loading
Artikels
1 dag gelede
oorleef-n-aflegging-so

Foto Krediet: OkayDeer

Oorleef ʼn aflegging só

Deur Lize-Mari Verster

Solidariteit staan sy lede by tydens die uitdagende proses van aflegging deur ʼn omvattende netwerk van ondersteuning wat daarop gemik is om hulle nie net te beskerm nie, maar ook te bemagtig en toe te rus vir die pad vorentoe. Afleggings het ʼn emosionele en finansiële impak en daarom bied Solidariteit praktiese hulpbronne en bystand aan.

Stappe om ʼn aflegging te oorleef:

Emosionele en maatskaplike ondersteuning

1. Ondersteuning

ʼn Aflegging kan gevoelens van isolasie en onsekerheid veroorsaak. Dit is kritiek dat jy nie alleen deur hierdie tyd gaan nie. Deur jou situasie en gevoelens met vertrouelinge te deel, bou jy ʼn noodsaaklike emosionele ondersteuningsnetwerk.

Solidariteit bied ʼn gemeenskap vir jou waar jy jou nood kan deel hetsy dit met jou familie, vriende, kerk of breër gemeenskap is. Moenie huiwer om ook professionele hulp van maatskaplike werkers of verwante organisasies te soek nie; hulle is toegerus om bystand te bied in tye van nood.

2. Berading

Aflegging is ʼn traumatiese gebeurtenis wat professionele emosionele verwerking kan noodsaak. Berading help individue om die skok te hanteer, gevoelens van verlies of woede te verwerk, en konstruktiewe hanteringsmeganismes te ontwikkel.

Jy kan vir die bystand van ʼn maatskaplike werker aanklop by Helpende Hand, AfriForum se trauma-eenheid of by jou kerk en jou onmiddellike gemeenskap. Hierdie organisasies bied veilige ruimtes om die emosionele impak van ʼn aflegging te bespreek en te bestuur.

3. Stresbestuur

Die onsekerheid en finansiële druk wat met afleggings gepaardgaan kan tot erge stres lei, wat beide geestelike en fisiese gesondheid negatief kan beïnvloed. Aktiewe stresbestuur is noodsaaklik vir veerkragtigheid.

Jy kan vir Helpende Hand en in jou onmiddellike gemeenskap vir bystand vra.

Praktiese bystand

4. Finansiële advies

Werkers wat afgelê word staar dikwels finansiële onsekerheid in die gesig. Solidariteit Finansiële Dienste (SFD) speel ʼn kritieke rol deur lede te adviseer oor die verantwoordelike bestuur van hul skeidingspakkette. Dit sluit in leiding oor beleggingsopsies, die aanwending van fondse om skuld te delg, en belangrike advies rakende pensioenfondse. Hierdie bystand help lede om finansiële stabiliteit te handhaaf tydens die oorgang.

5. Briewe aan debiteure

Indien aflegging jou vermoë beïnvloed om skuldverpligtinge na te kom, is dit belangrik om proaktief met krediteure te kommunikeer.

Gebruik hierdie templaat van Helpende Hand om jou te help om negatiewe kredietrekords te vermy.

6. Aansoek vir WVF

Die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF) bied ʼn finansiële buffer tydens werkloosheid. Dit is ʼn statutêre reg vir kwalifiserende werkers.

Gebruik die aanwysings in die Helpende Hand-dokument en vra bystand met jou aansoek vir werkloosheidsversekering in jou onmiddellike omgewing.

7. Aansoek om toelaes

Buiten WVF, mag individue kwalifiseer vir ander vorme van finansiële bystand, soos maatskaplike toelaes (bv. SASSA-toelaes), afhangende van hul persoonlike en finansiële omstandighede.

https://www.gov.za/faq/government-services/how-do-i-apply-social-grant

Solidariteit is ʼn sleutelhulpbron wat jou kan help om so gou as moontlik weer ekonomies aktief te raak. Solidariteit bied die volgende hulpbronne vir loopbaanvoorbereiding:

8. Opstel van jou CV en voorbereiding vir onderhoude

Lede kan by Solidariteit se beroepsnetwerke of hulle Leer-afdeling aanklop vir kursusse en praktiese hulp met die opstel van professionele CV’s en voorbereiding vir werksonderhoude.

9. Werkplasings

Die uiteindelike doel na aflegging is herindiensneming. Solidariteit se werkportaal dien as ʼn brug na nuwe werksgeleenthede deur lede te help om beskikbare poste te identifiseer wat by hul vaardigheidsprofiel pas. Lees meer hier.

10. Opleiding en leer

Solidariteit beskou opleiding en deurlopende leer as integrale komponente van loopbaanveerkragtigheid, veral ná ʼn ontwrigting soos ʼn aflegging. Solidariteit bied beroepsgerigte opleiding vir lede. Kursusse soos Entrepreneurskap, Tydbestuur, Basiese boekhouding en Finansiële bestuur kan jou help om jou vaardighede op te skerp, nuwes aan te leer, en sodoende jou mededingendheid in die arbeidsmark te verhoog. Lees meer hier.

Gebruik die tydperk ná aflegging deur dit te omskep in ʼn geleentheid vir persoonlike en professionele groei, wat jou beter kan posisioneer vir toekomstige sukses in die werkplek.

Solidariteit wil die negatiewe impak van afleggings vir jou versag en jou bemagtig met die nodige gereedskap, advies en ondersteuning om jou loopbaan te herbou en finansiële welstand te verseker. Registreer vandag nog jou profiel by Solidariteit, klik hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel