loading
avatar
Blogs
3 dae gelede
wat-my-internskap-my-geleer-het

Foto Krediet: Solidariteit | Liané Marx

Wat my internskap my geleer het

Deur Liané Marx

Toe ek pas aan die begin van my loopbaan gestaan het, het ek geweet ek gaan baie leer, maar ek het nie voorsien hóéveel ek sou groei nie. Elke taak, projek en interaksie het my gevorm en my gehelp om my plek in die professionele wêreld te vind. Vandag kyk ek met trots terug op die vaardighede wat ek ontwikkel het en hoe dit my as mens versterk het.

As ʼn skoolverlater het ek besef ek moet doelbewus werk aan die uitbou van vaardighede wat ek op my CV kan noem. Hierdie internskap was die perfekte geleentheid om op praktiese ervaring op te doen en nuwe dinge te leer wat my toekoms sou vorm. Deur hierdie ervaring het ek my stem gevind. Ek het vinnig geleer watter take vir my lekker was en watter my meer uitgedaag het. Ek moes leer om kreatief te dink, om insette te lewer met selfvertroue, en ek het ontdek wat dit beteken om strategies te dink.

Aanvanklik het ek geskrik wanneer die telefoon lui, maar vandag antwoord ek dit met selfvertroue. My ervaring in kliëntediens het my geleer om professioneel, empaties en kalm te kommunikeer – beide telefonies en per e-pos. Ek moes vinnig leer om te luister, kritiese denke toe te pas in dit wat van my verwag word, en om behoeftes duidelik te kommunikeer. Ek het ʼn fyn oog vir detail ontwikkel en geleer om inhoud sorgvuldig na te gaan en altyd hoë gehalte werk te lewer. Selfs wanneer sekere take my nie van die begin af geboei het nie, het ek besef dat elke taak ʼn geleentheid is om te groei, en ek het waardevolle vaardighede daaruit ontwikkel.

Van navorsing en datavaslegging tot die beantwoording van e-posse en aanbied van hulp met projekbeplanning – my blootstelling was uiteenlopend en vol nuwe geleenthede. Ek was selfs bevoorreg om unieke netwerkgeleenthede by te woon waar ek meer oor die groter wêreld van werk kon leer. As deel van ʼn span het ek die geleentheid gekry om my eie sterkpunte tot voordeel van die hele span te gebruik.

Hierdie verskeidenheid verantwoordelikhede het nie net my vaardighede gevorm nie, maar ook my karakter versterk. Ek het geleer hoe om myself professioneel te handhaaf, hoe om aanpasbaar te wees, en hoe om met trots te sê: “Ek is deel van die werkwêreld en ek groei elke dag.” Hierdie reis het my nie net ʼn beter werknemer gemaak nie, maar ook ʼn sterker en meer bewuste mens.

Ek beveel ʼn internskap aan vir enigiemand wat bereid is om te leer, te groei en te ontwikkel. Dit slyp nie net jou vaardighede nie, maar help jou ook om betekenisvolle verhoudings in die werkplek te bou.

Ek glo: Die wat wíl werk, móét kan werk. Gryp elke geleentheid aan en begin leer! Jy gaan eendag baie dankbaar wees.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel