
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Hoe jy tegnologie in die werwingsproses kan implementeer
Deur René Brown
Wanneer ʼn organisasie ʼn vakante pos moet vul, kan dit in ʼn geskarrel ontaard om die bes moontlike kandidaat so vinnig as moontlik aan te stel. Anders as in die verlede, is daar tans ʼn magdom tegnologiese hulpbronne tot die beskikking van werwers om die proses te bespoedig en meer effektief te maak.
Hierdie tegnologiese ontwikkelings kan ʼn deurslaggewende rol speel in jou organisasie se werwingsproses:
Aansoekeropsporingstelsels (ATS)
Aansoekeropsporingstelsels (ATS) se hoofdoel is om aansoekers van ʼn pos se data te organiseer en te berg. Aansoekers se inligting kan georganiseer word volgens spesifieke kriteria soos kwalifikasies en ervaring, wat werwers toelaat om die beste kandidate met gemak te identifiseer. ʼn Noemenswaardige statistiek volgens ʼn onlangse opname dui daarop dat meer as 95% van maatskappye op die ‘Fortune 500’ lys gebruik maak van aansoekeropsporingstelsels.
Voorspellende data-analise
Werwingsagteware het die vermoë om data te analiseer en daarvolgens voorspellings te maak oor die toekomstige behoefte van ʼn organisasie. Met ander woorde, hierdie sagteware kan voorspel wanneer ʼn nuwe pos geskep of gevul gaan moet word. LinkedIn wys uit dat hierdie benadering werwers toelaat om op ʼn pro-aktiewe wyse toekomstige kandidate te identifiseer en sodoende die werwingsproses aansienlik vinniger uit te voer.
Eenrigting-videosagteware
Eenrigting-videosagteware stel organisasies in staat om die eerste ronde van die onderhoudproses aanlyn te voltooi. Hierdie sagteware voer ʼn stel voorafbepaalde vrae aan die aansoekers van ʼn pos, wat dan binne ʼn spesifieke periode beantwoord word terwyl ʼn video-opname van die onderhoud gemaak word. Een plaaslike voorbeeld van hierdie sagteware is Wamly, wat werwers ook toelaat om aansoekers se vaardighede te toets deur middel van veelvuldige keusevrae. Daarvolgens kan kandidate wat nie oor die voldoende vaardighede en kennis beskik nie, vroeg in die werwingsproses uitgeskakel word.
Hierdie stap is tot voordeel van beide die werwer, asook die werksoeker. Kandidate wat nie vir die pos geskik is nie, kan maklik hier uitgeskakel word en werksoekers hoef nie onnodig verlof in te sit vir ʼn onderhoud wat nie tot meer gaan lei nie.
Skakeltegnologie vir agtergrond verifikasie
Skakeltegnologie versamel data van verskeie bronne en verbind dit met mekaar om enige vorm van bedrog uit te skakel. LinkedIn verduidelik dat skakeltegnologie op dieselfde wyse enige vorm van oneerlikheid in die aansoekproses kan uitskakel, omrede kandidate geen inligting soos kwalifikasies of werksondervinding binne die stelsel kan wysig nie.
Kletsbotte
Navrae van aansoekers is onder meer een van die tydrowende administratiewe take wat werwers daagliks teëkom. Hierdie taak kan moeiteloos deur kletsbotte uitgevoer word deur outomatiese terugvoer vir algemene vrae aan aansoekers deur te gee.
Nie net kan hierdie tegnologiese ontwikkelings die werwingsproses makliker en vinniger maak nie, maar dit kan ook die kans vir ʼn suksesvolle uitkoms aansienlik verbeter.
ʼn Netwerk van werk is as’t ware tot jou beskikking en lede van Solidariteit geniet ook addisionele voordele, soos toegang tot nuwe tendense en verwikkelinge binne jou beroep. Hierdie voordeel staan bekend as “beroepsnetwerke”.
Solidariteit bring werkgewers en werknemers bymekaar op ons aanlyn werkfasiliteringsplatform, gratis en in Afrikaans!
Klik hier om jou gratis profiel te skep.