
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Seksuele teistering: ʼn Gids vir kantoorpraktisyns
Deur Johan Roos, Solidariteit-netwerkorganiseerder
Wat is seksuele teistering?
Seksuele teistering is nie net ʼn woord op papier nie – dit beïnvloed mense se werkservaring, selfbeeld en hulle gevoel van veiligheid. Dit gebeur wanneer iemand ongevraagde gedrag van ʼn seksuele aard toon, wat vir die ander persoon ongemaklik, vernederend of intimiderend is.
Dit is belangrik om te verstaan dat seksuele teistering nie dieselfde as wedersydse flankering of romanse is nie. As daar nié instemming is nie, óf wanneer een persoon op enige punt onveilig, benoud of ongemaklik voel, is dit teistering.
Selfs as daar voorheen ʼn verhouding tussen kollegas was, kan dit seksuele teistering word sodra een van die partye nie meer gemaklik met die aandag is nie.
Hoe weet ek dit is seksuele teistering?
Daar is nie altyd bindende reëls nie, maar hier is ʼn paar riglyne wat jou sal kan help:
- • Jy het reeds gesê jy voel ongemaklik, maar die gedrag hou aan.
- • Jy ontvang seksuele opmerkings of boodskappe sonder instemming.
- • Jy voel onderdruk om iets te moet toelaat uit die vrees dat jy jou posisie of voorregte in die werkplek gaan verloor.
- • Jy word seksueel benader deur iemand wat mag of beheer oor jou werk het.
- • Jy voel skaam, bang of geïntimideer na die voorval – selfs al sukkel jy om dit te benoem.
Seksuele teistering kan fisies (bv. ongevraagde aanraking), verbaal (bv. seksuele opmerkings) of selfs stil (bv. suggestiewe kyke, gebare of boodskappe) wees.
Enige persoon kan geteister word — mans, vroue, persone van enige geslag of seksuele oriëntasie. Die teisteraar is ook nie noodwendig ʼn bestuurder nie; dit kan ʼn kliënt, kollega of selfs ʼn gereelde besoeker aan die kantoor wees.
Almal werk met verskillende kulture en agtergronde, maar daar is een reël wat altyd geld: niemand het die reg om jou “nee” te ignoreer nie.
Wat om te doen as jy geteister word
Seksuele teistering laat mense dikwels verward, skaam en selfs skuldig voel – asof hulle oorreageer of asof dit hulle skuld is. Dit is nie. Jy het die reg om veilig en met waardigheid te werk.
Hier is wat jy kan doen:
1. Noem dit vir wat dit is
Sê duidelik vir die persoon dat hulle gedrag of opmerkings jou onveilig en ongemaklik laat voel. Wees duidelik:
“Wat jy gesê het maak my ongemaklik. Ek wil hê jy moet ophou.”
Jy hoef nie vriendelik te wees wanneer jou grense oorskry word nie. Jy is nie verplig om hul gevoelens bo jou eie veiligheid te plaas nie.
2. Hou rekord van wat gebeur
Maak aantekeninge op jou foon of in ʼn notaboek. Skryf neer:
- • Wat het gebeur?
- • Wanneer het dit gebeur?
- • Waar het dit gebeur?
- • Was daar enige getuies?
- • Wat was jou reaksie?
Stoor ook enige WhatsApp-boodskappe, e-posse of notas wat as bewyse kan dien. Jy hoef dit nie onmiddellik met enigiemand te deel nie, maar dit is belangrik om bewyse te hê.
3. Praat met iemand wat jy vertrou
Deel jou ervaring met iemand wat professioneel, diskreet en betroubaar is – ʼn kollega, mentor of vriend. Jy hoef nie alleen deur dié proses te werk nie.
Indien daar ʼn gespesialiseerde persoon in jou werkplek is waar jy dit kan aanmeld (soos ʼn mensehulpbronbeampte of etiekbeampte), kan jy hulle nader. As jy onseker is of as jy ʼn formele klagte wil maak, kan jy eers informele leiding by hulle vra.
4. Volg die interne proses – of skep een indien nodig
Elke maatskappy behoort ʼn grieweprosedure te hê. Selfs as daar nie een is nie, het jy steeds regte. Jy kan:
- • ʼn formele brief aan jou direkte bestuurder of die hoogste toepaslike persoon rig;
- • die klag tot die hoogste vlak deurvoer, indien dit nie ernstig opgeneem word nie; en
- • vra dat die saak vertroulik en met spoed hanteer word.
As jy vrees vir wraak, noem dit uitdruklik.
5. Onthou: jy is nie alleen nie
Suid-Afrikaanse wetgewing, insluitend die Wet op Diensbillikheid, die Wet op Arbeidsverhoudinge en die goeie praktykkode oor seksuele teistering van 2022, beskerm jou. As jy voel jy kry nie regverdige behandeling binne jou werkplek nie, is daar ook eksterne hulp beskikbaar, insluitend Solidariteit se arbeidsregshulp, die KVBA of selfs ʼn burgerlike proses.
Slotgedagte
Seksuele teistering steel nie net jou sin vir veiligheid nie – dit vat aan jou menswaardigheid. Maar jy hóéf nie te swyg nie. Die feit dat jy hierdie gids lees, wys dat jy nie langer stil wil wees nie.
Jy hoef nie alles self te hanteer nie. Jy kan jou grense benoem, jou waarheid vertel, en ondersteuning vra – op jou eie terme. Kantoorpraktisyns werk dikwels alleen of in ʼn omgewing sonder groot strukture, maar jy verdien steeds beskerming en respek.
Moenie wag vir toestemming om jouself te verdedig nie. Jy het reeds daardie reg reeds.
Sou jy jouself in só ʼn posisie vind, moenie huiwer om die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk te nader vir raad en bystand nie. Die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk is daar om jou in jou werkplek te beskerm en te verseker dat jy jou volle potensiaal bereik. Stuur gerus ʼn e-pos na kantoor@solidariteit.co.za sodat ons jou kan bystaan.
Word vandag nog deel van jóú beroepsnetwerk!