loading
Artikels
15 uur gelede
die-sensasiejag-wat-maatskaplike-werkers-straf

Foto Krediet: OkayDeer

Die sensasiejag wat maatskaplike werkers straf

Deur Kyla-Ann du Toit

In ʼn tyd waarin mense so behep is met die aantal “klikke” en “kykers” is dit nie vreemd dat sekere media stories met emosionele en woedebelaaide invalshoeke opblaas nie. Bianca Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, sê hulle sien gereeld hoe maatskaplike werkers as die “skurke” uitgebeeld word, sonder dat die volle konteks en die komplekse wetlike raamwerk behoorlik aan die publiek verduidelik word. Die resultaat? ʼn Eenvoudige, sensasionele narratief wat vinnig emosies ontlok, maar waarin die waarheid eenkant toe geskuif is.

“Weens hul etiese kode kan maatskaplike werkers hulself nie altyd met al die feite verdedig nie, en dan gebeur dit dat net een kant van die storie baie mooi ingekleur in die media beland,” sê Bianca. Hierdie verdraaiings versterk bestaande stereotipes dat maatskaplike werkers net kinders verwyder, terwyl ons weet die beroep is in werklikheid véél dieper en breër.

Sensasie bo feite: die media se gevaarlike narratief

Wanneer sulke sensasiegedrewe berigte die lig sien, is die skade nie net persoonlik nie. “Die hele beroep word veralgemeen en gestigmatiseer,” verduidelik Bianca. Gemeenskappe begin oor maatskaplike dienslewering twyfel en vertroue daal drasties. Dit veroorsaak dat mense minder bereid is om hulp te vra of sake aan te meld, wat uiteindelik die kwesbaarstes in die samelewing benadeel – kinders, bejaardes en gestremdes wat nie self hul stem kan laat hoor nie.

Oor die lang termyn het hierdie skade die potensiaal om professionele mense uit die beroep te dryf. “Goeie maatskaplike werkers gaan padgee en nuwe intreders gaan wegbly,” waarsku Bianca. “En dan gaan kinders of bejaardes nie die nodige hulp en ondersteuning ontvang nie.” Daarby daal die moraal onder maatskaplike werkers só erg dat baie self professionele hulp moet soek, of die professie sommer heeltemal verlaat.

Praktiese riglyne vir maatskaplike werkers

Wat kan jy doen as jy skielik in die spervuur van die media beland? Bianca gee praktiese raad:

  • • Bly emosioneel gereguleerd – moenie impulsief reageer nie.
  • • Versamel dadelik al jou feite en dokumentasie rakende die saak sodat jy jou besluite eties en professioneel kan staaf.
  • • Bewaar alle dokumente van kliënte, hofbevele, korrespondensie en professionele notas op ʼn veilige plek, met duidelike datums en objektiewe taal.
  • • Hou jou mandaat, prosedures en beleide byderhand om jou optrede te verduidelik indien nodig.
  • • Kry hulp – byvoorbeeld deur die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk – vir arbeidsregtelike leiding, mediaverklarings of selfs woordvoering.

Bianca beklemtoon dat Solidariteit-lede wat onregverdig in die media uitgebeeld word, dadelik die netwerk moet kontak. “Ons kan lede met regsadvies ondersteun en help om jou saak professioneel aan te bied.”

Mediahantering: hoe om slim en professioneel te reageer

“Wanneer joernaliste jou nader, is dit belangrik om nie bloot stil te bly nie,” sê Bianca. “Dit is nodig dat jy binne die etiese riglyne kommentaar lewer, want indien jy geen kommentaar lewer nie, laat dit jou skuldig lyk.” Jou stem as maatskaplike werker moet gehoor word sodat jy nie net as ʼn anonieme “verslag” gesien word nie, maar as ʼn mens met integriteit.

Wees egter versigtig: as jou kommentaar jou of jou organisasie op etiese gebied in die moeilikheid kan laat beland, is dit beter om stil te bly. As jou menswees egter aangeval word, is dit belangrik om op rekord te reageer.

Professionele voorbereiding maak die verskil. Bianca sê maatskaplike werkers moet hul vaardighede in emosionele regulering, wat hulle immers aan kliënte leer, self toepas. “Identifiseer jou emosies en klankbord met ʼn betroubare kollega voordat jy onmiddellik reageer,” sê sy. Só voorkom jy dat jy uit ʼn plek van frustrasie praat eerder as uit jou professionele kennis.

Bou saam aan die beroep se gesag

Die krag van die media moenie onderskat word nie. Wanneer sensasieberigte onwaar of eensydig versprei word, word nie net ʼn individu benadeel nie, maar die beroep as geheel. Dit vra dat maatskaplike werkers hulself met dokumentasie, regskennis en netwerk-ondersteuning toerus én dat ons mekaar daaraan herinner dat professionele stemme die reg het om gehoor te word.

Bianca en haar span is tans besig om ʼn saak te hanteer waar een van ons eie maatskaplike werkers in die media as sondebok uitgebeeld is. Haar praktiese wenke herinner ons daaraan dat jy nie alleen hoef te staan nie. Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk bied nie net regs- en arbeidsbystand en -advies nie, maar ook die nodige ondersteuning om jou storie korrek te vertel – sodat jou werk, jou kundigheid en jou waarde nie verlore gaan tussen opskrifte nie.

Sluit vandag nog by die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk aan en word deel van jou beroepsgemeenskap – ʼn veilige hawe vir maatskaplike werkers! Klik hier vir meer inligting.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel