loading
Artikels
17 uur gelede
dit-is-sinneloos-om-vir-ramaphosa-te-luister-oor-seb

Foto Krediet: Verskaf

‘Dit is sinneloos om vir Ramaphosa te luister oor SEB’

President Cyril Ramaphosa gooi in sy jongste nuusbrief weer wal oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

Hy noem ons land se bemagtigingswette – selfs nou in 2025 – praktiese, haalbare en aanpasbare maatreëls wat die sondes van die verlede aanspreek.

Ramaphosa sê wette soos dié oor SEB is hier om te bly, want die rassesamestelling van eienaarskap en beheer van die ekonomie moet verander en daarmee saam moet inklusiewe groei plaasvind.

Teen hierdie tyd is dit duidelik dat enigeen wat die waarheid só kan verdraai, ander motiewe het.

Nou is die vraag, wat sal die motief wees? Die antwoord: SEB baat die tenderpreneurs van ons dag – ANC-begunstigdes soos Ramaphosa.

In sy gesprek met Pieter Jordaan moedig Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) mense aan om die SNI se verslag oor die koste van voldoening aan SEB te gaan lees.

Dit beklemtoon die omvang van die SEB-leuens. (Lees die verslag hier).

“Hulle (die kaders) vat die bietjie welvaart wat nog oor is nadat die ANC se 30 jaar van verwoesting sy tol geëis het en verdeel dit onder mense wat ANC-belange het, insluitend Cyril Ramaphosa en sy familie. En dan voer hulle aan dat dit die wyse is waarop die ekonomie georganiseer behoort te word,” sê Du Buisson.

Hierdie botsing van belange is volgens Du Buisson so duidelik soos daglig, maar tog word dit in die naam van “regstelling” deur sommiges geïgnoreer.

“Ongelykheid word intussen al hoe erger, al is die doel van hulle transformasie juis om ongelykheid aan te spreek. Die armes word al hoe armer. Die SEB-begunstigdes se lojaliteit is teenoor die ANC en nie teenoor die land en sy mense nie.

“Daarom is dit sinneloos om te luister na wat mense soos Cyril Ramaphosa oor SEB sê. Kyk liewer na wat hulle doen. Daar is nie ʼn belangstelling om die land op te hef of om iemand se lewensstandaarde te lig tensy dit hulleself, hulle familie of hulle vriende is wat opgehef word nie,” sê Du Buisson.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel