
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die stil struikelblokke wat kantoorpraktisyns se stem demp
Deur Marisha Hermann
In elke kantoor landswyd is daar ʼn groep kollegas wat dikwels as vanselfsprekend aanvaar word – dié wat stil, toegewyd en pligsgetrou dag vir dag die ruggraat van administratiewe funksies vorm. Dit is die kantoorpraktisyns wat groot verantwoordelikheid dra. Tog is dit ʼn groep wat min beskerming geniet, in ʼn wêreld waar magsmisbruik, diskriminasie en onbillike behandeling alte maklik plaasvind. Sulke onregverdige behandeling word dikwels vinnig onder die mat gevee.
Regskending
Diskriminasie of onregverdige behandeling kan verskeie vorme aanneem. Dit kan op grond van jou geslag, ras, ouderdom, geloof of persoonlike oortuigings wees. Soms is dit moeilik om diskriminasie te herken as jy nie ten volle bewus is van wat dit behels nie. Onbillike werksdruk en onrealistiese verwagtinge – soos gereelde oortyd sonder vergoeding – is onregverdige behandeling. Dit sluit ook aan by onbillike vergoeding en kontrakbreuk van die organisasie se kant af. Jou persoonlike inligting mag ook nie sonder jou toestemming gedeel word nie.
Teistering – hetsy verbaal, nieverbaal, fisies, seksueel of in die vorm van afknouery – is regskending. Daar is geen streng kriteria om seksuele teistering te bepaal nie. Johan Roos, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk, deel die volgende riglyne om hiermee te help:
- • Jy het reeds gesê dat jy ongemaklik voel, maar die gedrag duur voort.
- • Jy ontvang ongevraagde seksuele opmerkings of boodskappe.
- • Jy voel verplig om sekere gedrag te duld of toe te laat om te verhoed dat jy jou posisie of werkplekvoorregte verloor.
- • Jy word seksueel benader deur iemand wat gesag of beheer oor jou werk het.
- • Jy voel skaam, bang of geïntimideer ná die voorval – selfs al kan jy nie duidelik verwoord wat gebeur het nie.
Maak jou stem dik
Moenie toelaat dat jou stem stilgemaak, jy geïgnoreer of uitgesluit word nie. Wanneer jy regskending ervaar is daar stappe wat jy kan neem om jou stem te laat hoor. Eerstens is dit noodsaaklik om jou regte te ken. Solidariteit bied opleiding, regsadvies en hulpmiddels om jou regte te beskerm!
Maak vervolgens seker dat jy weet wat die bepalings van jou kontrak is en wat van jou verwag word. Dokumenteer alles wat jy ervaar: datums, gesprekke, e-posse, opdragte, en voorvalle. Jy hoef dit nie alleen te trotseer nie. Deel jou bekommernisse met iemand wat jy vertrou – of dit nou ʼn kollega, iemand van die mensehulpbrondepartement, of selfs ʼn vakbondverteenwoordiger is.
Dit is dapper en verantwoordelik om vir jou regte op te staan. Dien ʼn klagte in deur jou werkplek se grieweprosedure. Indien dit ondoeltreffend is, eskaleer die saak deur jou vakbond. Hou jou emosies in toom en tree met respek, waardigheid en professionaliteit op.
Solidariteit kan jou bystaan
Solidariteit glo dat elke werknemer die reg het op ʼn veilige, regverdige en waardige werksomgewing – veral dié wat dikwels as maklike teikens gesien word. Daarom vestig Solidariteit in Julie die aandag op kantoorpraktisyns se regte, beskerming en stem in die werkplek.
“Ons wil nie net bewusmaking skep nie – ons wil bemagtig, beskerm en bou. Hierdie maand word gewy aan dié wat elke dag hard werk sonder erkenning, en wie se regte nie langer in die skadu mag bly nie,” sê Mari Ferreira, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk.
Maak jou stem dik en staan met waardigheid op vir jou regte. Solidariteit is daar om jou by te staan!
Klik hier vir meer inligting.