loading
avatar
Artikels
4 dae gelede
akademia-se-nuwe-paarl-kampus-open-amptelik-sy-deure

Foto Krediet: Verskaf

Akademia se nuwe Paarl-kampus open amptelik sy deure

Deur Leré Nel

Die droom van ʼn volwaardige Afrikaanse universiteit in die Wes-Kaap het hierdie week ʼn werklikheid geword. Akademia het op 15 Oktober 2025 sy splinternuwe kampus in Paarl amptelik aan die publiek en voornemende studente bekendgestel. Voltydse studente sal reeds vanaf 2026 hul studies daar kan begin.

ʼn Tuiskoms vir moedertaalopleiding

Die nuwe kampus is geleë by Bredastraat 1, Esterville, Paarl, en spog met wêreldklasgeriewe en ʼn asemrowende uitsig oor die Drakenstein- en Paarlberge. Volgens Marthinus Visser, uitvoerende hoof van Akademia, is die opening van hierdie kampus ʼn groot belegging in moedertaalonderrig.

“Hierdie kampus behoort nie net aan Akademia nie; dit behoort aan elkeen in die gemeenskap wat glo in die waarde van moedertaalonderrig,” het Visser gesê.

Akademia is in 2012 gestig en het aanvanklik uitsluitlik afstandsonderrig aangebied. In 2021 het die hoëronderwysinstelling uitgebrei met ʼn kleiner voltydse kampus in Centurion, waar studente reeds in ʼn Afrikaanse akademiese omgewing klas kon bywoon en in koshuise kon woon. Die nuwe Paarl-kampus is nou die jongste uitbreiding van hierdie groeiende instelling.

ʼn Moderne kampus met karakter

Die nuwe Paarl-kampus bied moderne geriewe wat ontwerp is vir akademiese uitnemendheid en ʼn lewendige studentelewe. Die fasiliteite sluit in:

  • ruim lesingsale en lokale vir groepwerk;
  • ʼn volkome toegeruste biblioteek;
  • die Sowel-As koffiewinkel;
  • Die Winkel (waar produkte met Akademia se handelsmerk beskikbaar is); en
  • toegangsbeheer en veilige parkering.

Die kampus het reeds 52 voltydse personeellede in diens, en daar word verwag dat hierdie getal teen 2028 tot sowat 88 sal groei. Die kampus verwag ook om in 2026 ongeveer 340 eerstejaars te verwelkom, en teen 2032 sal daar reeds meer as 2 000 voltydse studente op dié kampus wees.

Akademiese aanbod

Vir 2026 bied Akademia in Paarl die volgende kwalifikasies aan – alles in Afrikaans:

Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe:

  • BCom (Ekonomie en Regte)
  • BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)
  • BCom (Ondernemingsbestuur)

Fakulteit Geesteswetenskappe:

  • BA (Kommunikasie en Joernalistiek)
  • BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)

Fakulteit Natuurwetenskappe:

  • BSc (Rekenaarwetenskap)

Fakulteit Opvoedkunde:

  • BEd (Grondslagfase)
  • BEd (Intermediêre Fase)

Fakulteit Regte:

  • LLB

Met die opening van die Paarl-kampus bou Akademia voort aan sy droom om ʼn onafhanklike Afrikaanse universiteit te vestig waar studente regoor die land in hul moedertaal kan studeer, groei en floreer.

Akademia se inskrywings vir 2026 is nou oop. As jy dus jou studies by een van die mooiste kampusse in die land wil begin, besoek hullewebtuiste vir meer inligting.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel