

Foto Krediet: Okay deer
Gekopieër
Kommer oor departement talle onderwysposte in Gauteng wil sny
Solidariteit neem met kommer kennis van die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) se voorneme om met grootskaalse besnoeiing van poste by skole in die provinsie vorendag te kom.
Sover bekend word veral laerskole in die provinsie hierdeur geraak en word kleiner departementele begroting as die rede voorgehou.
Johan Botha, hoof van Solidariteit se onderwysernetwerk, sê hierdie eensydige wysiging van die begroting bedreig onderwysers se werksekuriteit en sal skole se eie begrotings onder geweldige druk plaas.
“As poste deur die departement gesny word, dan verskuif die druk na ‘n skoolbeheerliggaam en daarvandaan na die ouers wanneer skoolfondsverhoging die enigste uitweg word. Om op hierdie tydstip besnoeiings te eis kan sorg dat skole se begrotingsprosesse vir volgende jaar erg ontwrig word.
“Natuurlik is onderwysers se loopbane op die spel en moet daar onthou word dat ‘n onderwyser se pos nie net hom of haar nie, maar die onderrig van nagenoeg 35 leerlinge in ‘n klas raak,” sê Botha.
Volgens inligting word skole met die sny van tussen twee tot sewe poste bedreig en teen gister het verskeie skole in die provinsie al kommunikasie daaroor ontvang.
Skole moet te midde hiervan boonop voorsiening vir verpligte Graad R-onderrig maak.
Met die ernstige gevolge in ag geneem vra Solidariteit deeglike heroorweging van die departement om die skade wat die besnoeiing van onderwysposte gemeenskappe berokken te voorkom.