
Gekopieër
Welstand by die werk
Deur Nico Strydom
Om in werknemers se welstand te belê hou nie net vir die werkers voordele in nie maar ook vir die werkgewer.
Volgens ‘n nuwe verslag deur Universum Global verwag studente en jong beroepslui dat werkgewers ondersteuning moet bied om welstand in die werkplek te bevorder. Hulle is van mening dat dit ‘n prioriteit vir werkgewers moet wees en dat dit op sy beurt ook produktiwiteit sal verhoog.
Vorige studies het ook al bevind dat ‘n gebrek aan welstand tot verhoogde siekteverwante afwesigheid kan lei en dus ‘n groot impak op ‘n werkgewer kan hê.
Universum se verslag wys ook daarop dat die meeste van die respondente van mening is dat werkgewers nie voldoende na hul werknemers se welstand omsien nie. “Jonger beroepslui wil vir maatskappye werk wat hulle holisties ondersteun – werkgewers wat toegewyd is aan hul loopbaanontwikkeling en hul emosionele gesondheid en welstand,” sê Richard Mosley, kliëntedirekteur by Universum.
Die meeste van die respondente is onder die indruk dat daar ‘n blywende stigma sal kleef indien hulle hul geestesgesondheidsuitdagings in die werkplek opper. Meer as ‘n derde van respondente het aangedui hulle voel “meeste van die tyd” of “altyd” gestres of angstig, maar tog het minder as die helfte van hulle vir ondersteuning by die werk gevra. Net meer as een derde van diegene wat ondersteuning gevra het, het die ondersteuning gekry wat hulle nodig gehad het.
Hoe kan werkgewers hul werknemers bystaan?
Stel vas hoe kantoorontwerp, soos die uitleg van werkstasies, werknemers se produktiwiteit en welstand beïnvloed, sê Florence Jonasson, werkgewershandelsmerkadviseur by Universum.
“Moenie net welstandsvoordele aanbied nie, bevorder dit. Die oorweldigende meerderheid van werkgewers bied een of ander soort ondersteuning vir geestesgesondheid en emosionele welstand, maar tog was net sowat die helfte van die beroepslui wat ons ondervra het bewus van werknemerswelstandsinisiatiewe.”
Volgens Jonasson is dit ook belangrik vir werkgewers om te sorg dat stres en uitbranding nie die winste van leierskapontwikkelingsprogramme in die wiele ry nie. “Leierskapontwikkelingsprogramme moet ‘n selfversorgingskomponent insluit, wat jong beroepslui help om die emosionele las van bestuursposisies te bestuur, en aan hulle te kenne gee dat om ondersteuning vir welstand te soek ‘n positiewe, proaktiewe stap is.”
Werk aan jou eie welstand
Solidariteit streef daarna om Suid-Afrika se werkplekke gesonder en veiliger te maak en om lede en die gemeenskap toe te rus om sterker in die nuwe wêreld van werk te wees. Dit word onder meer gedoen deur nuwe netwerke van beroepsgildes wat mense aan mekaar koppel en om sy lede in staat te stel om self die verantwoordelikheid op hulle te neem om hulle in hul beroepe te beskerm, te bemagtig en skeppend te wees.
Solidariteit glo dat welstand ‘n leefstyl is van selfverantwoordelikheid, balans en persoonlike ontwikkeling in al die dimensies van die lewe.
Bron:
Universum Global: https://universumglobal.com/