Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
#JouYsters se beurswenner – ʼn Jong man met ʼn passie vir ambagte
Brandon Crous, ʼn talentvolle 18-jarige, het van kleins af ʼn liefde vir voertuie en tegniese werk ontwikkel terwyl hy saam met sy pa aan karre gewerk het. Sy passie vir die ambagswêreld het hom onlangs ʼn besondere geleentheid gebied; hy is die wenner van Solidariteit se #JouYster-studiebeurslening.
Hierdie beurs is deel van Solidariteit se Ambagnetwerk, wat jaarliks meer as R10 miljoen aan studiegeleenthede vir jong ambagslui beskikbaar stel. 2024 se #JouYster-wenner, Stephen Bothma kies die gesogte kandidaat vir die studiebeurslening. Lees meer hier oor die #JouYster-wenner vir 2024.
Die netwerk is daarop gemik om talentvolle individue met ʼn passie vir ambagte, maar sonder die nodige fondse, te ondersteun.
Volgens Dirk Smit, organiseerder van die Ambagnetwerk, word die geskikte kandidaat gekies op grond van hul toewyding en liefde vir ambagte, sowel as hul bereidwilligheid om hard te werk.
Brandon se aansoekproses vir die studiebeurslening was eenvoudig, hoofsaaklik as gevolg van die uitstekende ondersteuning van Solidariteit se span. Hy is dankbaar vir die geleentheid wat aan hom gebied is en sien uit daarna om sy studies by Sol-Tech in 2025 aan te pak.
“Soveel mense het my gehelp om hierdie droom te verwesenlik, en ek is oneindig dankbaar. Ek hoop om eendag ook ander te help, soos ek gehelp is,” sê Brandon.
Verlede jaar se wenner, Delarey van der Merwe, het reeds groot sukses behaal. Hy het sy kursus in pas-en-draai met toewyding aangepak en pluk nou die vrugte daarvan. Hy bevestig dat die beurslening die sleutel tot sy toekoms was, aangesien hy sonder Solidariteit se hulp nie sou kon studeer nie.
Die #JouYster-beurslening bied dus nie net ʼn finansiële hupstoot nie, maar dien as ʼn lewensveranderende geleentheid vir jong ambagslui om hul drome te verwesenlik. Brandon Crous is ʼn bewys van die potensiaal wat binne Suid-Afrika se jeug lê – en die waarde van ondersteuning om hierdie potensiaal te ontsluit.