loading
Artikels
9 uur gelede
pasop-vir-werkslenters-wat-jy-moet-weet-om-jouself-te-beskerm

Foto Krediet: Pexels

Pasop vir werkslenters: Wat jy moet weet om jouself te beskerm

Deur Mandy-Michelle Thackwray

Werksoek kan emosioneel en uitdagend wees – en dan is daar boonop die groeiende risiko van werkslenters. Elke jaar word baie Suid-Afrikaners die slagoffers van vals werkaanbiedinge. Hierdie swendelary lei dikwels tot finansiële verliese én ʼn verlies aan vertroue in die arbeidsmark.

Wat is ʼn werkslenter?

ʼn Werkslenter verwys na enige geleentheid waar daar tydens die werkaansoekproses van jou verwag word om geld te betaal om die pos te bekom.

Soms word werksoekers na sogenaamde onderhoude genooi, waar hulle dan op die dag gevra word om ʼn fooi te betaal – hetsy vir “plasing”, uniforms, toerusting of “verpligte opleidingskursusse”. Hierdie “werkplekke” lyk eg, maar word dikwels tydelik gehuur en ingerig net vir die doel van bedrog.

Nog ʼn algemene slenter behels SMS’e waarin jy gevra word om ʼn woord soos “werk” na ʼn sekere nommer te stuur vir meer inligting. Die gevolg? Jou selfoonrekening word verhoog, dikwels sonder dat jy presies weet waarvoor jy betaal het.

Volgens Suid-Afrikaanse wetgewing is dit onwettig om enige fooi van ʼn werksoeker te vra in ruil vir ʼn werksgeleentheid. Enige organisasie wat dit doen, oortree die wet.

Daar is twee hoofsoorte bedrieërs:

  1. Diegene wat jou persoonlike inligting wil bekom – soos jou ID-nommer en bankbesonderhede – om dit vir identiteitsdiefstal of ander misdade te gebruik.
  2. Diegene wat eenvoudig geld uit jou wil pers met slim, emosioneel manipulerende beloftes van werk.

Hoe kan jy jouself teen werkslenters beskerm?

Wees versigtig vir werkadvertensies wat:

  • te goed klink om waar te wees, soos buitensporig hoë salarisse vir intreevlakrolle
  • geen onderhoudsproses vereis nie, of wat slegs ʼn kort aanlyn gesprek benodig
  • ʼn gebrek aan spesifieke werkvereistes het, maar wat baie klem plaas op die voordele
  • spelfoute en swak taalgebruik bevat, of wat gratis e-posadresse soos pretoriawerk@gmail.com gebruik
  • vra vir persoonlike inligting, soos bankbesonderhede of ID-nommers, voordat ʼn formele werkaanbod gemaak is.

Slenters teiken dikwels algemene beroepe met ʼn hoë aanvraag, soos administratiewe assistente, ontvangspersone of fabriekswerkers.

As jy onseker is oor ʼn pos of maatskappy, gaan soek dit aanlyn. Betroubare ondernemings het gewoonlik ʼn aanlyn teenwoordigheid, soos ʼn webwerf of sosialemediaprofiele. Indien jy geen inligting kan vind nie, is dit beter om weg te bly.

Wat om te doen as jy ʼn slenter raakloop

  1. Rapporteer dit aan die platform (soos Facebook, Indeed of Gumtree) waar jy die advertensie gesien het.
  2. Dien ʼn klag by die polisie in sodat hulle die voorval kan ondersoek.
  3. Waarsku ander werksoekers deur jou ervaring op betroubare forums of Facebook-groepe te deel.
  4. Moenie jou persoonlike inligting deel nie, en beëindig enige verdere kommunikasie met die betrokke persoon of organisasie.

Werkslenters is ʼn werklikheid waarmee werksoekers moet rekening hou. Met die regte kennis en ʼn gesonde dosis waaksaamheid kan jy jouself beskerm en ander help om veilig te bly. Onthou, werk behoort gratis toeganklik te wees, en geen betroubare werkgewer sal ooit geld van jou vra om vir ʼn pos oorweeg te word nie.

Bly ingeskakel by die Solidariteit Werk-platform vir meer inligting oor werk soek, werk kry en selfontwikkeling.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel