loading
Artikels
8 uur gelede
kunsmatige-intelligensie-as-hulpmiddel-vir-werksoek

Foto Krediet: OkayDeer

Kunsmatige intelligensie as hulpmiddel vir werksoek

Deur René van der Vyver

ʼn Hamer kan nie self die spyker op die kop slaan nie – dit verg ʼn hand wat hom swaai. Waarom? Omdat die hamer bloot net ʼn hulpmiddel vir die mens is om sy taak te voltooi. Net so moet ons onthou dat kunsmatige intelligensie (KI) ʼn kragtige hulpmiddel kan wees, mits dit net as ʼn hulpmiddel gebruik word en nié as plaasvervanger vir ons unieke vaardighede en vermoëns nie. Dit geld des te meer wanneer ons KI aanwend met die werksoekproses, waar daardie unieke vaardighede en vermoëns juis bemark moet word.

Mandy Thackwray, bestuurder van Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling, deel praktiese wenke oor hoe om KI as ʼn werksoek-hulpmiddel te gebruik. As die verantwoordelike persoon vir werkfasilitering as produk op Solidariteit, kan jy verseker wees dat sy waardevolle insigte bied.

Thackwray begin met ʼn wenk vir werksoekers wat wonder of dit nodig is om hul CV vir elke pos waarvoor hul aansoek doen, aan te pas: “Jy móét jou CV vir elke werkaansoek aanpas. Voeg jou CV en die vereistes van die pos, soos in die advertensie uiteengesit, in ʼn KI-model, soos ChatGPT. Vra dan vir ʼn vergelyking tussen jou vaardighede en die vereistes van die pos, asook vir aanbevelings oor hoe jy jou CV kan aanpas om beter met die posadvertensie belyn te wees.”

Eerlikheid bly egter die belangrikste. Thackwray waarsku dat as ChatGPT onwaarhede voorstel, jy dit nie sommer ondeurdag in jou CV moet gebruik nie. Kyk veral uit vir vaardighede wat ChatGPT dalk bygevoeg, maar wat jy nog nie werklik bemeester het nie. “Moenie dat KI alles vir jou skryf nie. Laat dit jou eerder help om jou eie weergawe te verbeter,”beklemtoon sy.

Die moets en moenies van KI in die werksoekproses, sê Thackwray, is dat jy nie jou persoonlike inligting, soos jou ID-nommer, by die KI-platform moet invoeg nie aangesien dit gevare kan inhou. Dit is nóg ʼn rede waarom KI nie alles namens jou moet doen nie, maar eerder as ʼn hulpmiddel of ʼn bron van aanvanklike inspirasie gebruik moet word. Die belangrikste “moet” is dat jou werk (en CV) jou eie moet wees. Volgens Thackwray kan werkgewers dikwels sien wanneer ʼn CV, dekbrief en biografie deur KI gegenereer is. Daarom is dit van kardinale belang dat jou skryfwerk steeds jou unieke stemtoon en styl weerspieël. Een manier om dit reg te kry, is om generiese taal te vermy en baie spesifiek oor die boodskap wat jy wil oordra, te skryf.

Volgens Thackwray word werkgewers dikwels afgesit deur aansoeke wat duidelik deur KI opgestel is. Om dit te voorkom, moet jy self jou CV opstel en KI nét as ʼn hulpmiddel vir voorstelle en verbeterings gebruik, soos deur byvoorbeeld taalfoute na te gaan. Dit hoef egter nie soos ʼn berg voor jou te lê nie. Inteendeel, dit blyk asof korter CV’s wat op die man af is oor die algemeen beter vaar. KI kan jou help met voorstelle oor die beste formaat, wat deesdae baie spesifiek is, en jy kan dit kort en kragtig hou deur alle onnodige inligting weg te laat. Op Solidariteit kan jy boonop ʼn CV-gids met nuttige wenke vind.

Thackwray sluit af met hierdie belangrike raad: “Oefen al van vroegs af om jou eie unieke stemtoon en styl in jou CV te gebruik, en onthou om jou CV gereeld by te werk soos wat jy vaardighede aanleer of nuwe ervarings opdoen.”

Dié stelling slaan die spyker op die kop: KI is ʼn hulpmiddel wat slim gebruik kan word sodat jy bo ander kandidate in die werksoekproses kan uitstaan. Begin vandag nog jou werksoekreis deur ʼn profiel op Solidariteit te skep en jou CV met behulp van ons CV-gids én KI op te stel sodat jy daardie droomwerk kan losslaan.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel