

Foto Krediet: Argief
Gekopieër
Gauteng in krisis onder Panyaza Lesufi se leiding
Deur Robin-Lee Maré
Onder premier Panyaza Lesufi se bewind het Gauteng die afgelope tyd toenemend in die nuus beland, en beslis nie om die regte redes nie. Van wanbestuur in die onderwys- en gesondheidsdepartemente tot ernstige vrae oor polisie-integriteit, dui die jongste gebeure op ʼn provinsiale regering wat sukkel om die fondament van basiese dienslewering in stand te hou.
Die jongste krisis tref die onderwyssektor in Gauteng, waar die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) aangekondig het dat onderwysposte gesny gaan word. Hierdie stap het groot onrus onder skole, ouers en onderwysers veroorsaak, aangesien dit die reeds brose onderwysstelsel verder onder druk plaas.
Volgens Johnell Prinsloo, onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is hierdie krisis lankal op pad. “As gevolg van wanbesteding en wanbestuur van fondse is die GDO toenemend in die spervuur oor die uitbetaling van fondse aan skole. Daar is ook gerugte dat die GDO se begroting moes pa staan vir die e-tolgeld wat Lesufi belowe het,” sê sy.
Prinsloo waarsku dat die gevolge van hierdie wanbestuur direk op leerders afspeel. “Ons wil nie 40 kinders in ʼn klas hê nie. Ons wil nie 30 graad R-leerders in ʼn klas hê nie. Op hierdie stadium blyk daar nie eers genoeg geld te wees om by die minimum bepalings uit te kom nie,” sê sy.
Die gesondheidstelsel in Gauteng is eweneens in beroering nadat Lesufi onlangs die hoof van die provinsiale gesondheidsdepartement, Lesiba Malotana, geskors het. Onder Malotana se leiding het die departement R725 miljoen van sy begroting oor gehad – geld wat nie aangewend is in ʼn stelsel wat reeds onder geweldige druk verkeer nie.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan SNI, is hierdie vlak van onderspandering onvergeefbaar. “Dit is geld wat lewens moes red. Deur dit nie te spandeer nie, gaan mense dood,” sê hy.
Du Buisson sê verder dat die ondersoeke wat die Tembisa-plundering blootgelê het, bewys dat Malotana duidelik nie beheer oor sy departement gehad het nie. “Ons kan maar net bly wees hy is nou weg, maar solank as wat die ANC in Gauteng aan die stuur is, sal dit waarskynlik nie beter gaan nie,” voeg hy by.
Intussen het nóg ʼn wolk oor Gauteng saamgetrek ná berigte dat dossiere van die KwaZulu-Natalse polisie, wat verband hou met die Madlanga-kommissie se ondersoek na korrupsie in die polisie, na Gauteng oorgeplaas is. Hierdie skuif wek kommer oor moontlike politieke inmenging en die risiko dat ondersoeke vertraag of selfs stilgemaak kan word.
Volgens Renate Pieterse, Solidariteit se netwerkkoördineerder van die openbare sektor, is die probleem sistemies. “Die polisie is vrot van bo af. Daar word mense van buite aangestel in hoër posisies deur politieke aanstellings. Ons sit met die hoogste misdaadsyfer nog ooit in die polisie se geskiedenis, en die publiek se vertroue in die polisie is seker ook die laagste wat dit nog ooit was,” sê sy.
Lesufi se termyn as premier word al hoe meer deur wanbestuur, politieke inmenging en ʼn gebrek aan aanspreeklikheid gekenmerk.
Waar Gauteng eens as die ekonomiese en administratiewe hart van Suid-Afrika bekend gestaan het, blyk dit nou dat basiese dienste en openbare instellings onder sy leiding besig is om ineen te stort. Die vraag bly: Hoe lank nog kan Gauteng hierdie koers volhou voordat die skade onherstelbaar is?