
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Ek’s nie skaam om myself ʼn Afrikaner te noem nie – ek hoort hier!
Deur Leré Nel
As ʼn werknemer by Solidariteit wonder ek soms: hoe sou my loopbaan ontvou het as Solidariteit nie bestaan het nie? Wel, miskien sou ek maar vir ʼn ander maatskappy gewerk het as digitale inhoudbeampte, bemarkingsbeampte of joernalis. Miskien sou ek my klerkskap voltooi het en ʼn prokureur geword het.
Maar vandag vra ek ʼn ander vraag: Hou sou my lewe verskil as Solidariteit nie bestaan het nie? Kan een enkele instelling werklik só ʼn groot verskil in iemand se lewe maak? Ék glo dit kan – beslis in myne.
Ek’s nie skaam om myself ʼn Afrikaner te noem nie
Ek was bevoorreg genoeg om aan die hange van die Paarlberg groot te word. Ek het byna elke tweede naweek die Taalmonument besoek – saam met my gesin, saam met vriende. Ons het deur die pragtige tuine gestap, piekniek op die gras gehou en Spoegwolf-konserte op die gras bygewoon terwyl die son met ʼn rooiwarm gloed agter die Drakensteinberg sak. Selfs terwyl ek oorsee gewoon het, het ek na daardie oomblikke verlang. Dit is in my onderbewussyn ingeëts – my taal is wie ek is. Ek ís ʼn Afrikaner en ek is nie skaam om so te sê nie.
Noudat ek ouer is, besef ek werklik die waarde van instellings soos die Taalmonument, die Voortrekkermonument en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). Die tyd wat jy daar deurbring, word deel van jou. Dit gee gestalte aan iets wat andersins slegs in jou siel sou bestaan.
Ek neem my plek in, want ek hoort hier
Daar word vir my generasie gesê dat ons die kinders van die onderdrukkers is – dat ons moet boet vir ons voorouers se foute. Dat ons skuldig gebore is.
Dit wat jy elke dag hoor, is wat jy uiteindelik gaan glo. Daarom is dit só noodsaaklik om mense en instellings te hê wat balans skep en die waarheid praat. Die verlede is verby; dit kan nie verander word nie. Mense wat niks “verkeerd” gedoen het nie, moenie gestraf word nie. Danksy instellings soos Maroela Media, Solidariteit en AfriForum is die narratief besig om in die gedagtes van die jonger generasie te verander. Ons begin al hoe meer glo dat daar wel ʼn plekkie vir ons onder die Afrikason is. Ons kán hier woon. Ons kán hier werk. Ons kán ons kinders eendag met trots hier grootmaak.
My hande word versterk as ek ander ophelp
Ons weet dat die huidige bedeling die Afrikaner so ver as moontlik opsy wil stoot – tot op die punt waar ons totaal en al vergeet word. Maar óns weet dat ons net soveel reg het om hier te wees soos enige ander persoon wat in Suid-Afrika woon. Maar hoe gemaak as ʼn hele bevolkingsgroep uit die ekonomie gesluit word? Of as minimale maatskaplike hulp aan die armes van hierdie spesifieke bevolkingsgroep beskikbaar gestel word?
Dan maak ons sélf ʼn plan! Ons bou instellings soos Solidariteit Helpende Hand, wat omsien na óns gemeenskap. “En as jou broer by jou verarm en agterraak, moet jy hom ondersteun, soos ʼn vreemdeling en bywoner …” (Levitikus 25:35, 1953-vertaling). Dit gaan nie oor die feit dat ons ander wil uitsluit nie. Dit gaan oor die Bybelse beginsel: help eerste jou eie broer.
Ons maak staat op instellings soos Solidariteit, wat ons help om sélf vir ons eie mense werk te skep. As hulle ons uit die ekonomie wil sluit, vind ons eenvoudig ons eie oplossings. Ons bou ʼn platform waar Afrikaners mekaar kan help om werk te soek en te kry. Ons bou ʼn gemeenskap wat wérk om ʼn toekoms vir hulself en hul nageslag te verseker – hier in die land waar ons hoort.
Daar sal altyd mense wees wat sê dat dit beter is om net oor te begin – om elders ʼn plekkie vir jouself uit te kerf. En ek oordeel hulle nie daaroor nie.
Maar mý voorouers het nie in konsentrasiekampe verhonger en massiewe opofferings gemaak sodat ek die pad kan vat en oor kan begin nie. Hulle het namens my gebou, en ek sal voortbou op die fondament wat hulle gelê het. Só ook my kinders.
Danksy die Solidariteit Beweging, en al die mense wat sedert 1902 daaraan help bou het, kán ek hier bly. Danksy húlle wíl ek hier bly. En ek sál hier bly.
Want ek hoort híér.