

Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Hoe om “nee” te sê sonder om jou professionele verhoudings te skaad
Deur Anja van den Berg
Om “nee” te sê by die werk is vir die meeste van ons nie maklik nie. Ons voel dikwels skuldig om ʼn kollega teleur te stel of bang dat ons in ʼn negatiewe lig beskou sal word. Ons stem maklik in vir ekstra werk uit vrees vir sosiale afkeer of omdat ons bang is om ʼn nuwe moontlikheid mis te loop. Maar deur altyd “ja” te sê, oorlaai ons onsself en kan ons selfs uitbrand. Die geheim lê daarin om “nee” te sê op ʼn manier wat jou werkslading bestuur en terselfdertyd jou verhoudings by die werk positief behou. Hier is ‘n paar praktiese wenke om dit reg te kry.
1. Weeg die versoek versigtig op
Voordat jy antwoord, wag ʼn oomblik en oorweeg die versoek deeglik. Bepaal hoe interessant, boeiend of opwindend die geleentheid is, en neem in ag of dit vir jou haalbaar sal wees om te help. Kyk na jou huidige werkslading en bepaal of hierdie taak regtig by jou prioriteite inpas. Oorweeg ook die konteks en tydraamwerk. Is dit ʼn klein takie wat nie te veel tyd in beslag sal neem nie? Of is dit ‘n langertermynprojek? Karen Dillon, medeskrywer van How Will You Measure Your Life?, sê datmense dikwels geneig is om werksversoeke te aanvaar weens ʼn behoefte aan sosiale aanvaarding en die vrees om misgekyk te word vir toekomstige geleenthede. Ons energie en tyd is egter uitputbare bronne, so wees oordeelkundig met albei. As jy besluit om die versoek weg te wys, moet jy jou huidige prioriteite en spertye duidelik aandui.
2. Wees reguit en duidelik oor jou redes
Dillon raai aan dat ʼn mens eerlik en reguit moet wees oor jou redes wanneer jy “nee” sê. In plaas van flou verskonings wat jou onbetroubaar kan laat lyk, verduidelik eerder reguit dat jy in daardie stadium nie kan help nie as gevolg van ander werksverpligtinge. ʼn Direkte benadering versterk jou geloofwaardigheid en stel ander gerus dat jy konsekwent en betroubaar is wanneer jy toegewyd werk aan ʼn taak.
3. Bied alternatiewe maniere aan om betrokke te wees
As jy nie die taak volledig kan aanvaar nie, bied aan om kleiner bydraes te maak, soos om dinkskrums by te woon of ʼn voorlegging deur te lees. Toon ʼn gebaar wat wys dat jy steeds gewillig is om te help, al kan jy nie ten volle betrokke raak nie. Volgens Dillon kan hierdie aanbod jou posisie as ʼn spanlid versterk, en dit wys dat jy steeds samewerking prioritiseer. Só behou jy positiewe verhoudings en wys jy jou bereidwilligheid om jou deel te doen.
4. Wys empatie maar wees duidelik oor jou “nee”
Ons kommunikeer nie net met woorde nie, maar ook met liggaamstaal en stemtoon. Probeer sensitief wees en empatie wys met jou gesigsuitdrukkings en stemtoon. Behou ʼn vriendelike en deernisvolle houding, maar wees versigtig om nie vals hoop te skep nie. As jou “nee” huiwerig klink of as jy iets sê soos “kom ons kyk of ek dit kan inpas”, sal dit die ander persoon aanmoedig om weer en weer te vra met die hoop dat jy van plan sal verander. Dié dinamika kan verwarring veroorsaak en juis jou verhouding met jou kollega vertroebel.
5. Wees voorbereid op moontlike teleurstelling
Die reaksie op jou “nee” sal nie altyd positief wees nie. Holly Weeks, die outeur van Failure to Communicate, waarsku dat kollegas aanvanklik teleurgesteld mag wees, maar dat jou eerlikheid en respek vir jou eie werkslading oor die lang termyn waarde toevoeg. Dit voel dalk nie op daardie oomblik so nie, maar die vermoë om te prioritiseer en duidelik te wees oor jou fokusareas versterk jou reputasie as iemand wat jou tyd en energie doeltreffend bestuur.
Onthou, dit is heeltemal aanvaarbaar om grense te stel. Om “nee” te sê, is nie altyd maklik nie, maar dit is ʼn noodsaaklike vaardigheid wat jou uiteindelik sal help om ʼn gesonder balans in jou werk- en persoonlike lewe te bereik. Solidariteit glo dat welstand ʼn leefstyl is van selfverantwoordelikheid, balans en persoonlike ontwikkeling in al die dimensies van die lewe.
Solidariteit bied beskerming teen uitbuiting en onbillike arbeidspraktyke. Sluit aan as lid van Solidariteit en geniet hierdie beskerming, asook talle ander voordele. Lees hier hoe Solidariteit vir jou waarde toevoeg.