
Foto Krediet: Solidariteit | Kinderhuisprojek
Gekopieër
Solidariteit se Kinderhuisprojek: ʼn belegging in die toekoms van ons kinders
Deur Kyla-Ann du Toit
ʼn Beter toekoms begin met bemagtiging – en dít is presies wat Solidariteit se Kinderhuisprojek ten doel gehad het. Hierdie inspirerende driedagprojek het ʼn betekenisvolle impak gemaak deur 73 leerders van die Jakaranda-, Bramley-, President Kruger- en Paul Kruger-kinderhuise toe te rus met vaardighede, kennis én selfvertroue vir die wêreld ná skool.
Hierdie projek, gefasiliteer deur Solidariteit se Skoliere-aanbod, in samewerking met die Studente– en Jongwerkende-aanbod, asook die Solidariteit-beroepsnetwerke, is ʼn bewys van die deurlopende ondersteuning wat vir hierdie jong mense se pad vorentoe beskikbaar is.
“Ons stap werklik ʼn pad saam met hierdie leerders en bemagtig hulle met die regte en nodige hulpbronne om loopbaangereed te word,” sê Mari Ferreira, Solidariteit-netwerkorganiseerder. “Elke individu se loopbaanpad is uniek en daarom stap Solidariteit die pad saam met elkeen – deur hul hande te vat om hulle na die volgende fase van hul lewe te neem.”

ʼn Projek met impak
Die projek, wat van 30 Junie tot 2 Julie gedurende die Junie-Julie-skoolvakansie aangebied is, het gefokus op persoonlike ontwikkeling, beroepsvoorligting en praktiese vaardighede – wat leerders nie net help om hul eerste tree in die werkplek te gee nie, maar hulle ook inspireer om groot te droom. Mentorskappe en motiveringsessies het deel gevorm van ʼn goed gestruktureerde program waarin verskeie sprekers, borge en vennote sleutelrolle gespeel het.
Felicia Richardson, spesialis verbonde aan Solidariteit se Skoliere-aanbod, het die program só opgesom: “Ons het hierdie projek aangepak omdat ons glo dat elke jong mens, ongeag hul agtergrond, die reg het om met hoop en rigting na hul toekoms te kyk – want hulle verdien ook goeie werk.”

Waardevolle vennote
Sonder die ondersteuning van borge en vennote sou hierdie projek nie moontlik gewees het nie. Albert van Wyk van die TV-program Maak my ʼn miljoenêr het byvoorbeeld nie net as spreker opgetree nie, maar ook ʼn informele entrepreneurskapskursus ter waarde van R116 800 aan al die leerders geskenk. Hierdie kursus sal hulle leer hoe om hul eie onderneming te begin en hul toekoms self te vorm.
Tydens sy sessie het Albert gesels oor hoe hy bo armoede uitgestyg het en hard gewerk het om te kom waar hy vandag is. Dit het alles begin toe hy op 12-jarige ouderdom ʼn boek oor entrepreneurskap gelees het. Hy het drie praktiese wenke gedeel waarmee leerders ʼn suksesvolle loopbaan kan bou en sy boodskap was duidelik: “Boeke het my wêreld verander, en dit kan julle wêreld ook verander.” Elke leerder gaan ook ʼn eksemplaar van sy topverkoperboek Millionaire at 22 ontvang.

Ander bemoedigende stemme het ingesluit motiveringspreker Maryna Stevenson, asook Chereé Meyer, netwerkorganiseerder van Solidariteit se Studente-aanbod, wat waardevolle wenke gedeel het oor werkplekvoorbereiding, algemene werkpleketiket en hoe om ʼn goeie CV op te stel. Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum het intussen vir al die leerders gratis toegang tot Wolkskool geborg vanaf 1 Junie tot 30 November 2025, wat bykomende akademiese ondersteuning bied. Selfs AfriForum Jeug het ingespring om hand by te sit deur worsbroodjies te verskaf om ʼn lekker kuier ná afloop van sessies te verseker.
Stories wat hartsnare roer
ʼn Hoogtepunt van die program was die inspirerende persoonlike verhale wat met die leerders gedeel is. Richardson het haar eie lewensverhaal met die kinders gedeel en vertel hoe sy self swaarkry oorwin het en daarin geslaag het om haarself uit moeilike omstandighede te kry. Haar eerlike antwoorde op vrae soos “Was daar ooit ʼn tyd wat jy gehoop het iemand kom jou red?” het leerders laat besef dat hulle self die kaptein van hul eie reddingsboot is.
“Soms wens jy iemand kon jou kom red. Maar uiteindelik moet jy besef – niemand gaan jou kom red nie. Jy moet sélf besluit om bo jou omstandighede uit te styg deur hard te werk en hulpbronne tot jou beskikking te gebruik. As ek dit nie besef het nie, sou ek nie wees waar ek vandag is nie.”

Die leerders het hierdie eerlike, rou stories waardeer, veral omdat dit wys dat verandering en sukses moontlik is – selfs onder moeilike omstandighede, en selfs al moet jy dit self bewerkstellig.
“Vir kinders uit kinderhuise is dit nie altyd vanselfsprekend nie, maar deur hulle aan opleiding, geleenthede en mentors bloot te stel, dra ons inligting oor wat hulle dalk anders oor ʼn paar dinge laat dink. Ek glo ons het geloof in hul eie potensiaal gebou,” sê Richardson.
ʼn Propvol en opwindende program
Die program was deeglik beplan en het sessies ingesluit soos:
- • persoonlike ontwikkeling en selfkennis;
- • breinprofiele en belangstellingstoetse;
- • kampusbesoeke aan Akademia, Sol-Tech en Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut;
- • mentorskapgesprekke oor studiekeuses en werk; en
- • praktiese wenke oor werksoek, CV’s, onderhoude, werksetiket en selfs konflikhantering.

Die tema van die laaste dag, “Ek, my beroep en werk” het leerders veral toegerus met realistiese en bruikbare wenke vir die werkplek en die lewe ná skool. Onderwerpe het ingesluit persoonlike voorkoms, hoe om in die werkplek uit te staan en die waarde van goeie verhoudinge en voortgesette leer.
ʼn Werklike verskil
Solidariteit en sy vennote het met hierdie projek gewys dat ʼn belegging in kinders se toekoms meer is as net opleiding – dit gaan daaroor om hoop, selfvertroue en drome in elke jong mens wakker te maak. Die leerders het weggestap met nuwe perspektiewe, beter selfkennis en praktiese gereedskap om hul toekoms met geloof én selfvertroue aan te pak.
“Ek hoop dat hierdie drie dae ʼn bietjie meer selfvertroue in hulle aangewakker het om self ʼn pad vorentoe te kies. Hulle hoef nie noodwendig deel van die statistieke te word nie – hulle kan hul toekoms in hul eie hande neem,” meen Richardson.

Solidariteit wil graag elke borg en spreker bedank wat hul tyd, kundigheid en raad geskenk het om hierdie projek ʼn sukses te maak. Hierdie jong mense het nie net hul kennis verbreed nie, maar ook die nodige gereedskap gekry om dit wat hulle geleer het betekenisvol in hul eie lewens toe te pas.
Klik hier vir meer inligting oor Solidariteit se Skoliere-aanbod en die waarde wat dit tot jóú kind se lewe kan toevoeg.