
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Gesloer met Zondo-verslag: Duisende staatskapers moet boet soos Molefe-hulle
Pieter Jordaan
Die blote feit dat ons as belastingbetalers ná die verliese van staatskaping nagenoeg R1 miljard moes opdok vir die Zondo-ondersoek en -verslag is erg genoeg om aan te sluk.
Tog sou die buitensporige uitgawe minstens positiewe opbrengs kon lewer as dit maar was dat daar opgetree is teen die nagenoeg 1 438 mense teen wie daar bewyse van staatskaping, korrupsie of bedrog in die Zondo-verslag onthul is.
Onder hierdie 1 438 is hoë-vlak ANC-politici en ander staatsamptenare. Dit is mense wat nou nog in gesagsposisies sit.
Dit verduidelik ook waarom die politieke wilskrag om persone aanspreeklik te hou so afwesig is.
In die afgelope dae kon ons toe darem verneem dat parlementslede Brian Molefe en Siyabonga Gama – beide voormalige uitvoerende hoofde by Transnet – saam met ʼn paar ander beskuldigdes op 18 aanklagte van allerhande slegte soorte gearresteer is.
Dit hou hoofsaaklik verband met die aanskaf van meer as ʼn duisend lokomotiewe vir Transnet op ʼn manier wat die Molefe-spul en hulle skelm vriende met miljoene bevoordeel het.
R50 000 se borgtog elk was egter genoeg om hulle vir nou op vrye voet te hou met die saak wat op 6 Oktober eers hervat.
Wat werklik nodig is, is vervolging en daarom is hierdie opflikkering in aksie wat die Zondo-beskuldigdes betref lank nog geen rede om oor opgewonde te raak nie.
Molefe-hulle se verbreking van hulle verbintenis met die ANC en lidmaatskap by die staatskapingsbende in die MK-party het hulle waarskynlik tot voor in die tou laat spring waar duisende beskuldigdes na regte behoort te staan en wag op vervolging.
Dit sluit nie net mense soos Jacob Zuma, of Ajay en Atul Gupta in nie. Dit sluit ook ANC-bekendes soos Gwede Mantashe en Nomvula Mokonyane in en soveel ander name wat vandag nog vir een of ander onverklaarbare rede ʼn politieke sê in Suid-Afrika het.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Molefe en Gama se arrestasie verwelkom en die hoop uitgespreek dat dit ʼn duidelike boodskap aan ander staatskapers uitstuur.
“Daar is ʼn sterk saak teen hulle. Ons vertrou dat die arrestasies net die begin sal wees. Daar is talle ander staatskapers wat ook hulle dag in die hof verdien,” het Hermann gesê.
Solidariteit het ook deel gehad aan die stryd teen staatskaping – veral waar dit openbare instellings soos Eskom, Denel en die SAL geraak het.
Dit is veral in Solidariteit en sy lede se belang dat daar iets van die Zondo-verslag kom, maar dit is ook in die hele Suid-Afrika se belang.