
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Ek is ʼn maatskaplike werker, maar die wêreld sien my anders
Deur Kyla-Ann du Toit
Maatskaplike werkers het ʼn enorme verantwoordelikheid om kwesbare mense te ondersteun, gemeenskappe te versterk en strukturele verandering te dryf. Tog ervaar baie maatskaplike werkers dat die algemene publiek ʼn baie beperkte beeld het van wat hulle eintlik doen.
Volgens Dané Kotze, streeks- maatskaplike werker by Solidariteit Helpende Hand in die Wes-Kaap, word maatskaplike werkers dikwels gereduseer tot die “welsyntannie” wat kinders kom wegneem, óf die een wat net kos en klere uitdeel. Hierdie stereotipes neem nie net die beroep se geloofwaardigheid weg nie, maar steel ook die trots en selfvertroue van mense wat jare se opleiding en kundigheid belê om betekenisvolle verandering teweeg te bring.
“Daar ʼn onrealistiese verwagting van die publiek dat maatskaplike probleme onmiddellike resultate of oplossings behoort te hê,” sê Dané. “Wanneer resultate nie onmiddellik realiseer nie, word maatskaplike werkers verkeerdelik as onbevoeg of ondoeltreffend beskou, sonder begrip vir die hoë werkslading, die beperkte of gebrek aan hulpbronne, én die ingewikkelde regsprosesse en strukture waarin hulle moet werk.”
Invloed op selfbeeld: ʼn stille stryd
Hierdie wanpersepsies het nie net ʼn invloed op die publiek nie, maar ook op die selfbeeld van maatskaplike werkers. “Dit voel soms asof jou stem nie krag dra nie, jou werk en tyd nie goed genoeg is nie, en jy nie almal se onrealistiese standaarde kan nakom nie,” sê Dané. Hierdie twyfel in maatskaplike werkers sny diep, want vir maatskaplike werkers gaan dit nie oor roem of openbare erkenning nie, maar oor hul roeping om werklik ʼn verskil te maak.
Ten spyte hiervan vind hulle krag in hul kollegas, in netwerke en in die stories van hoop en deurbrake wat hulle daagliks raaksien. Volgens Dané is dit hierdie oomblikke – wanneer ʼn kind matriek voltooi omdat iemand in hom geglo het, of wanneer ʼn pleegma ʼn kind se pyn raaksien en nie net sy gedrag nie – wat hulle aan die rede herinner waarom hulle die beroep gekies het.
Wanneer jou professionele stem nie tel nie
Maatskaplike werkers ervaar dikwels dat hul professionele opinies en aanbevelings nie ernstig opgeneem word nie, veral binne regsprosesse of in skole. Besluite oor kinders se versorging of gesinsprobleme word soms oor hul koppe geneem, sonder dat hulle kundige insette behoorlik oorweeg word. Volgens Dané is daar enkele plekke waar die stem van maatskaplike werkers wel gerespekteer word – en dit is presies in daardie ruimtes van samewerking waar hul werk regtig kan floreer.
Sy vertel dat skole soms onrealistiese verwagtinge het en dat gesins- of gedragsuitdagings “vinnig” opgelos moet word, en wanneer dit nie gebeur nie, word maatskaplike werkers as ontoereikend afgemaak. Tog lê die waarde van hierdie beroep juis in langtermynverhoudings en volgehoue ingryping.
“Wanneer jy as professionele maatskaplike werker met kundigheid ʼn doeltreffende en volhoubare plan aanbied en dit summier afgekeur word omdat dit nie binne die skool se bestaande stelsel pas nie, voel dit asof jou stem nie saak maak nie,” sê Dané.
Herinnering aan selfwaarde: Jý maak werklik ʼn verskil
Dané beskryf roerend hoe sy steeds weet sy dra by, selfs al is daar nie applous of openbare erkenning nie. Soms is dit net ʼn stil dankie of ʼn klein oomblik van deurbraak agter toe deure wat herinner aan die ongelooflike rol wat maatskaplike werkers speel. “Ons werk dra geweldige gewig. Die verantwoordelikheid is groot, soms oorweldigend, maar die waarde is soveel groter,” sê sy.
“Dit is vir my ʼn roeping en ʼn voorreg om daar te wees en om daardie klein bietjie lig saam met ander te dra. En elke keer as ek begin twyfel, dink ek terug aan daardie mense – hul name, gesigte en stories – en dan weet ek: Ek dra werklik by.”
Hoe kan ons hierdie persepsie verander?
Daar ís hoop. Volgens Dané kan groter sigbaarheid en eerlike stories help om persepsies te begin verander. As die publiek nie verstaan wat maatskaplike werk regtig doen nie en die rol wat hulle in gemeenskappe speel nie, kan hulle dit nie waardeer nie. Sonder om vertroulikheid te skend, kan kernstories gedeel word om begrip en empatie te kweek.
Verder is dit noodsaaklik dat maatskaplike werkers mekaar aktief versterk, nie net deur formele opleiding nie, maar deur netwerke soos die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, waar hulle idees kan deel, mentorskap kan ontvang en saam oplossings vir uitdagings in die beroep kan vind. Só bou ʼn beroep trots en selfvertroue opnuut en word die impak daarvan sigbaar gemaak.
ʼn Beroepsgemeenskap wat jou ondersteun
In Julie skop die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk se nuwe mentorskapreeks “Perspektief in Praktyk” af wat ʼn aanlyn vraag-en-antwoord-sessie is. Hierdie sessies sal vier keer per jaar plaasvind en is gratis beskikbaar vir lede. Hierdie reeks gee maatskaplike werkers die geleentheid om direk met kundiges te gesels oor temas soos bindingsterapie, hoëkonflik-egskeidings, skooluitdagings en bejaardesorg. Deelnemers kan vooraf vrae indien sodat praktiese, toepaslike oplossings bespreek kan word. Hierdie mentorskap bied nie net professionele leiding nie, maar ook ʼn waardevolle platform vir leer, deel en groei binne ʼn ondersteunende netwerk.
As maatskaplike werker is jy ʼn professionele kundige, vegter op die voorste linie en hoopdraer. Jy voel dikwels alleen, maar jy is nie! Deur saam stories te deel, mekaar te ondersteun en mentorskap te benut kan ons daardie vonk wat soms verlore raak, weer laat opvlam.
Hou die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk se aanlyn groep dop vir meer inligting oor hierdie mentorskapreeks. Sáám kan ons die wêreld se persepsie oor hierdie waardevolle beroep verander!