
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
#JyHoortHier: Die storie van Stefan Marais
Deur Johan Barnes, Solidariteit-netwerkorganiseerder
In ʼn tyd waar baie jongmense glo dat hulle na groot stede moet verhuis of selfs oorsee moet gaan om sukses te behaal, bewys Stefan Marais van Queenstown dat dit nie altyd nodig is nie. Uit nederige beginne, met harde werk, geloof en deursettingsvermoë, het hy ʼn bloeiende besigheid opgebou. Sy storie is ʼn inspirasie en herinner ons daaraan dat sukses lê in waar jy jouself geografies bevind nie, maar in jou roeping en karakter.
Stefan is op 19 Desember 1996 in Oos-Londen gebore en het op ’n afgeleë dorpie, Henderson in die Cathcart-omgewing, grootgeword. Hy is die tweede jongste van vier broers en het in 2015 aan Hoërskool Hangklip gematrikuleer. Van jongs af was hy ʼn sportiewe en aktiewe persoon met ʼn liefde vir visvang, “gym” en tennis. Sy oupa, ʼn man wat vir hom lewenslank ʼn rolmodel sou wees, het hom vroeg geleer om met sy hande te werk. Een van sy oupa se baie sêgoed, “As daar ʼn bol stront lê, al is dit nie joune nie, tel hom op,” het ʼn diep indruk op hom gemaak – ʼn eenvoudige maar kragtige les in verantwoordelikheid en trots in jou werk.

Na skool het Stefan by Vic Ball Plumbers in Bloemfontein begin werk. Dié werk het hom geneem na plekke soos Mosambiek, Kimberley, Nelspruit en Pretoria, en hy het waardevolle ondervinding opgedoen. Daarna het hy by Willow Feather Farming in Pretoria besproeiing en tuinontwerp gedoen, voordat hy in 2018 na Queenstown verhuis het om by The Plumber Man as vakleerling aan te sluit. In dieselfde jaar het hy by Jacksons Prime Auto Spares begin werk, waar hy “tinting”, rubberbedekking van voertuie en die installering van voertuigbykomstighede gedoen het terwyl hy in sy vrye tyd steeds loodgieterswerk gedoen het. Dit was in hierdie tyd dat die droom om sy eie besigheid te begin posgevat het.
Hoewel hy nog nie gekwalifiseerd was nie, het hy vir drie maande sy eie werk aangepak – ʼn tydperk wat vir hom bewys het dat hy die potensiaal het om suksesvol te wees. Die behoefte om verder te groei en ʼn formele kwalifikasie te verkry, het egter vereis dat hy sy werk as vakleerling hervat. Sonder die finansiële middele om die kwalifikasie te betaal, het hy dit ʼn gebedsaak gemaak. Uiteindelik het vriende van sy ouers en ʼn skoolvriend se pa hom gehelp om die nodige fondse bymekaar te maak – iets waarvoor hy steeds diep dankbaar is.
Op 10 Augustus 2020, met sy rooiseëlkwalifikasie in die hand en ʼn hart vol dankbaarheid en hoop, het hy sy besigheid, Fix it Fast Plumbing, amptelik geregistreer. Die vroeë dae was uitdagend, maar die ervaring wat hy reeds opgedoen het, het hom goed voorberei. Sy oupa se wysheid en sy eie dryfkrag het hom gehelp om struikelblokke te oorkom, en mettertyd het sy besigheid begin groei.
Binne twee jaar moes hy ʼn vennoot inbring en vyf permanente werknemers aanstel. Vandag is Fix it Fast Plumbing ʼn gerespekteerde naam in Queenstown, met talle lojale kliënte wat sy diens aanbeveel. Stefan beskryf dit as die resultaat van min slaap, harde werk, lang ure en baie gebed – maar ook van nederigheid, eerlikheid en ʼn bereidwilligheid om aan te hou leer.

Vir hom is sukses nie gekoppel aan ʼn groot stad of glans nie. Wat saak maak, is hoe jy werk, watter waardes jy uitleef, en of jy jou kliënte met respek en opregtheid hanteer. Hy glo vas dat God ʼn plan het met elkeen, en dat ʼn mens met geloof en harde werk op enige plek kan floreer – mits jy getrou bly aan jouself en jou roeping.
As hy vandag terugkyk op sy reis, is dit met trots en dankbaarheid. Hy weet dat hy nie alleen hier uitgekom het nie – hy is waar hy is danksy die mense wat God oor sy pad gestuur het. En met dié perspektief moedig hy ander jong mense aan om te glo dat hulle ook “hier hoort”. Dit maak nie saak hoe klein jou dorp is nie – sukses begin by geloof in jouself, ʼn gewilligheid om te werk, en ʼn hart wat nederig bly.

Hoewel sy besigheid vandag goed vaar en dit sy tyd en energie volledig opeis, droom hy steeds daarvan om eendag ʼn meesterloodgieter (“master plumber”) te word. Hy bly op hoogte van nuwe produkte en metodes in die bedryf en doen gereeld kursusse om homself te versterk. Vir nou ploeg hy alles terug in sy onderneming in – met die wete dat die regte tyd vir verdere kwalifikasies nog sal kom.
Stefan se storie is ʼn getuienis van karakter, geloof en volharding. Bo alles is dit ʼn uitnodiging aan elkeen wat onseker is oor hul plek in Suid-Afrika om te glo – #JyHoortHier.
Sluit vandag nog by Solidariteit se Mynbousektorgroep aan en kry toegang tot artikels, meningstukke, werksgeleenthede en hulpbronne. Dit is jóú aanlyn beroepstuiste!