Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Hoe KI-gebaseerde platforms produktiwiteit verbeter!
Deur Karen Waldeck
Wat is KI-instellings? Kunsmatige intelligensie (KI) verwys na die simulasie van menslike intelligensieprosesse deur masjiene, veral rekenaarstelsels. Net soos wat ons op ʼn daaglikse basis groot hoeveelhede data analiseer deur alles wat ons doen, net so ook is data die hart van alle KI-stelsels. Alhoewel KI deur baie besighede en werknemers as ʼn bedreiging gesien word, het dit tog groot voordele. Deur KI te gebruik om data te analiseer, kan besighede:
- 1. patrone identifiseer – KI-algoritmes kan tendense en afwykings in datastelsels opspoor, wat organisasies help om hulle kliënte en werknemers beter te verstaan;
- 2. uitkomste voorspel – voorspellende analise stel besighede in staat om te bepaal wat in die toekoms van die besigheid kan gebeur. Dit kan leiers help om ingeligte besluite te neem; en
- 3. oplossings vir probleme – deur oplossings op grond van data-insigte te vind, word werknemers se betrokkenheid en produktiwiteit verbeter.
In 2012 het die McKinsey Global Institute (MGI) beraam dat werknemers ongeveer een dag elke werksweek spandeer om inligting te soek en in te samel. Met die regte databasisse en KI word daardie tyd beskikbaar gestel vir strategiese denke op hoër vlak, en produktiwiteit kan met soveel as 20-25% verhoog.
Hoe kan dit tot verbeterde kommunikasie en samewerking lei?
KI-gebaseerde platforms bied innoverende oplossings wat kommunikasie en samewerking oor verskeie spanne verbeter. Deur van hulpmiddels soos geselsbots, virtuele assistente en slim skeduleringstelsels gebruik te maak, kan organisasies:
- 1. hulle produktiwiteit verhoog – deur van KI gebruik te maak, kan werkers vrae stel wat dadelik beantwoord word. Dit verlaag die tyd wat werk stilstaan om eers navorsing te doen;
- 2. afstandsamewerking vergemaklik – KI verbeter hulpmiddels soos videokonferensies en projekbestuursagteware, wat dit makliker maak vir spanne om saam te werk ongeag waar hulle is;
- 3. roetinetake outomatiseer – deur herhalende take te outomatiseer, kan werknemers fokus op werk wat hoër prioriteit geniet, wat ook produktiwiteit regstreeks beïnvloed.
Platforms soos Microsoft Teams en Slack maak byvoorbeeld gebruik van KI om besprekings op te som, onthounotas te gee oor watter take nog gedoen moet word, en te verseker dat samewerking sonder onderbrekings verloop. Hierdie verbeterde kommunikasie dra by tot ʼn meer produktiewe werksomgewing.
Verhoogde werknemerbetrokkenheid en -tevredenheid
Werknemerbetrokkenheid is ʼn belangrike faktor in algehele produktiwiteit. KI-gebaseerde platforms kan persoonlike ervarings bied om werkstevredenheid te verhoog, wat tot verbeterde produktiwiteit sal lei. Dit gee ook aan alle werknemers die geleentheid om by projekte betrokke te wees.
Besluitnemingsondersteuning
Datagedrewe besluitneming is noodsaaklik vir die groei en produktiwiteit van besighede. KI-gebaseerde platforms verbeter hierdie proses deur:
- 1. insigte te voorsien – gevorderde analise lewer uitvoerbare insigte uit komplekse datastelsels wat leiers in staat stel om vinnige en ingeligte besluite te neem;
- 2. scenario-beplanning – KI-instrumente kan potensiële besigheidscenario’s opstel wat leiers kan help om vir uitdagings en geleenthede voor te berei voordat hulle opduik; en
- 3. hulpbrontoekenning – KI-algoritmes optimaliseer taaktoewysings op grond van werknemers se vaardighede en beskikbaarheid, wat verseker dat projekte doeltreffend afgehandel word.
‘n Verslag deur IBM toon dat organisasies wat KI-gedrewe besluitneming toepas, ʼn 50%-verbetering in die kwaliteit van besluitneming kan verwag. Hierdie statistiek beklemtoon die transformerende impak van KI op doeltreffende besluitneming in die werkplek.
Soos organisasies toenemend KI-gebaseerde platforms aanvaar, word die verband tussen data en doeltreffendheid duideliker. Deur data-analise vir ingeligte besluitneming en ondersteuning van werknemers in hul daaglikse take te gebruik, is KI besig om ʼn groot rol te begin speel in die verbetering van werkplekproduktiwiteit.
In ‘n wêreld waar innovasie die sleutel tot oorlewing is, verbeter die aanvaarding van KI nie net produktiwiteit nie, maar berei dit organisasies ook voor om in die toekoms te floreer. Die vraag is nie of ons KI-tegnologieë moet aanvaar nie, maar hoe vinnig ons hierdie instrumente effektief in ons werkplekke kan integreer om hul volle potensiaal te ontsluit.
Solidariteit bied ʼn bymekaarkomplek vir werksgemeenskappe, waar hulle kan leer, netwerke kan vorm en nuwe werksgeleenthede kan ontdek. Hierdie gemeenskap is daargestel sodat jy in jou beroep bemagtig kan word en die toekoms met selfvertroue kan aanpak! Skep jou gratis profiel en sluit aan by hierdie gemeenskap.