loading
avatar
Artikels
14 uur gelede
solidariteit-se-werkgewerskongres-brei-uit-na-die-wes-kaap

Foto Krediet: Akademia | Paarl

Solidariteit se Werkgewerskongres brei uit na die Wes-Kaap

Deur Kyla-Ann du Toit

Solidariteit, in samewerking met Akademia en Ajani, het op 16 Oktober 2025 die eerste Werkgewerskongres in die Wes-Kaap aangebied. Dié kongres dien as ʼn strategiese en insiggewende geleentheid waar werkgewers, akademici en sakeleiers oop gesprekke voer oor die toekoms van werk, sake-aangeleenthede en gemeenskapsontwikkeling in ʼn veranderende wêreldorde.

Talle werkgewers vanuit verskeie bedrywe het die kongres bygewoon.

ʼn Groeiende gesprek

Die kongres, wat by Akademia se splinternuwe Paarl-kampus gehou is, is die eerste van sy soort in dié provinsie en volg op die sukses van Solidariteit se jaarlikse Werkgewerskongres wat vanjaar in September in Gauteng plaasgevind het.

Volgens Mandy Thackwray, bestuurder van Solidariteit se Werkfasiliteringsafdeling, was die uitbreiding na die Wes-Kaap ʼn natuurlike volgende stap. “Hierdie kongres word jaarliks in Gauteng aangebied, maar ons het besluit om dit vanjaar in die wynlande te kom uittoets. Die doel van hierdie Werkgewerskongres is om werkgewers bymekaar te bring, met hulle te gesels oor wat in die land én in hulle bedrywe aangaan en die impak wat dit op hulle sakeondernemings het.”

Mandy Thackwray, bestuurder van Solidariteit se Werkfasiliteringsafdeling, spreek die gehoor toe.

ʼn Realistiese blik op Suid-Afrika se uitdagings

Een van die hoogtepunte van die dag was die voorlegging deur Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI). Sy toespraak het ’n nugtere, maar hoopvolle blik op Suid-Afrika se huidige werklikheid gebied. Hy het verduidelik dat die land in die middel van ’n diep strukturele krisis verkeer – met ’n verlamde staat, vertragings in wetgewing en groeiende ongelykheid – maar dat hierdie krisis terselfdertyd ’n geleentheid bied vir gemeenskappe en die privaat sektor om die leiding oor te neem.

Mulder het beklemtoon dat werkgewers nie passief mag bly te midde van onsekerheid nie. “Of jy vir die golwe kyk of nie, dit gaan jou nog steeds tref. Jy kan net sowel kyk en leer hoe om hulle te ry,” sê hy. Hy het aangevoer dat inligting en voorbereiding die sterkste beskerming teen ekonomiese en politieke onstabiliteit is, en dat ware oplossings nie van die staat gaan kom nie, maar van georganiseerde gemeenskappe wat selfstandig bou en vaardighede ontwikkel.

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, gesels tydens die kongres oor nasionale gebeure en watter impak dit op werkgewers en die land in geheel het.

Sy kernboodskap was duidelik: Suid-Afrika se uitdagings is groot, maar dié wat selfstandig en strategies optree, het die mag om die toekoms te vorm.

Netwerkgeleentheid en strategiese gesprekke

Benewens die hoofsprekers het die dag ook geleentheid gebied vir persone om te netwerk, strategiese gesprekke te voer en samewerking te fasiliteer tussen werkgewers uit verskeie sektore. Die atmosfeer was een van eerlike gesprek en gedeelde verantwoordelikheid: om te bou, te beplan en nie te wag vir oplossings van die staat af nie.

Bywoners van die kongres maak gebruik van die geleentheid om te netwerk.

Die kongres het ʼn welkome platform gebied waar realistiese gesprekke en praktiese oplossings mekaar kon ontmoet.

ʼn Beweging van toekomsbouers

Met sy Wes-Kaapse debuut het Solidariteit se Werkgewerskongres sy invloed verder uitgebrei – nie net as nog ʼn netwerkgeleentheid nie, maar as deel van ʼn groter beweging van werkgewers wat hul rol in die ekonomie ernstig opneem. Die dag se gesprekke het duidelik gewys: in ʼn onsekere wêreldklimaat is inligting, vaardighede en gemeenskapsamewerking die sterkste wapens teen ekonomiese broosheid.

“Solidariteit bied hierdie kongres aan, want ons glo dat elkeen wat wíl werk, moet kán werk – vry van inmenging van die staat,” sê Thackwray.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel