
Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
95 000 mense verloor hul werk – waarom die Solidariteit Werk-platform jou anker is
Deur Leré Nel
Suid-Afrika se formele sektor het binne slegs een jaar 95 000 werksgeleenthede verloor. Volgens Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingspeiling(QES) het die land in die eerste kwartaal van 2025 minder as 10,6 miljoen mense in diens gehad. Die handelsektor is veral swaar getref, met 52 000 werksgeleenthedewat in die slag gebly het, terwyl gemeenskapsdienste ʼn verdere verlies van 17 000 werksgeleenthede aangeteken het.
Hierdie verliese is nie net syfers op papier nie – dit is ʼn ernstige slag vir duisende gesinne. “Wanneer duisende mense hul inkomste verloor, word die impak nie net ekonomies gemeet nie; dit word gemeet in die honger van ʼn kind, die afwesigheid van mediese sorg en die verlies aan hoop in die oë van ʼn ouer wat nie weet wat môre gaan bring nie,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.
Die QES toon verder dat 55 000 voltydse en 19 000 deeltydse werksgeleenthedein dieselfde tydperk verdwyn het. Dit dui daarop dat selfs deeltydse werk, dikwels ʼn noodsaaklike oorlewingstrategie – al hoe skaarser word, met jong mense, vroue en laer geskoolde werkers wat die knou eerste voel.
Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê: “Dis kommerwekkend om te sien dat werkloosheid nie net toeneem nie, maar ook dat die aantal mense in diens afneem.
“Hierdie werksverliese is die gevolg van ʼn ekonomie wat nie groei nie – belas deur oormatige regulasies, hoë belasting en raswette wat groot onsekerheid skep. Die ekonomie kan slegs groei as die regering van hierdie struikelblokke ontslae raak.”
ʼn Onlangse verslag deur die SNI het bevind dat Suid-Afrika jaarliks 3% van sy ekonomiese groei prysgee as gevolg van raswette en swart ekonomiese bemagtiging (SEB). “As dit nie vir hierdie wette was nie, sou ons oor die afgelope jaar meer as 200 000 nuwe werksgeleenthedegeskep het, eerder as om 95 000 te verloor,” sê Du Buisson.
Bou aan jou eie toekoms – sonder rasbeperkings
Hierdie skokkende syfers beklemtoon waarom ons glad nie op die regering kan staatmaak nie. Ons moet self oplossings vir hierdie werkloosheidskrisisvind.
Die Solidariteit Werk-platform is juis vir hierdie doel geskep, asook die beroepsnetwerke.
Solidariteit se Werk-platform is ontwerp om ʼn ruimte vry van SEB-vereistes, rasseteikens en kwotas te wees – ʼn plek waar mense kan werk soek en wéét dat hulle werklik op grond van meriete, vaardighede en werksetiek gekies word. Daar is geen “Ras”-blokkie om in te vul nie!
Solidariteit se beroepsnetwerke is ook daargestel om dit vir mense moontlik te maak om hulself organies in die werksmag te organiseer. Daar is geen belaglike “teikens” wat byvoorbeeld vereis dat prokureurs eerder in die konstruksiebedryf moet gaan werk omdat daar “te veel vroulike prokureurs” is nie. Hier kan jy jou netwerk uitbou en mense in jou bedryf leer ken. Jou droomwerk wag vir jou – jy moet nog net die regte mense ontmoet om daar uit te kom!
Hannes Noëth sê dat Suid-Afrika se toekoms nie in die statistiek geskryf sal word nie. As jy glo dat jou werk – en jou gesin se toekoms – nie deur jou ras bepaal moet word nie, is die Solidariteit Werk-platform én die beroepsnetwerke jou beste vennoot.