

Foto Krediet: ChatGTP
Gekopieër
Hoe ‘plofbaar’ is die vrag wat die Russiese vliegtuie na SA vervoer?
Deur Leré Nel
Sommige Suid-Afrikaners is al vir etlike maande agterdogtig oor Russiese vliegtuie wat hier op ons bodem land en weer opstyg. Terwyl president Cyril Ramaphosa en die ANC-regering na strooihalms gryp om ʼn handelsooreenkoms met die VSA te probeer sluit en halfgebakte pogings aangewend word om oor die invoertariewe te onderhandel, is die jongste onthullings oor hierdie vliegtuie nóg ‘n ernstige diplomatieke knou.
Nie net verskerp dit vrae oor die aard van Suid-Afrika se bande met Rusland nie (onthou die Lady R-voorval), maar die onthullings betrek ons selfs by ʼn berugte Libiese krygsheer. Daar word veral bespiegel oor die vrag van ʼn Russiese vliegtuig wat in Upington in die Noord-Kaap geland het.
ʼn Onlangse berig deur Rapport vermeld dat hierdie Ilyushin IL-76-vragvliegtuie dalk gebruik is om helikopters na ʼn Libiese krygsheer uit te voer, wat hierdie helikopters glo as deel van sy milisie gebruik.
So wat het werklik gebeur?
Rapport berig verskeie voormalige Suid-Afrikaanse Gazelle-helikopters is die afgelope paar maande op ‘n geheimsinnige wyse na Libië uitgevoer – blykbaar vir die gebruik van die omstrede generaal Khalifa Haftar, ’n voormalige bondgenoot van Muammar Gaddafi. Die helikopters, wat vroeër as burgerlike vliegtuie in Suid-Afrika geregistreer was, is vermoedelik deur ’n Russiese Ilyushin IL-76-vragvliegtuig van die maatskappy Abakan Air vervoer.
Abakan Air is volgens hierdie berig, geskryf deur joernalis Erika Gibson, deur die VSA geswartlys vanweë sy betrokkenheid by die vervoer van militêre toerusting aan groepe soos die Wagner-huurlingmag en die Africa Corps. Dit het gelei tot ernstige vrae oor hoe dié vliegtuig gemagtig was om enigsins in Suid-Afrika te kon land.
Is dit werklik verdag?
Solidariteit het met Kobus Marais, voormalige skaduminister van verdediging en militêre veterane, gaan gesels om agter die kap van die byl te kom.
Volgens Marais blyk daar vir nou geen bewyse te wees van enige onwettige optrede of ongerymdhede nie.
“Dit blyk dat die helikopters waarvan daar sprake is, burgerlike helikopters is wat deur ’n privaat eienaar verkoop en uitgevoer is,” verduidelik Marais. “Daar is tans niks wat aandui dat die transaksie onwettig was nie. Dit blyk dat die transaksie ’n gewone uitvoertransaksie was. Dit blyk dat die Libiese kopers moontlik ná die tyd platforms op die helikopters gesit het en die deure afgehaal het ten einde dit te verander in militêre vaartuie – maar dit is buite Suid-Afrika se beheer.”
Hy sê hoewel daar VN-sanksies is wat die uitvoer van militêre toerusting aan Haftar verbied, is burgerlike helikopters en vaartuie nie daarby ingesluit nie. Indien die helikopters later in Libië omskep is vir militêre gebruik, is Suid-Afrika nie aanspreeklik daarvoor nie.
“Hierdie Ilyushin-vragvliegtuie se roetes werk gewoonlik amper soos dié van vragmotors,” sê Marais. “Hulle laai vragte op en af op verskillende plekke. Dis moontlik dat van die vragte nie eens in Suid-Afrika gelaai is nie. Ons weet dat daar van hierdie Ilyushin-vliegtuie uit Botswana ook gevlieg het – so dit is moontlik dat die helikopters eintlik uit Botswana na Libië vervoer is, nie uit Suid-Afrika uit nie. Hoe dit ook al sy – op hierdie stadium is daar geen bewyse van onwettige aktiwiteit nie.”
Barend Smit, netwerkorganiseerder van Verdediging en Lugvaart by Solidariteit, sê dat Rusland se vlieëniers, weens die oorlog in Oekraïne en sanksies teen hulle lugmag, waarskynlik nie meer in die Europese lugruim hulle vaardighede kan opskerp nie en dat dit moontlik is dat hulle dus hulle BRICS-bande met Suid-Afrika gebruik vir oefenvlugte en logistieke roetes.
’n Diplomatieke kniehalter
Alhoewel klinkklare bewyse van onwettige optrede nog ontbreek, lê die probleem onder meer in die persepsie van Suid-Afrikaners en veral die buiteland. Suid-Afrika se vriendskap met Rusland is nie juis iets wat ons behoort uit te basuin nie – veral nie in hierdie sensitiewe tyd terwyl die Suid-Afrikaanse regering verleë is oor strafmaatreëls en -tariewe wat deur die VSA ingestel is nie – strafmaatreëls wat juis ingestel is weens Suid-Afrika se anti-Westerse buitelandse beleid.
“Selfs al blyk dit nie dat hierdie vliegtuie in ons lugruim en die helikopter-transaksies onwettig is nie, komdit baie verdag voor,” sê Smit.
“Die blote feit dat Suid-Afrika Rusland en Abakan Air – ’n maatskappy waarteen die VSA sanksies het – toelaat om hier te vlieg en te land, skep die indruk dat ons Rusland ondersteun ten spyte van sanksies, en sal waarskynlik net tot verdere diplomatieke skade tussen Suid-Afrika en die VSA (ook sommige EU-lande) lei,” waarsku hy.
En dít op ʼn baie kritieke tyd wanneer ons eerder ons beste voetjie voor moet sit.
Wat tegnies gesproke dalk ’n onskuldige privaat transaksie was, het die potensiaal om verdere skade aan Suid-Afrika se (reeds swak) internasionale beeld aan te bring. Ongelukkig tel persepsies baie wanneer dit by internasionale betrekkinge kom.
Soos Marais dit stel: “In internasionale betrekkinge gaan dit nie altyd oor wat waar is nie, maar oor wat mense dínk waar is.”
En op hierdie stadium lyk dit asof Suid-Afrika se vlug na goeie verhoudinge met veral die VSA nie sonder turbulensie gaan wees nie.