

Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Madlanga-kommissie en die polisiediens: ʼn Vis wat van sy kop af vrot
Deur Robin-Lee Maré
Die Madlanga-kommissie, amptelik die regterlike kommissie van ondersoek na kriminaliteit, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel, is in Julie 2025 deur president Cyril Ramaphosa ingestel ná bewerings van inmenging en korrupsie in die polisie.
Hierdie volg ná die bewerings van luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi, die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, dat daar noue bande tussen politici, senior polisielede en misdaadnetwerke bestaan. Die minister van polisie, Senzo Mchunu, is gevolglik op spesiale verlof geplaas sodat hy nie die ondersoek kan beïnvloed nie.
Renate Pieterse, Solidariteit se netwerkkoördineerder van die openbare sektor, meen dat die Madlanga-kommissie bloot nie ʼn ondersoek is nie, maar ʼn blootlegging van strukturele verval binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
“Ons sit met die hoogste misdaadsyfer nog ooit in die polisie se geskiedenis, en die publiek se vertroue in die polisie is waarskynlik op die laagste vlak nóg,” sê sy.
Watter bewerings word teen minister Mchunu gemaak?
- Politieke inmenging: Hy het glo onwettig beveel dat die Political Killings Task Team (PKTT) ontbind moet word.
- Sabotasie van ondersoeke: Meer as 121 aktiewe dossiere is sonder magtiging uit KwaZulu-Natal verwyder en in Pretoria gehou. Hierdie het ondersoeke tot stilstand gebring.
- Bande met misdaadnetwerke: Kommunikasie, insluitend WhatsApp-boodskappe, koppel hom glo aan misdaadfigure.
- Oorskryding van gesag: Hy het volgens die nasionale polisiekommissaris, generaal Fannie Masemola, die grondwetlike skeiding tussen beleid en operasionele beheer oortree.
“Die polisie is vrot van bo af”
Volgens Pieterse wys die gebeure voor die Madlanga-kommissie op ʼn dieper, sistemiese krisis binne die SAPD. “Die gevolge van wat in die polisie aangaan, kom nou duidelik na vore. Dit wys hoekom die polisie is waar dit is,” sê sy.
Sy sê loopbaanpolisiebeamptes is moedeloos en politieke aanstellings van buite die diens, ondermyn die stelsel. As voormalige polisiebeampte beklemtoon sy hoe die moraal van laerrangbeamptes vernietig is weens ʼn gebrek aan bevorderingsgeleenthede en swak vergoeding.
Die spoor van WhatsApps en die pad vorentoe
Pieterse glo indien die bewyse in Mchunu se WhatsApps waar is, dit ernstige gevolge behoort te hê.
“As dit wat daarin genoem word waar is, moet hy aangekla word en voor ʼn hof verskyn – dit is hoogverraad. Ek glo ook nie hierdie bewerings sou gemaak word as daar nie bewyse is nie,” sê sy.
Sy verduidelik dat die polisie oor die nodige middele beskik om die waarheid vas te stel deur middel van tegniese samewerking met diensverskaffers en interne ondersoekeenhede.
Volgens haar is dit egter duidelik dat die hele stelsel van bo tot onder hervorm moet word, met meriete eerder as politieke lojaliteit as die maatstaf vir aanstellings.
“Politiek en polisie hoort eenvoudig nie saam nie. Die beamptes wat nog probeer om die wa deur die drif te trek, is besig om af te tree, en die wat oorbly, is ʼn jonger generasie sonder sterk leiers en sonder behoorlike opleiding. Dis gevaarlik vir elke Suid-Afrikaner wat op die polisie vir beskerming staatmaak,” waarsku sy.
Pieterse doen ʼn beroep op die regering om die kommissie se bevindings ernstig op te neem en werklike hervorming in die SAPD teweeg te bring.
“Sonder eerlike en bekwame leierskap in die polisie,” sê Pieterse, “sal geen kommissie ooit vrede en veiligheid in hierdie land kan herstel nie.”