; Ruan Wepener vanuit die Solidariteit Regsnetwerk; en Durandt Serfontein vanuit die Solidariteit Finansiesnetwerk.

Dit was ook ʼn aand waartydens daar aan toekomsdrome gebou is. ʼn Skenking van meer as R19 miljoen is aan die Solidariteit Helpende Hand Studietrust oorhandig om toegewyde jong mense se studiedrome deur middel van rentevrye studiebeurslenings te bewaarheid.

Nóg ʼn skenking van meer as R30 miljoen is aan Solidariteit se opleidingsinstellings oorhandig om op dié manier nóg Afrikaanse leef- en leerruimtes vir jong mense te bou.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel