
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Hoe vaar Solidariteit se hofsake teen die NGV-wet en Bela-wet?
Solidariteit wil die regte en vryheid van sy lede beskerm. Daarom beveg ons die omstrede wetgewing wat gesondheidsorg onvolhoubaar maak en Afrikaanse skole se selfstandigheid bedreig. Solidariteit se Regsfonds speel ʼn sleutelrol in die stryd vir ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir die Afrikaner-gemeenskap. Lees hier meer oor hoe jy as lid help om hierdie stryd voort te sit.
Deur Kyla-Ann du Toit
Solidariteit bly aan die voorpunt van die stryd teen twee van die mees omstrede wetgewings in Suid-Afrika: die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela). Hierdie wetgewing hou verreikende implikasies in vir gesondheidsorg en onderwys in die land.
Solidariteit se regspanne is egter hard aan die werk om die regte van sy lede en die Afrikaner-gemeenskap te beskerm en sodoende hierdie wetgewing in die hof te beveg.
NGV-wet: ʼn Bedreiging vir gesondheidsorg
Die NGV-wet, soos wat dit tans beplan word, dreig om gesondheidsorg in Suid-Afrika in ʼn finansieel onvolhoubare en burokratiese stelsel te verander. Nadat president Cyril Ramaphosa hierdie wet in Mei 2024 onderteken het, het Solidariteit hofstukke ingedien, en verskeie ander organisasies, insluitend die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika (Hasa), het intussen by hierdie regstryd aangesluit. Die hoofargument teen die NGV is dat die regering steeds nie duidelikheid gee oor hoe die stelsel gefinansier sal word of hoe dit volhoubaar bestuur gaan word nie.
Die hooggeregshof het ʼn onlangse uitspraak gelewer oor die hersienbaarheid van president Cyril Ramaphosa se ondertekening van die Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV). Die uitspraak volg op die aansoek van die Raad van Gesondheidsfinansiers (BHF) en die Suid-Afrikaanse Private Praktisynsforum (SAPPF) teen die president se ondertekening van die Wet kort voor die 2024-verkiesing.
“Solidariteit is verheug oor hierdie uitspraak. Dit is ʼn belangrike uitspraak en dit strook sonder twyfel met ons hofsaak waarin ons aanvoer dat die NGV-wet in sy geheel ongrondwetlik, onwettig en immoreel is,” het Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) gesê.
Du Buisson het ook opgemerk dat die regering, en nou spesifiek die president, geen poging aanwend om die rasionaliteit daarvan te bewys nie en dat dié uitspraak die onwerkbaarheid van die NGV beklemtoon. Die hof het ook artikels in die NGV-wet wat die regering die mag gee om dokters se werkplekke voor te skryf, as ongrondwetlik verklaar. Solidariteit het dié artikels oor die sogenaamde sertifikaat van behoefte (CON), wat as ʼn kernpilaar van ʼn sentrale NGV-stelsel beskou is, ook suksesvol in die hof uitgedaag.
Volgens Peirru Marx, Solidariteit se netwerkkoördineerder van die mediese sektor, staan Solidariteit nie alleen in die stryd teen die NGV nie en word sy saak deur hierdie jongste uitspraak versterk. “Die regering gaan na hulle insette móét luister en alternatiewe wat werkbaar en implementeerbaar is móét oorweeg. Daar moet opgetree word in die belang van pasiënte en beroepslui wat hierdie dienste moet lewer – nie in eiebelang nie,” sê hy.
Solidariteit se regspan is gereed om die hof te nader met die doel om hierdie wetgewing stop te sit voordat dit ʼn onomkeerbare impak op die gesondheidstelsel van die land en op die belastingbetaler se beursie het.
Bela-wet: Struikelblokke en oorwinnings
Die Bela-wetgewing is ʼn direkte bedreiging vir die selfstandigheid van skole, en veral Afrikaanse skole. Dit poog om die beheer oor taal- en toelatingsbeleide uit skole se hande te neem en aan die staat oor te dra. Solidariteit het van die begin af ʼn sterk standpunt teen dié wetgewing ingeneem en gemeenskappe, ouers en skole gemobiliseer om weerstand te bied.
Danksy Solidariteit se regsaksie is twee van die mees omstrede artikels in die wetgewing, wat taal- en toelatingsbeleide sou raak, vir nou suksesvol teruggehou. Hierdie oorwinning beteken dat skole steeds hul eie taalbeleid kan bepaal en dat Afrikaans as onderrigtaal nie sommer uit skole gedwing kan word nie. Tog is die stryd nog nie verby nie! Solidariteit bly waaksaam om verdere beperkings op onderrig in Afrikaans te voorkom.
“Ons is tans in ʼn wagproses. Indien die minister die riglyne publiseer terwyl ons wag op die norme en standaarde wat later vanjaar gepubliseer gaan word, kan ons dalk die hofaksie op ys plaas. As sy dit nie doen nie, sal ons haar hof toe neem,” sê Johnell Prinsloo, onderwysnavorser verbonde aan die SNI. “Ons kan nie toelaat dat die Bela-wet sonder sulke riglyne geïmplementeer word en dat amptenare met politieke agendas hul mag misbruik nie.”
Volgens Prinsloo maak die Grondwet voorsiening vir enkelmedium skole en dat die taal van onderrig ʼn keuse is, maar die Bela-wet respekteer dit nie. “Dit hou ʼn gevaar in vir Afrikaanse skole en moedertaalonderrig, en moet streng gereguleer word om te verseker dat onderwys en skole nie deur politieke amptenare gekaap word nie,” sê sy.
Die Solidariteit Regsfonds: ʼn kragtige wapen
Die Solidariteit Regsfonds speel ʼn deurslaggewende rol in hierdie, asook vele ander, hofsake. Hierdie fonds is gestig om die regte van Solidariteit-lede te beskerm en finansiering vir regsake teen die regering en ander instellings te verskaf. Dit het Solidariteit reeds in staat gestel om oorwinnings in sake rakende regstellende aksie, korrupsie en die wanbesteding van belastinggeld te behaal.
Deur lede se bydraes aan die Regsfonds kan Solidariteit voortgaan om regsgedinge te loods wat nie net die belange van individue beskerm nie, maar ook dié van die Afrikaanse kultuurgemeenskap. Van taalregte in skole en universiteite tot gesondheidsorg en arbeidsregtelike sake – die Regsfonds is ʼn noodsaaklike wapen in Solidariteit se stryd teen onreg.
Met ʼn volgehoue verbintenis tot geregtigheid en selfstandigheid, bly Solidariteit aan die voorpunt van die beskerming van sy lede se regte. Word vandag nog ʼn lid van die Solidariteit Regsfonds om jou en jou kinders se toekoms in Suid-Afrika te beskerm!