
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Akademia se Paarl-kampus bereik ʼn nuwe mylpaal
Deur Kyla-Ann du Toit
Akademia het nóg ʼn belangrike mylpaal vir sy Paarl-kampus in die Wes-Kaap bereik. Op 1 Julie het die Raad op Hoër Onderwys (RHO) se Hoëronderwysgehaltekomitee (HOGK) voorwaardelike goedkeuring aan Akademia se nuwe kampusfasiliteit toegestaan. Hierdie ontwikkeling bring Akademia een groot stap nader aan hul droom om voltydse hoër onderwys in Afrikaans in Suid-Afrika uit te brei.
Fasiliteite en infrastruktuur
Die nuwe kampus, wat in Bredastraat 1, Esterville geleë gaan wees, word as ʼn strategiese uitbreiding van Akademia se netwerk beskou. Volgens Tony van der Merwe, bedryfsbestuurder van die Paarl-kampus, sal die inrigting in fases plaasvind. Die bouplanne is tans by die Drakenstein-munisipaliteit vir goedkeuring. “ʼn Tenderproses vir die inrigting van die kampus is suksesvol afgehandel, en daar word voorsien dat die finale inrigting teen 1 Oktober 2025 voltooi sal wees,” sê hy.
Ander opwindende nuus is dat Akademia-studente wat tans via die nauurse afstandsmodel leer en by die Paarl-sentrum ingeskakel is, na die nuwe kampus sal skuif sodra dit gereed is. Dié fasiliteit is ontwerp om ʼn moderne en dinamiese leeromgewing te bied en sal uit lesinglokale, verskeie saamwerkruimtes, twee kafeterias, ʼn ten volle toegeruste mediasentrum, ʼn Sowel-As-koffiewinkel, ʼn winkel vir Akademia-handelsmerkprodukte (bekend as “Die Winkel”), toegangsbeheer en veilige parkering bestaan.
Bekendstelling en personeel
Akademia beplan om die nuwe kampus tydens ʼn spoggeleentheid op 15 Oktober 2025 amptelik aan die media, publiek en voornemende studente bekend te stel.
Prof. Gawie du Toit, wat die rol van kampushoof gaan vervul, sal ʼn span van 47 voltydse personeellede lei wanneer die kampus in Januarie 2026 sy eerste akademiese jaar afskop. Hierdie span sal uit 20 akademiese personeellede en 27 afdelingspersoneel bestaan, met die verwagting dat daar meer as 100 personeellede teen 2028 op die terrein werksaam sal wees.
Akademiese aanbod en visie
Net soos op die Pretoria-kampus, sal die Paarl-kampus akademiese programme uit al vyf van Akademia se fakulteite aanbied, naamlik Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe, Natuurwetenskappe, Onderwys en Regte. Lees hier meer oor die verskeie programme wat Akademia bied.
In reaksie op die voorwaardelike goedkeuring sê Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, dat 2025 ʼn groot jaar vir die instelling is. “Vanjaar werk ons hard daaraan om gestalte aan ons droom én roepingsbesef te gee, naamlik om vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap diensbaar te wees,” sê hy. Volgens Visser is Akademia daartoe verbind om teen 2032 ʼn voorkeurstudietuiste vir meer as 2 000 voltydse Fonties (soos wat Akademia-studente na hulself verwys) in die Wes-Kaap te wees, en só die voortbestaan van Afrikaanse universiteitsonderrig te help verseker.
ʼn Toekoms van groei
Akademia se uitbreiding na die Paarl vorm deel van sy groter strewe om hoër onderwys in Afrikaans te versterk en jong mense in hulle moedertaal te help om hul volle potensiaal te bereik. Die pad is nou oop vir verdere groei en ontwikkeling – tot voordeel van die Afrikaanse gemeenskap.
Lees hier meer oor Akademia se splinternuwe Paarl-kampus.
Bou saam vir die Afrikaanse gemeenskap
Solidariteit deel Akademia se opwinding en sien uit na nóg ʼn wêreldklaskampus. Ons glo dat kennis die beste manier is om ons gemeenskap te beskerm en ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms te verseker.
Lees hier meer oor hoe jy sáám met Solidariteit kan bou – vir jouself en vir jou nageslag!